Twis oor betaling van waterhulp aan Makhanda

Gift of the Givers besig met hulpprojekte in die Oos-Kaap. (Foto: Gift of the Givers via Facebook)

Die noodlenigingsgroep Gift of the Givers het uit die droogtegeteisterde Makhanda (voorheen Grahamstad) in die Oos-Kaap onttrek, omdat ánder kontrakteurs nou vergoed gaan word vir werk van miljoene rande wat die organisasie sê hy reeds in die gebied gedoen het.

Imtiaz Sooliman, woordvoerder van die organisasie, sê die Makana-munisipaliteit het Gift of the Givers in Februarie gevra om met sy waterprobleme te help. “Die omvang van die probleem was veel groter as wat enigeen gedink het. Ons het ʼn reddingsplan saamgestel en dadelik begin daarmee,” het Sooliman gesê.

Miljoene rande “in goeder trou” bestee

Sooliman sê Gift of the Givers het die munisipaliteit ingelig dat dit nagenoeg R23 miljoen gaan kos om die dorp se waterprobleme op te los en dat staatsfinansiering nodig gaan wees.

Volgens Sooliman het die munisipaliteit gesê die streek is tot rampgebied verklaar en dat Gift of the Givers vergoed sal word sodra rampfinansiering beskikbaar gestel word. Die plaaslike owerheid was eerlik dat hy nie geweet het hóéveel geld hy daarvoor sou ontvang nie en ook nie wanneer nie, het Sooliman gesê.

Gift of the Givers het steeds in goeder trou voortgegaan met sy hulpprojekte, in die verwagting dat hy later daarvoor vergoed sou word.

Gift of the Givers het onder meer ʼn spesialishidroloog aangestel om water te soek. Uiteindelik is 15 boorgate gesink en die water teen groot koste laat toets. ʼn Spesiale filtreringstelsel is in werking gestel, gebottelde water is afgelewer en watertenks is in die gebied ontplooi.

“In dié tyd het ons nog nie ʼn enkele sent by enige staatsdepartement gekry nie. Die koste het daagliks gestyg en tot op daardie punt het die ingryping ons R15 miljoen gekos,” het Sooliman gesê.

Die departement van waterwese en sanitasie het ook betrokke geraak, maar ná samesprekings van meer as 50 uur en 13 weke later, was die dorp steeds in ʼn krisis gedompel. “Ons is elke keer ingeroep om gemoedere te kalmeer oor die verskaffing van water.”

Gift of the Givers besig met hulpprojekte in die Oos-Kaap. (Foto: Gift of the Givers via Facebook)

Watter waterkrisis?

Op Vryheidsdag, dieselfde dag waarop pres. Cyril Ramaphosa in ʼn toespraak gesê het daar kan geen vryheid wees as Makhanda nie water het nie, het die departement van waterwese Gift of the Givers beveel om uit die gebied te onttrek.

“Hulle het ons aangesê om ons vragmotors te skuif, omdat daar geen waterkrisis in Makhanda is nie,” het Sooliman gesê.

Die afgelope week is Gift of the Givers boonop ingelig dat ánder maatskappye nou vergoed gaan word vir werk wat hy rééds gedoen het. ʼn Konsultantefirma sal R1,2 miljoen betaal word vir werk wat verband hou met boorgate, hoewel Gift of the Givers die konsultasiewerk gedoen het, ʼn reddingsplan saamgestel én die boorgate gesink het.

Nóg ʼn maatskappy word R7 miljoen betaal vir die boorgate wat Gift of the Givers reeds gesink het. ʼn Derde maatskappy kry R1,9 miljoen vir elektriese werk om boorgate by Waainek (wat die organisasie óók gesink het) aan die netwerk te koppel.

“Dit is R10 miljoen van belastingbetalers se geld wat die regering sommerso uitdeel vir werk wat Gift of the Givers gedoen het. Ons harte gaan uit na die mense van Makhanda, die bejaardes, die vroue en kinders wat so geduldig vir water gewag het,” sê Sooliman.

Gift of the Givers het gesê hy het geen onenigheid met die munisipaliteit nie en dat die gemeenskap die organisasie hartlik verwelkom het.

“Uit beginsel kan ons egter nie voortgaan nie,” het Sooliman gesê.

Gift of the Givers besig met hulpprojekte in die Oos-Kaap. (Foto: Gift of the Givers via Facebook)

Munisipaliteit “wil geskil oplos”

Die Makana-munisipaliteit het in reaksie gesê Gift of the Givers het op eie risiko voortgegaan met sy hulpprojekte en dit gedoen “sonder die deeglike, streng en nodige noulettendheid wat ons van ʼn buitekontrakteur verwag”.

“Ons het ingestem tot die afwyking weens die dwingende omstandighede, maar moet terselfdertyd verseker dat ons regverdig en noulettend optree wanneer tenders toegeken en staatsgeld bestee word,” het die munisipaliteit in ʼn verklaring gesê.

Hy het gesê hy gaan ook voort met gesprekke om die dooiepunt met Gift of the Givers te besleg.

“Ons hoop dat die situasie in die beste belang van die mense van Makana, namens wie ons optree, opgelos kan word en dat dit gedoen word op ʼn manier wat verseker dat Gift of the Givers vergoed word vir sy harde werk, kundigheid en sorg in ons tyd van nood.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

De Villiers ·

Die verkiesing is mos nou verby, en nou is alles met die ANC terug na normaal, o.a. dat ANC-beloftes weereens nie nagekom word nie.

Jean van der Riet ·

Welkom in Suid Afrika …….. alles gaan net aan soos na die verkiesing , korrupsie se einde nie in sig nie !!!!

Carel ·

Kom CR jy moet tog hiervan bewus wees maak nou n voorbeeld en wys dat jy ernstig is oor die uitroei van korrupsie

Nelia van Zyl ·

Absoluut skandalig!! Wat ‘n verleentheid! Ek hoop dr. Sooliman sit die beste moontlike regspan op hierdie mense en leer hulle ‘n behoorlike les.

Johan ·

‘n Ooreenkoms is ‘n ooreenkoms. Die Gift of the Givers moet hulle goedhartigheid in hulle sak druk en die mislike-paliteit dagvaar. Soos gewoonlik word mense betaal wat nie die werk gedoen het nie. Dit klink darem baie bekend, of hoe?

boerboel ·

Stem saam Johan, was goed genoeg om te help en nou wil hulle nie betaal nie.

Hans ·

Skandalig dat die Gift of the Givers so behandel word. Die werk is seker gedoen met skenkings ontvang van privaat individue en maatskappye. Die organisasie sal van nou af alle hulpverlening krities moet beoordeel.

marous ·

Hulle moet onder geen omstandighede terug gaan om die gemors at kom uit te sorteer nie .

Koos de Meyer. ·

Wat ‘n skande. Daai mense doen goeie werk en help almal in nood. Maar weereens kom die ware klere van ons nuwe Suid-Afrikaanse regering uit. Swak is eindelik nie die woord nie.

Scruffy ·

Kan nie glo dat Gift of the Givers hulle vertrou nie jy kan hulle glad nie vertrou nie en veral nie met geld nie Sterkte aan Gift of the Givers om hul geld terug te kry hou vir jul duim vas

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.