Twitter stuit samesweringsteorieë oor 5G

Twitter gaan voortaan kommentaar verwyder wat “skadelike aktiwiteit” aanhits en spesifiek twiets wat optrede vra dat draadlose toerusting verwoes word. Dit spruit uit ʼn samesweringsteorie wat 5G aan die nuwe koronavirus verbind.

“Ons het ons riglyne uitgebrei oor onbevestigde bewerings wat mense aanhits om by skadelike bedrywighede betrokke te raak, wat kan lei tot die verwoesting van of skade aan belangrike 5G-infrastruktuur, of wat kan lei tot grootskaalse paniek, sosiale onrus of grootskaalse oproer,” het Twitter se veiligheidspan vandeesweek gesê.

Die besluit kom na oproepe op sosiale media wat gelei het tot aanvalle op 5G-torings in sommige Europese lande.

Twitter se besluit is die jongste in ʼn poging deur sosialemediaplatforms om grootskaalse misleidende inligting oor die Covid-19-pandemie te stuit.

Twitter het in ʼn blog gesê hy verfyn sy beleid om die jongste vlaag voorvalle te hanteer.

Twiets wat verwyder gaan word, sluit in dié wat verkondig dat kos besig is om op te raak en dat die 5G-netwerk die nuwe koronavirus veroorsaak.

Die 5G-samesweringsteorie het selfs al die Britse regering genoop om in te gryp en ʼn verklaring uit te reik dat die teorie van waarheid ontbloot is nadat ʼn ITV-nuusaanbieder dit as die waarheid opgedis het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cherokee ·

Dit is die soort snert waarvan elk daarvan niks verder as my selfoon gevorder het nie. Dit is uitgevee sonder om veel daarvan te lees.

Kosie ·

Wonderlik, so lekker dat ander namens jou kan dink en besluit. Lekker dat ons so mooi beskerm word teen eie denke; dankie polisieman Twitter. Maar sal Twitter dalk so gaaf wees om die menigte skakels te verskaf na die onafhanklike studies in erkende joernale wat bewys dat 5G veilig is. Ek meen, voor hierdie tegnologie oor die lande uitgerol word, is daar sekerlik duisende studies gedoen wat kyk na die gesondheids impak daarvan?

Wil jou nou meer, daardie studies bestaan nie, maar moet net nie die veiligheid bevraagteken nie.

Hoe lank gaan ons nog toelaat dat ander (Twitter, WGO, regering) vir ons dink? Het ons niks geleer uit ons verlede van hoe dit met ons gaan as ander namens ons dink en “onderhandel” nie?

Gawie ·

Kosie, ‘n eenvoudige Google-soek sal vir jou al die studies gee. Tik in “5G Safety Studies” en kyk hoe al die studies vir jou gegee word. Weet nie hoekom jy sê dat die studies nie bestaan nie.

Cherokee ·

Kosie, dit gaan nie oor eie denke soveel, maar meer om te verhoed dat naïewe mense se gedagtes ook besoedel word met sinnelose stories.

Jack ·

Toe die huidige selfoon netwerk in 1994/95 uitgerol is was daar ook allerhande bangmaakstories dat die gebruik van selfone kanker sal veroorsaak.

Voord it was daar bangmaakstories dat huise wat bine 400m vanaf hoogspanningskraglyne staan se inwoners aan skadelike bestraling blootgestel is wat kanker veroorsaak.

Dan het jy ook die klomp wat glo mikrogolfoonde is doodsgevaarlik ens ens. Hierdie tipe emense sug na die goeie ou dae toe ons kos gaar gemaak het op ‘n oop vuur in die middel van ons hut se vloer en ewe gelukkig saamgehoes het vanweë die rook wat ons gedurig moes inasem.

Ag nee wat. Dit laat my dink aan al die klimaatveranderings spookstories wat ook die rondte doen.

Cherokee ·

Het nogal gehou van jou kommentaar tot en met die laaste paragraaf. Dìt het jou ‘n duim-op gekos maar die duim-af is nie vanaf my nie. Klimaatsverandering is bewys.

Gerhard ·

In 2017 was daar 9,6 miljoen mense wereldwyd wat aan kanker gesterf het. Dit is die tweede grootste oorsaak van sterftes in die wereld. Sedert 1990 het kanker sterftes met 66% toegeneem. Dit is tog duidelik dat daar iewers n slang in die gras is.

Ek weet nie wat my die meeste onrustig maak nie, die selfaangestelde bewakers van informasie of die dierbare, goedgelowige skapies wat dink dit is n baie goeie ding as informasie gesensuur word.

Estelle ·

Ek wil net graag weet, indien hierdie 5G so “veilig” is, waarom benodig die tegnici wat die torings opsit volledige HAZMAT pakke. Is dit vir snaaksigheid? Of weet hulle base iets wat ons net oor bespiegel.
Kan een van ons slimjanne my dalk sê.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.