Tyd dat die ANC onteiening agterlaat

Foto ter illustrasie. (Foto: Noah Silliman/Unsplash)

“Onteiening sonder vergoeding is ’n konsep wat aan ’n vervloë era van koue oorlog en kommunisme behoort en die ANC moet daarvan afsien sodat Suid-Afrika op die herstelpad kan kom.”

Só sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai. “Die regering se beheptheid met dié konsep is die oorsaak van massiewe disinvestering, die gebrek aan groei en mededingendheid, werksverlies, die inploffing van die Landbank en ekonomiese verval.”

Die Landbank se totale boek bestaan uit landbou, waarvan die finansiering op grondbesit as sekuriteit berus. Dreigemente om grond sonder vergoeding te onteien het ernstige negatiewe gevolge vir elke boer en handelsbank, maar vir die Landbank het dit die voortbestaan van die bank in gedrang gebring, voeg De Jager by.

“Die ANC moes lankal uit die reaksie van Suid-Afrika se handelsvennote, die Europese Unie (EU), die Verenigde Nasies (VN) en ander multilaterale internasionale instellings afgelei het dat sy verbintenis tot onteiening sonder vergoeding Suid-Afrika weer tot muishondstatus sal verdoem, soortgelyk aan Zimbabwe en Venezuela. Niemand belê in ’n land waar beleggers die risiko loop om sonder vergoeding onteien te word nie.”

Nêrens het onteiening sonder vergoeding óf teen minder as markwaardevergoeding in gedwonge transaksies ’n goeie uitkoms gehad nie.

“Die wêreld verstaan nie dat ’n idee wat oral waar dit ingestel is net tot ekonomiese verval, verdriet en lyding gelei het, onder die ANC (met sy jammerlike baanrekord van mislukte instellings) nie anders sou verloop nie. Die blote feit dat die ANC die sakesektor, werkgewers, belastingbetalers en beleggers se hoofsaaklik skriftelike insette in die openbarekonsultasieproses met ’n slenter uit die weg moes ruim sodat daar staatgemaak moet word op onsamehangende mondelingse insette van mense wat na ontoeganklike plekke aangery is, moes al ’n aanduiding wees dat niks goeds uit dié idee kan voortspruit nie.”

Toe die ANC deur Sakeliga gedwing is om die wetenskaplike impakstudie openbaar te maak en hulle uitgevang is dat hulle dit met flagrante onwaarhede bekook het, het die wêreld al besef dat daar geen integriteit of substansie agter hulle blinde dryf na ’n gediskrediteerde beleid sit nie.

“Saai werk elke dag met wit én swart familieboere wat ly onder die kleinlike binnepolitiek in die ANC wat tot die mosie oor onteiening sonder vergoeding aanleiding gegee het. Die ANC gaan duidelik ook nie die vereiste meerderheid in die parlement kry om die Grondwet te verander nie. Die ontsaglike prys wat Suid-Afrika vir ’n swak idee betaal het, was nie die moeite werd nie.”

De Jager sê in die belang van Suid-Afrika en sy mense moet die ANC sy flater erken, daarvan wegstap en moeite doen om sowel plaaslike as internasionale entrepreneurs te oortuig dat dit veilig is om hier te belê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Frederik C ·

Soos Theuns Eloff tereg sê: SA kan nie langer die ANC bekostig nie.

Johan ·

Die ANC is wat die massas verwag van hom….en dit is maar min.

Jerry ·

Ek is jammer om te se maar die anc gaan dit nog regkry en dit gaan binnekort ingestem word.

Persheks Adri ·

Lankal tyd dat ANC van die plan vergeet en dit los! Ons boerevolk sal saam staan julle dryf ons in verkeerde hoeke en ons is gatvol PFFFT!!!

Hennie J ·

Verseker. Dryf ons in n hoek in en sien hoe ons baklei om daaruit te kom. Churchhill:We shall never surrender

Persheks Adri ·

Ja Piet net beter goed as ‘n windbuks ons speel nie

Gert ·

Jy kan nie wors in ‘n hondehok gooi en verwag dat die wors meer gaan word nie. Niemand gaan in ‘n land belê waar openlike korrupsie en plundering aan die orde van die dag is nie

piet ·

As die ANC slim was, kon hulle reeds baie vroeg na Apartheid onteiening met vergoeding toegepas het. Dan het hulle basies uit die staatskas uit met die witman se belasting daarvoor betaal wat as ‘n mate van regstelling gesien kon word. So baie water het sedertdien onder die brug deurgeloop.

christo ·

Landbou is die enigste volhoubare bedryf wat aanhou groei. Nou dat regstellende aksie swart en swart bemagtiging alle ander buitelandse beleggersvertroue laat kwyn het, is landbou nou in die ANC se visier. Dis een ding om op ‘n plaas te werk en ‘n ander om ‘n suksesvolle boer te wees.
Elke ANC hoë wil mos ‘n plaas hê. Ek weet nie van enige suksesvolle ANC suksevolle boere nie.

Althes ·

Ek stem, beweeg aan. Grond het nog niemand ryk gemaak nie – wel common sense, hardwerkendheid, deursettingsvermoë en intelligensie.

Cryptogruppe ·

Tyd om oop kop te wees. Mens kan nie wag tot jou huis begin brand voor jy agter kom daar is nie water om die vuur te blus nie. Dis tyd dat almal nugter dink oor die grondkwessie en self begin planne maak, terwyl ONS DIE VRYHEID HET OM SELF DAAROOR TE BESIN. Ons kan eenvoudig nie aangaan sonder om te erken dat daar ‘n probleem is nie. Ten minste, kom ons begin self onder mekaar praat om oplossings te vind.

Swerwer ·

Uit die jarel lange optrede van die ANC weet almal dit is kommunisties georienteerd. As alles vernietig is gaan hul seker oorloop na die volgende land om die arme bloedjies jammer te kry .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.