Paramedici moes Woensdagaand kophou nadat hulle nie net verskeie pasiënte op ʼn ongelukstoneel moes behandel nie, maar ook twee babaseuntjies wat nie tot by ʼn hospitaal kon wag nie, net daar op die toneel in die lewe moes help bring.
Leandré Spies, woordvoerder van Hartbeespoort Emergency Medical Services (HEMS), het gesê Miclane Hlongwane (28) se water het gisteraand gebreek en sy, haar man en haar suster het inderhaas na die Brits- provinsiale hospitaal vertrek.
Digby die Econo Langpiet-vulstasie op die R566, net buite Brits in Noordwes, was hulle egter in ʼn botsing met ʼn vragmotor betrokke.
Die passasiersdeur aan Miclane se kant van die bakkie is sodanig beskadig dat paramedici nie daardeur by haar kon uitkom nie. Haar man is dus eers behandel en daarna het ambulansassistente Monique Herbst en Jaco Henrico ingespring om Miclane met die bevalling te help. Die twee seuntjies is sonder voorval in die bakkie gebore en is saam met ma – wat ʼn kopwond opgedoen het – na die hospitaal geneem.
Terwyl die paramedici met die bevalling gehelp het, het hulle terselfdertyd besef dat daar nóg ʼn pasiënt – Miclane se suster – agterop die bakkie gesit het. Spies het gesê dié vrou het ʼn hoofbesering opgedoen en is ook na die hospitaal geneem.
Die vragmotorbestuurder is nie beseer nie.
Spies sê Herbst en Henrico is Donderdagmiddag terug na die hospitaal waar hulle geskenke vir die twee klein manne gaan aflaai het. Een van die babas word in hierdie stadium nog in die pediatriese saal versorg, maar albei is perdfris.
Die seuntjies het nog nie name nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
6 Kommentare
Ysters. Beide van julle. Repek. Was self 25 jaar in EMS gewees.
Hulle sal net moet toets die om seker te maak dat hulle nie met Vigs besmet is nie.