Tweelingbroer eis baie van polisie ná hulle hom met broer verwar

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man wat nagenoeg ʼn maand agter tralies was nadat hy verkeerdelik met sy tweelingbroer verwar is, eis miljoene rande van die minister van polisie.

Shane Smith (32) eis R4,9 miljoen van Nkosinathi Nhleko, minister van polisie, nadat hy op 11 Maart 2011 in Vanderbijlpark in hegtenis geneem is terwyl hy sy broer se huis opgepas het.

“My broer het my gevra om sy huis vir die naweek op te pas,” het Smith aan News24 gesê. Volgens Smith het hy die Vrydagaand by die huis aangekom en was besig om by die oprit in te ry toe polisiebeamptes opgedaag het.

“Ek het gedink hulle wil my kaap. Hulle het uit die motor geklim en my in hegtenis geneem. Ek het aanhou sê ek pas net die huis op. Ek het selfs vir hulle my bestuurslisensie gegee om te wys ek is nie my broer nie, maar hulle het my aangerand. Ek lyk nie eens soos my broer nie.”

Volgens Smith het dit alles in aanskoue van sy seun, toe nege jaar oud, gebeur. Smith het die Maandag in die hof verskyn en is aangekla van die besit van gesteelde eiendom. Hy het in aanhouding gebly. “Daar is later aan my gesê dat die polisie my sal laat gaan indien hulle my broer vind.”

Smith was vir 29 dae in die Leeuhof-gevangenis naby Vereeniging. “Die tronk was die ergste deel, dit was erger as die aanranding.” Sy broer het hom later aan die polisie oorgegee en die aanklagte teen albei mans is laat vaar. “Iemand anders is uiteindelik op daardie aanklagte in hegtenis geneem.”

Volgens Smith het hy ʼn “moeilike tyd” gehad ná sy vrylating. “Ek het met niemand gepraat nie en erge hoofpyn gekry. Dokters het my aangeraai om vir berading te gaan en ek het ook vir ʼn MRI gegaan. My seun was vir ʼn ruk bang vir my, want dit het alles voor hom gebeur. Dinge is nou baie beter.”

Jean-Paul Rudd, Smith se regsverteenwoordiger, het gesê hulle het reeds drie jaar terug die dagvaarding teen die minister aanhangig gemaak, maar het geen terugvoering gekry nie. Die saak sou Maandag in die hof aangehoor word, maar die minister het aansoek gedoen om uitstel. Die saak sal glo vroeg volgende jaar aangehoor word.

News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

pop ·

Dis skokkend. En dan eis jy so min van die spul, nee mnr Smith, jy moes baaaaaaie meer as dit geeis het. En wat dit nog erger maak is dat jou broer ook onskuldig is. Pleks loop vang hulle regte skurke.

Peet Schabort ·

So by my kool. 3D=Dom, Dik en Difficult.
Ry hulle tot by oom Daantjie in die kalwerhok.

Winston ·

Dis waarom ons ontwapen word. Om te verhoed dat ons terug skiet. As n persoon onregmatig arresteer word kan hy hom verset. Bly jy het n eis ingesit Mnr Smith maar hoop maar dis suksesvol. Deesdae hang alles in die lug. Niks word afgehandel nie en die wetsgehoorsame burgers is nou die kriminele en werklike kriminele kry pakette en aanprysings

Dave ·

Volgende jaar is R4.9m minder werd as nou. Verhoog jou eis ten minste met die koers van inflasie of voeg rente by.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.