Tweelingbroer se dood steeds ʼn raaisel

Christo (links) en Beyers Adendorff. Foto: Verskaf

Christo (links) en Beyers Adendorff. Foto: Verskaf

ʼn Familie is desperaat op soek na antwoorde nadat ʼn man, een van ʼn tweeling, vroeër vandeesmaand buite Kimberley in die Noord-Kaap onder raaiselagtige omstandighede dood is.

Christo en Beyers Adendorff (43) was nie net identiese tweelingbroers nie, maar ook mekaar se beste vriende. Yolanda du Preez, hul suster, vertel aan Maroela Media dat die broers eintlik mekaar se sielsgenote was wat nog altyd alles saam gedoen het.

Nooit kon Christo dink toe hy die aand van 14 Januarie vir Beyers by ʼn kollega se verjaardagpartytjie groet, dat dit die laaste keer sou wees wat hy met hom praat nie. Die volgende keer wat Christo vir Beyers gesien het, was in die waakeenheid van ʼn hospitaal in Kimberley waar hy in ʼn kritieke toestand was.

Volgens Du Preez het Christo en Beyers saam in ʼn huis in Kimberley gewoon waar hulle vir GVK Siya Zama Construction gewerk het. Albei is ongetroud. “Ons hele familie bly nog steeds in Louis Trichardt. Christo en Beyers kom ook van Louis Trichardt af, maar hulle het altyd rondgetrek na waar hulle met ʼn projek vir hul maatskappy besig was en het al meer as ʼn jaar lank in Kimberley gewoon.”

Du Preez sê Christo en Beyers het die betrokke aand ʼn verjaardagpartytjie langs die Rietrivier in Ritchie bygewoon. Christo het later die aand huis toe gegaan en vir Beyers gegroet aangesien ʼn vriend Beyers by die huis sou gaan aflaai. “Beyers se ID en selfoon was in die motor waarmee Christo gery het, aangesien hulle hul goed van die begin van die aand af in die motor gelaat het,” het sy gesê.

Toe Christo die volgende dag besef dat Beyers nooit huis toe gekom het nie, het hy begin deur al hul vriende te bel om te hoor of Beyers dalk elders oornag het. Die vriend wat Beyers sou huis toe neem het gesê hy het Beyers by die partytjie gesoek en toe hy hom nie kon kry nie, het hy aangeneem dat Beyers besluit het om wel saam met Christo huis toe te ry.

“Christo het al die polisiestasies, klinieke en hospitale in die omgewing gebel en rondgery om na Beyers te soek, voordat hy hom uiteindelik in die staatshospitaal in Kimberley opgespoor het. Hy het erge kopbeserings gehad en was in ʼn ernstige toestand. Beyers het toe reeds ʼn breinoperasie ondergaan om die bloeding en drukking op sy brein te verlig.”

Volgens Du Preez het ʼn verbyganger glo die Sondag omstreeks 03:00 vir Beyers langs die pad na Ritchie, sowat 1 km van die N12-roete, aangetref. Omdat hy geen identifikasie by hom gehad het nie, is hy as ʼn onbekende pasiënt in die hospitaal opgeneem.

Beyers het sedert hy langs die pad gevind is nooit weer sy bewussyn herwin nie en hy is op 21 Januarie in die hospitaal dood verklaar. Sy familie het besluit dat sy organe geskenk kan word vir oorplantings. Volgens die dokters gebeur dit selde dat al die organe van een persoon gebruik kan word soos wat by Beyers die geval was, sê Du Preez.

“Ons weet hy kon vir ten minste vyf ander mense ʼn nuwe lewe gee, en dit is vir ons as familie een ligpunt in hierdie donker tyd,” het Du Preez gesê.

Sy het gesê die familie is egter nog nie nader aan enige antwoorde oor wat met Beyers gebeur het nie. “Ons weet hy is nie beroof nie, omdat hy geen van sy persoonlike besittings by hom gehad het nie. Die uitslae van die nadoodse ondersoek dui daarop dat hy met ʼn harde voorwerp teen die kop geslaan is. Meer as dit kan ons nie bespiegel nie, aangesien ons nie daar was om te sien wat gebeur het nie. Ons hoop dat die polisie se ondersoek iets sal oplewer.”

Beyers word ook deur sy jonger broer, Mauritz, en ouers, Christo en Alida Adendorff, oorleef.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het ʼn beloning van R25 000 uitgereik vir enigiemand met meer inligting rondom Beyers se dood wat tot die inhegtenisneming van die verdagte/s kan lei. Enigiemand met meer inligting word gevra om ao. Piet Hugo by 082 301 9995 of ao. Henk van Der Merwe op 082 447 1250 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Della ·

Dis baie erg. Ek hoop julle kry antwoorde vir jul vrae. Sterkte aan die familie.

lw ·

Dis n groot tragedie. Sterkte aan die gesin in die donker tyd.

Kimberliet ·

Maroela Media
Hierdie nuus was al 15 Januarie in die koerante…. Hoe is julle dan so agter die tyd…. 2 weke!!!???

Anoniem ·

@Kimberliet – kyk na die opskrif – … steeds ‘n raaisel. Dis nie agter die tyd nie maar dat dit steeds ‘n raaisel is na soveel weke.

Tina ·

Theresa du Preez en familie. My hart breek vir julle. Veral dat dit so raaiselagtig is. Mag God julle dra in die hartseer tyd en mag die gewetelose persoon wat hom beseer het gevang word. Julle is in my gebede. Sterkte

Elsabe Blackie ·

Ek bid elke liewe aand dat my neef se moordenaars gevind word en weet net julle sal nooit met dit wegkom nie want die Here slaap nie!!! Julle het hom wreed uit ons lewens geruk :'(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.