‘Two Sides’-dokkie oor Leeus-toer vir Emmy benoem

(Foto: Showmax)

Die dokumentêr Two Sides, ʼn agter-die-skerms-blik op die geskiedkundige toer in 2021 van die Britse en Ierse Leeus na Suid-Afrika, is vir ʼn gesogte Emmy-toekenning benoem.

SA Rugby (Saru) en die Britse en Ierse Leeus was opdraggewende vennote met die Suid-Afrikaanse produksiehuis T+W en die Wallies gebaseerde Whisper Cymru wat Two Sides vervaardig het.

Die dokumentêr ding mee met drie ander internasionale benoemings.

Die dokumentêr het ondersoek wat presies in die Springbok- en Leeus-kamp afgespeel het tydens die toer wat op die kruin van die dodelike Covid-19-pandemie in Suid-Afrika gehou is.

Dit vertel ʼn storie uit die Springbokke en Leeus se perspektief en bevat beeldmateriaal van albei spanne terwyl hulle deelgeneem het aan ʼn toernooi wat agter geslote deure gespeel moes word en geweldig bemoeilik is deur koronavirusuitbrekings onder albei spanne.

Warren Gatland se manne is destyds die rooi see van ondersteuners ontneem nadat streng reisbeperkings weens die Covid-19-pandemie ingestel is. “Maar die spelers, gekies uit Engeland, Ierland, Skotland en Wallis, het met trots gespeel in ʼn toetsreeks wat net-net in die guns van die Springbokke gedraai het,” lui die Leeus se storie van die 2021-toer.

In Suid-Afrika het M-Net en SuperSport die dokumentêr van drie episodes uitgesaai. Dit is gevolg deur ITV in die Verenigde Koninkryk en Virgin One in Ierland in die eerste helfte van verlede jaar. Die reeks het boonop groot belangstelling onder sosialemediagebruikers en die tradisionele media gewek.

Ook op die kortlys is 30 Dias Para Ganar uit Mexiko wat die verhaal van paralimpiese skiërs vertel; Alexia, Labor Omnia Vincit, ʼn dokumentêr uit Spanje oor die Barcelona- en Spaanse sokkerspeler Alexia Putellas; asook Harley & Katya (Australië) oor die sierskaatspaar.

Die wenners van die 51ste Internasionale Emmy-toekennings word op 20 November tydens ʼn glansryke seremonie in New York bekend gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

kragaap ·

Hoe die kyker “toegelaat” is in die midde van die mees intense besprekings, spanpraatjies, die persoonlike lewens van spelers, en die voorbereiding en beplanning vir elke wedstryd was insigewend en opwindend. Veral vir rugby ondersteuners.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.