Tweespalt oor heropening van skole

(Argieffoto: Maroela Media)

Nadat pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand bitter min aanduiding gegee het óf skole op 27 Januarie soos beplan gaan heropen, is daar toenemende tweespalt onder belanghebbendes oor wanneer skole vir die jaar behoort te heropen. Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, het die afgelope naweek voorgestel dat skole eers in Februarie heropen.

Ramaphosa het gisteraand gesê terwyl skole en ander opvoedkundige instansies voorberei om met die nuwe akademiese jaar te begin, is daar uiteraard kommer of dit raadsaam is te midde van ʼn tweede golf van Covid-19-infeksies.

Volgens Ramaphosa hanteer die nasionale koronavirusbeheerraad die kwessie en sal daar binnekort meer besonderhede bekend gemaak word.

Mathanzima Mweli, direkteur-generaal van die departement van onderwys, het vroeër die dag gesê die departement is gereed vir die heropening van skole. Volgens hom word die departement se aanbeveling oor die heropening van skole vandag aan die nasionale koronavirusbevelsraad voorgelê.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê soos sake nou staan, bly skole een van die veiligste ruimtes vir kinders.

Buys sê die meeste skole het reeds verlede jaar alle gesondheidsprotokolle uitgestryk en daar word streng aan veiligheidsmaatreëls voldoen om die verspreiding van Covid-19 te stuit. Leerders se temperatuur word gemeet, sosiale afstande word gehandhaaf en maskers gedra.

“Skole is reeds ingeoefen in die proses.

“Die verlies aan leer as jy die heropening uitstel, is veel meer kommerwekkend,” sê Buys.

“Ons is baie bekommerd oor die standaard van onderrig en ons kan nie bekostig dat kinders selfs verder agterraak nie.”

Buys sê al hoe meer skole ondersoek boonop aanlynleeropsies, maar skole wat in die verlede reeds agter was, raak nou al hoe verder agter.

Sy sê benewens akademie is daar baie ander kwessies – sosiaal en emosioneel – wat dit belangrik maak vir kinders om terug te keer skool toe.

“Die protokol is gereed en word gehandhaaf. Skole is ʼn veilige omgewing om in te wees,” sê Buys.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van SAOU, glo ʼn meer konserwatiewe benadering moet gevolg word.

Hy meen as die skooljaar met ʼn week of twee aangeskuif word, dit nie onoorkomelike probleme gaan skep nie.

“Ons benadering, as jy kyk hoe dodelik dit [Covid-19] is en hoeveel mense geïnfekteer is, is dit beter om eerder bang Jan as dooie Jan te wees. Ons moenie ten alle koste instrompel nie. Ons wil graag hê die stelsel moet gereed wees om te begin.”

Klopper sê die besluit of skole wat gereed is om te heropen wel toegelaat moet word om dit te doen, bly ʼn turksvy.

Hy sê ook daar is in hierdie stadium geen ooreenkoms oor hoe onderwysers met onderliggende siektetoestande benader moet word nie. Meer as twee miljoen maskers moet aan nuwe gr. 1- en gr. 8-leerders voorsien word en daar is geen duidelikheid oor die aanvul van ontsmettingsmiddels by skole nie.

Klopper sê die gemiddelde ouderdom van Suid-Afrikaanse opvoeders is tussen 48 en 49 jaar oud, terwyl dit in die Afrikaanse gemeenskap naastenby 50 jaar oud is.

“As jy na die statistieke kyk is diegene in die ouderdomsgroep tussen 50 en 69 omtrent die kwesbaarste. Ons moet alles teen mekaar opweeg en ʼn verantwoordelike, konserwatiewe besluit neem. Wat is in hierdie stadium in die beste belang van álmal?”

Die drukgroep Action Society het intussen ʼn beroep op Ramaphosa gedoen om nié die heropening van skole uit te stel nie. Die organisasie sê skole en hul beheerliggame moet toegelaat word om self daaroor te besluit.

“Skole se omstandighede verskil en daarom moet hulle die geleentheid gebied word om self te besluit hoe hulle hul te midde van die Covid-19-pandemie gaan inrig. 2020 was ʼn goeie leerskool oor hoe om baie van die struikelblokke te oorbrug,” sê Daleen Gouws, woordvoerder van Action Society.

Gouws sê die organisasie weet dat talle skoliere nie toegang tot die internet, slimfone of drukkers vir afstandonderrig het nie en in talle gevalle beteken toegang tot ʼn skool ook toegang tot ʼn kind se enigste maaltyd vir die dag.

Sy sê met ʼn reeds sukkelende ekonomie kan min ouers ʼn oppasser vir hul kinders bekostig en kinders word verplig om alleen tuis te bly terwyl hul ouers gaan werk. Soms word hulle ook noodgedwonge in onbetroubare sorg gelaat.

“Ons verstaan dat dit ʼn komplekse besluit is om al die faktore op te weeg. Ons prioriteit is egter die welsyn en veiligheid van skoolgaande kinders.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Oomniklaassevriend

Iemand met gesonde logika sal eers kernkwessies uitsorteer voordat hy met die nasie praat.

Johanncb

Minister Dlamini-Zuma, in haar onkunde, geniet die magspel!

Mariana

Die verkeerde mense wil belangrike besluite neem oor goed waarvan hulle niks weet nie. Beslis magspel vir oningeligtes

Bont

Ek wil nou graag weet, gaan kinders weer elke 2de dag skool. Dit is mos social distancing. Daar is dan mos nie plek vir almal elke dag nie. Wanneer gaan dit ooit reg kom as dit so aangaan.

Lola88

Natuurlik sal die unies nou weer sê die skole moet toe bly…dis mos nou al hulle deuntjie vir amper ‘n jaar? Meeste skole het beter maatreëls in plek as jou naaste Checkers. Miskien as die kinders bietjie meer skool toe gaan en iets leer sal die land se toekoms in die hande van bietjie slimmer mense wees oor ‘n paar jaar….