Tweeling wéér as hoofleiers verkies

Nandi en Clement Roodt. (Foto: Verskaf)

’n Tweeling van Bloemfontein is weer eens as hoofseun en hoofmeisie van hul skool verkies nadat hul ook op laerskool dié belangrike taak saam-saam aangepak het.

Die 17-jarige Clement en Nandi Roodt van Fichardtpark in Bloemfontein sal in 2019 die voortou by Hoërskool Fichardtpark neem nadat hul ook in 2014 as hoofleiers van die Fichardtpark Primêre Skool gedien het.

“Ons is baie bevoorreg,” het Joharita Roodt, die tweeling se ma, Donderdagoggend aan Maroela Media gesê.

Clement en Nandi se ouboet, Arno, is ook in sy matriekjaar as hoofseun van Fichardtpark Hoërskool verkies. Vandag is Arno ’n tweedejaar BCom Regte-student aan die Universiteit van die Vrystaat.

’n Trotse dog beskeie Roodt skryf haar kroos se sterk leierseienskappe toe aan die feit dat sy en haar man, Danie, ’n dominee in die stad, hul kinders individualisties probeer grootmaak. “Ons glo nog altyd dat hulle ’n mening mag hê en ons redeneer graag in ons huis.” Roodt vertel dat haar kinders ook van kleintyd aan redenaarsgeleenthede deelneem het en glo dat dit beslis met hul selfvertroue gehelp het.

Die aankondiging dat Clement en Nandi as hoofseun en hoofmeisie vir 2019 verkies is, was beslis ’n groot verrassing vir hul gesin, sê Roodt. Die tweeling is verlede week as hoofleiers aangewys tydens ’n spesiale geleentheid waar dié skool se huidige leerderraad die leisels aan die nuutverkose leerderraad oorgegee het.

Sy vertel dat Clement tydens dié geleentheid op ’n rugbytoer in Ierland was en nie by die geleentheid kon wees nie. Danie moes dus sy balkie namens hom ontvang en Clement het eers later die groot nuus ontvang.

Nandi en Clement Roodt was ook in 2014 as hoofleiers van die Fichardtpark Primêre Skool verkies. (Foto: Verskaf)

Roodt glo dat die tweeling weer eens ’n gedugte span sal maak aangesien hulle mekaar goed aanvul. “Nandi is die organiseerder en Clement hou baie van sosialiseer en met mense werk.” Clement is sportmal en speel vir die skool se eerste rugbyspan. Hy het ook ’n groot liefde vir basketbal en kan die naam van enige speler van dié sport opnoem. Nandi, die ousus van die twee met slegs tien minute, speel graag netbal, maar is eerder akademies georiënteerd.

Roodt vertel dat die tweeling baie na aan mekaar is. Ja, die twee baklei soms, maar hulle is baie afhanklik van mekaar. “Nandi het behoorlik oor Clement getreur toe hy in Ierland was.”

Sy vertel verder dat Nandi se kamer reg langs hul kamer is en dat dié twee tot laatnag in haar kamer kuier. Sy vertel dat sy juis dié gesels sal mis wanneer die tweeling oor ’n jaar uit die huis moet gaan om te gaan studeer.

Nandi beplan om na skool in ’n mediese rigting te studeer, maar Clement besluit nog. “Clement terg altyd dat hy nie weet wat hy eendag wil word nie, maar Nandi weet klaar,” verduidelik Roodt die verskil tussen die twee.

Sy glo dat die tweeling gereed is vir die groot taak wat volgende jaar op hulle wag. “Aangesien die skool se leerderraad goed georganiseer is en komitees reeds ingedeel is, sien hulle uit. Hulle is reg om weg te spring en hul deel te doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sophia erasmus ·

Trots saam met julle. Julle is ysters en uitblinkers!

Eish ·

Pragtig om nog sulke bakens van hoop te vind!
” You can’t keep a good (wo) man down!

Justice ·

Pragtige kinders met `n blink toekoms voor hulle – baie geluk!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.