Twis oor Pro-Puk-naam verdiep

pro-puk-logoDie webdomein www.propuk.co.za mag nie meer deur die Pro-Puk-groep gebruik word nie.

Dit is die beslissing wat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Intellektuele Eiendomsreg (SAIIPL) en die .za-Domeinnaam-owerheid pas gemaak het. Dié besluit volg op die SAIIPL se beslissing in September dat die Pro-Puk-groep wel die webdomein www.propuk.co.za mag gebruik. Die Noordwes-universiteit (NWU) het teen dié beslissing geappelleer.

“Kragtens die gemenereg besit die NWU reeds vir dekades, selfs voor die samesmelting toe die universiteit nog die PU vir CHO was, ʼn alleen- en gevestigde reg op die gebruik van die naam Puk. Die suksesvolle appèl is dus ʼn duidelike boodskap aan buite-partye en persone om nie enige universiteitshandelsmerke te gebruik wat die NWU se regte beskerm nie,” het die NWU in ʼn verklaring gesê.

Die Pro-Puk-groep se webtuiste is in samewerking met die Solidariteit Beweging gestig. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het intussen die NWU daarvan beskuldig dat hy oudstudente se stem oor die NWU probeer stilmaak.

“Die klagte teen die groep oudstudente by die za.Domeinnaam-Owerheid en die SAIIPL is ʼn sensuurtegniek. Sosiale media sensuur werk deesdae net nie meer nie. In die lig van die klag van die NWU teen sy eie oudstudente se webblad, het ons besluit om ʼn nuwe webblad te registreer, www.ek’s-‘n-puk.co.za. Oudstudente gaan ook aangemoedig word om foto’s van hul studentedae, graadsertifikate of enige ander foto’s wat wys dat hulle trotste Pukke is, op die webblad te plaas. Ons Pro-Puk-veldtog gaan nou nog groter wees.”

Die NWU het intussen gesê hy is verplig om sy meer as 28 handelsmerkregistrasies, insluitend Puk, Pukke en Pukkie, te beskerm. “Nadat hierdie appèl geslaag het, verkry NWU nou verdere regsadvies om teen ander individue en instansies wat ook wederregtelik die naam PUK gebruik, op te tree.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

DPJ ·

Hoe klein geestig kan mens nie wees nie. Net om te bewys hulle is in beheer van sake. Ek word die reg ontneem om te sê ek is ‘n oud PUK. Ha ha ha!

Dee ·

Miskien is hulle in ‘n verleentheid oor mense wat met die naam spog maar nie kan spel nie.

Henko Pienaar ·

Dan Kwgadi en sy trawante wil ons oud Pukke stil maak. Hulle wil nie hê ons moet opstaan en saam staan vir ons taal, vir ons kultuur, vir ons identiteit nie. Ek is ‘n trotse Puk en ‘n trotse Afrikaner. Dit is deel van my karakter en identiteit en Dan Kwgadi wil dit net vernietig

Johannes Froneman, woordvoerder van prof. Dan Kgwadi ·

Nee, prof. Kgwadi wil niemand stilmaak nie. Dr. Hermann se gebruik van die woord sensuur is dus onvanpas. Daar is geen aanval op Afrikaans deur prof. Kgwadi nie. Kom luister hoe Afrikaans oral op die Potchkampus gepraat word. Ook in die klaskamers. Die voortgesette aanvalle op prof. Kgwadi (en sy “trawante”, waarvan ek dan seker een is) strek Afrikaans en sy gebruikers nie tot eer nie.

Nico K ·

Hulle wil nie meer die woord PUK gebruik nie. Want hulle het die univ. se naam verander. Maar nou baklei hulle dat hulle alleenreg tot die naam het??!!

