Tweespalt dreig in ANC oor basiese inkomstetoelaag

Argieffoto (Foto: Ian Landsberg/ Afrcan News Agency/ANA)

Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, se klaarblyklike beloftes van ‘n basiese inkomstetoelaag het die bevolking aan die gons – en kan die ANC diep in die politieke pekel laat beland.

‘n Basiese inkomstetoelaag is al jare lank DA-beleid, en kom daarop neer dat elke lid van die bevolking maandeliks ‘n bedrag van die regering ontvang om te bestee soos hulle goeddink – ʼn poging om landsburgers minder afhanklik van die staat en meer selfstandig in hul bestedingspatrone te maak.

Zulu se aankondiging dat ‘n basiese inkomstetoelaag van November af oorweeg word was geheel en al uit die bloute en het almal onkant betrap, des te meer omdat dit glad nie duidelik is waar die geld daarvoor vandaan moet kom nie.

Daar is nie ‘n sent voor begroot nie – en dit tydens die mees besuinigende begroting in negentig jaar, met Suid-Afrika in sy swakste ekonomiese posisie sedert die Groot Depressie.

Die minister van finansies, Tito Mboweni, het dit trouens tydens sy begrotingsrede duidelik gemaak dat die aanvullende toelaes ter vergoeding van die ekonomiese rampspoed weens die afsonderingsperiode slegs sal voortduur tot Oktober, want die land kan met sy rommelstatus, groeiende staatskuld en al wyer wordende begrotingstekort gewoon nie verdere toelaes bekostig nie.

Hieraan het Zulu, ‘n uitgesproke ondersteuner van die populistiese Zuma/Magashule-groepering in die ANC, haar kennelik min gesteur. Dit is nie die eerste keer dat sy pres. Cyril Ramaphosa in die verleentheid stel nie.

Heel aan die begin van die afsonderingsperiode moes Zulu die land om verskoning vra nadat sy allerlei video’s van haarself op sosiale media geplaas het waar sy – teen voorskrifte in – maskerloos gaan inkopies doen het en onvanpaste verspottighede oor die dodelike koronavirus kwytraak.

Onder haar politieke leiding het die uitbetaling van toelaes chaoties verloop en die spesiale R350-toelaag kom glad nie op dreef nie. Sy moet ook voortdurend weens ontwrigtende gedrag in die virtuele parlementsittings tot orde geroep word, met die DA, EFF, IVP, VF Plus en ACDP wat almal op rekord is dat hulle haar as onwaardig ag om ‘n kabinetslid te wees.

Intussen wag die land op die president en die minister van finansies om Zulu of vir die soveelste keer te repudieer of aan te dui waar die geld vandaan moet kom om aan haar belofte te voldoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jerry ·

Welsynstaat, waar sal die anc die geld vandaan kry. Nogal alle burgers gaan geld kry? Mmmm – anc en hulle belaglike planne!

Maria ·

Dit is, as die meeste inligting in die nuus korrek is, steeds die geval dat ‘tenderpreneurs’ weereens wins maak uit hierdie pandemie, en nie honger mense in haglike toestande baat nie. Die ANC kan dit net nie weerstaan nie, hul kan hulself nie help nie, die goue wortel onder die neus is te aanloklik. Hierdie gedrag en minister Zulu se uitlokking is ‘n agressiewe uitdaging aan die president. Dit sal die regering verder ingrawe in die wrokgevoelens van desperate mense en die regering uiteindelik saam met haar vernietig. Nie dat dit die einde van korrupsie sal beteken nie, mens hoop op ‘n laterale ekonomie waarin samewerking en aksie oplossings bring.

Jackie ·

Sy glo nes ‘Kopdoek’ dat geld nie van die belastingbetalers kom nie maar uit die staatskas????????. Haar salaris van R130000 pm kan darem bietjie meer as 300 begunstigdes vir n maand help

Johann ·

En daar byt die skootbrakkie haar baas…weer een weer en weer. En Serol bewys maar net weereens: hys rugraat loos en het GEEN leierskap nie. Hy dans rond soos sy skootbrakkies blaf. Die met die pette en die kopdoeke! Hys n bespotting in RSA se geskiedenis as dit kom by voorgesê word as president. Slapgatgeit soos min.

Okmardom ·

Die “toffie” tannie het hulp nodig, so gou as moontlik, sonder besoekers, alle vensters groot oop!! Het sy enigsins gedink…my vermoede hulle kry roogoed en drank iewers!!

Die Wolf ·

Nog iemand wat die pad moet vat. Sal enigiets belowe voor verkiesing.

Yolandie ·

Nogal……ons Ministers gee geld weg soos sweets. Ek neem aan wanneer hulle sê almal gaan die bedrag van R350.00 kry ongeag hulle velkleur……nee wag net die “minderbevoorregtes”…..en hoe gaan hulle dit gepaal???

JohanR ·

Is net met ‘n krisis dat jy kan sien hoe absoluut nutteloos twee derdes van ANC Ministers is. As daar nie ‘n krisis is nie, dan gaan doen hulle shopping, koop nuwe pette, doen die hare en naels en soek vir ‘n nuwe militare uniform. Kinders ly honger jou nuttelose ding….kinders!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.