Tweeling sterf toe balkonreling meegee

Die balkonreling wat Donderdagaand by ʼn gebouekompleks in Shaka’s Rock meegegee het. (Foto: IPSS Medical)

Twee mense is dood en ʼn derde persoon ernstig beseer toe ʼn balkonreling Donderdagaand by ʼn gebouekompleks in Shaka’s Rock aan KwaZulu-Natal se Noordkus megegee het.

Die plaaslike koerant The North Coast Courier berig dat die slagoffers tweelingbroers was. Hulle het glo hul verjaardagpartytjie gevier en teen die balkonreling op die derde vloer geleun toe dit meegegee het. Hul name en ouderdom is nie bekend nie.

Die nooddiens IPSS Medical Search and Rescue is na die toneel ontbied waar hulle die drie mense in ʼn kritieke toestand aangetref het.

“IPSS Medical het die pasiënte van gevorderde lewensondersteuning voorsien en paramedici het hard gewerk om die pasiënte te stabiliseer,” het die nooddiens Donderdag gesê.

“Twee van die pasiënte se toestand het verswak en ondanks die beste pogings van almal op die toneel is albei dood verklaar.”

Die derde persoon is na ʼn nabygeleë hospitaal vir verdere behandeling geneem.

“Dankie aan al die paramedici wat na die toneel gekom het om te help en alles gedoen het wat hulle kon. Dankie ook aan die bure wat kom help het, dit gaan nie ongesiens verby nie en ons waardeer jul hulp,” het IPSS Medical gesê.

Maroela Media het ʼn navraag na die polisie gestuur en wag tans op hul terugvoer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Shakespeare ·

Hou NIKS van n balkon veral as kinders betrokke is nie. Sterkte.

Pierre ·

Lyk of die reling slegs op een punt bo vas gesit was en vermoedelik weg geroes het of nie ontwerp was om die gewig te dra nie

Sandra ·

Ai dis baie tragies. My simpatie gaan aan hulle ouers en familie vir die groot verlies

Misky ·

Dis bitter tragies. Daai arme ouers wat so groot verlies nou ly.

Elmarie ·

Gebrek aan onderhoud van geboue /strukture? Jammer vir familie en vriende

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.