Johann Marx ·

Was die begin van die jaar by die inskrywing van eerste jaar student. Eers was dit stil en rustig….en later, elke keer as personeel rondloop met oorfone en vra of iemand gebruik wil maak van die “translation services”, het al hoe meer mense begin vra “As jy nie Afrikaans verstaan nie, wat soek jy hier?” Kan ‘n minderheid Afrikaanse student by ‘n Xhosa Universiteit inskryf en aandring dat die voertaal na Afrikaans verander moet word? Nou hoekom kan ‘n klomp nie-Afrikaans-sprekendes by ‘n Afrikaanse Universiteit registreer en aandring daarop dat die voertaal moet verander na Engels toe? Daar is ‘n gedeelte van die land se bevolking wat daarop aandring dat alles “must fall”. Dis tyd vir die PUK se studente om te begin met #Totiusmustreturn”!!! Ek sê maar net….

Emile ·

Wees dankbaar dat vertolking tans nog daar plaasvind en dat die kommunikasie alles in Afrikaans was. Die druk begin opstapel by die PUK om met tolkdienste weg te doen en slegs Engels te besig, selfs al is die gehoor 100% Afrikaans.

Zach Coetzee ·

N.W.U. beledig ‘hulle’ oud studente deur hulle te sensureer. Onthou: Dis dieselfde mense wat die aktiewe steunbasis van enige universiteit uitmaak wat julle nou stilmaak. Demokrasie is nie net meerderheidswil nie maar ook akkommodasie van alle groeperings – veral die groot getalle oud studente. As die meerderheid ‘n minderheid uitsluit deur hulle stil te maak of in minderheidsituasie in te dwing kan dit ook ondemokraties wees. Mag ons nog “oud Pukke” wees of moet ons eers toestemming daarvoor kry eer ons teen ‘n handelsnaam oortree? Veel minder studente op kampusse eis sekere uitkomste en die owerhede stem te graag daartoe in, maar nie die meerderheid oud studente se menings of die kampus-massa s’n nie Dit is maar net nog populistiese diskriminasie. Ek het nie geweet dat hulle enigsins die PUK naam wil gebruik nie – dog dis nou N.W.U![getransformeer sodat so min as moontlik aan die ou bedeling kan herhinner]

Paul ·

Dis swak van die universiteit. Handelsmerkbeskerming behoort slegs gebruik te word vir waar iemand voorgee hulle is ‘n instelling of maatskappy wat hulle nie is nie, want dan is dit gewoon bedrog. As ek sê ek is ‘n verteenwoordiger Coca-Cola en ek gebruik die Coca-Cola-handelsmerk op my besigheidskaartjie, dan is ek besig om bedrog te pleeg. As ek egter ‘n webwerf maak met die naam “coca-colaisgreat.com” en op die webwerf maak ek duidelik dat ek nie die maatskappy verteenwoordig nie, maar slegs wil wys hoe lekker die koeldrank vir my is, is daar niks daarmee fout nie, maak nie saak wat enige wet sê nie.

Swak.

Paul ·

Hulle sê dat hulle kragtens gemenereg die alleenreg op die gebruik van die naam “Puk” het. So niemand anders mag die naam sê nie?

“By watter universiteit studeer jy?”
“By daardie een daar in Potchefstroom… ek mag nie die naam sê nie…”

Sarie ·

Amper soos daardie ou in die Harry Potter stories wie se naam niemand mag sê nie. Hoeveel belaglikhede moet nog mee vorendag gekom word om ‘n punt te maak om onbevoegdheid te verbloem.

Nic Grobler ·

Kyk, ek is en bly ‘n PUK, al is dit nou ‘n ‘oud’ een (baie oud). En, soos Paul tereg se, mag ek ek dit se, want ek gee regtig nie voor dat ek ‘n akademiese instelling is nie.
Terloops, “PUK” rol maklik van die tong, maar hoe spreek die studente en oudstudente “NWU” uit ? Veral as hulle langs die veld juig: “Jey NWU!!”

R Lombard ·

Pukke is nou net ‘n troetelnaampie , sy huidige naam is Noordwes Universiteit (NWU}, nie meer die Potchefstroom se Universiteit Kampus ens nie. Ag, asseblief, hierdie tipe van kinderagtigheid wys net weereens hoe vlak die ik van die mense agter hierdie storie is!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.