Tyd dat Potch, Ventersdorp se munisipale paaie weer skei

Die DA vra dat die munisipaliteit vir die dorpe Ventersdorp en Potchefstroom opnuut geskei word. (Argieffoto)

Die bestuur van Potchefstroom en Ventersdorp in Noordwes gaan net reggeruk word as die samesmelting van die dorpe se munisipaliteite – wat in 2016 te midde van groot teenkanting nietemin plaasgevind het – nou omgekeer word.

Hans-Jurie Moolman, die DA se koukusleier in die JB Marks-munisipaliteit (die plaaslike owerheid wat vir die bestuur van albei dorpe verantwoordelik is), sê die party het reeds ʼn voorlegging aan die munisipale afbakeningsraad gedoen om die dorpe opnuut van mekaar te skei.

Die 2016-besluit om die dorpe onder een plaaslike owerheid te laat saamsmelt, was volgens Moolman ʼn polities gedrewe een waarby die ANC sou baat. Hy sê hulle het destyds, tydens die openbaredeelnameproses, die gevoel gekry dat die besluit oor die samesmelting reeds geneem is en dat die proses van openbare deelname “net ʼn boksie was wat getiek moet word”.

Wie uiteindelik geensins by die samesmelting gebaat het nie, is die inwoners en hulle het ná die samesmelting nog lank daaroor betoog.

“Niemand is gelukkig nie. Ek het met talle mense in alle politieke partye gepraat. Die samesmelting was ʼn baie groot fout en ons almal ly daaronder.”

Die munisipaliteit het die afgelope paar jaar beduidend verswak en is al twee keer onder provinsiale administrasie geplaas. Ongemagtigde en verkwistende uitgawes het van sowat R1,2 miljard in 2016 tot naastenby R4,2 miljard opgehoop en niemand is nog daarvoor aanspreeklik gehou nie.

“Pleks daarvan om kosmetiese grensveranderings te doen, moet daar in die bestuur van die dorpe ingegryp word. Die proses om ʼn grens te verander, pak nie die inherente probleem van verantwoordbaarheid nie,” sê Moolman.

“Die munisipaliteite moet geskei en die bestuursprobleme in elkeen opgelos word.”

Inwoners op Ventersdorp is ongelukkig omdat diegene op Potchefstroom dikwels uit voeling is met die dorp se behoeftes en probleme. Inwoners op Potchefstroom is weer boos omdat hulle moet help om Ventersdorp – wat in hierdie stadium net sowat 15% van sy begroting deur belasting en dienste invorder – te subsidieer.

“Die twee dorpe se uitgawes word gefinansier met die inkomste uit een dorp.”

Moolman sê as vaardige bestuurders en doeltreffende stelsels egter in albei dorpe in werking gestel word, sal dit tot voordeel van alle inwoners wees. Amptenare op Ventersdorp, byvoorbeeld, moet die sowat 50 km na Potchefstroom aflê om net basiese items aan te koop. Daar is sekere satellietfunksies op Ventersdorp, maar die beheer en uitvoerende bestuur vind uiteindelik uit Potchefstroom plaas.

Hy glo egter dat die stand van sake doeltreffend omgekeer kan word, as daar op bestuursvlak ingegryp word.

In die DA se voorlegging aan die afbakeningsraad voer die party aan die geografiese afstand tussen die dorpe het ook ʼn negatiewe uitwerking op raadslede se oorsigrol. Sommige van hulle sit selde voet op Ventersdorp en is buite voeling met inwoners se behoeftes.

Die munisipale afbakeningsraad doen ná ʼn plaaslike verkiesing ʼn hersiening van munisipale grense en ingevolge wetgewing daaroor moet verskillende doelwitte met so ʼn afbakening bereik word. Dit sluit in om die munisipaliteit vir die gebied in staat te stel om sy grondwetlike verpligtinge na te kom sodat ʼn verantwoordbare regering aangewys kan word, die verskaffing van dienste billik en volhoubaar is, maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling bevorder kan word, en ʼn veilige en gesonde omgewing bevorder kan word.

Moolman sê in die geval van Potchefstroom en Ventersdorp is dit allermins tans die geval. Sommige dienste en infrastruktuur is boonop op die rand van ineenstorting.

“Die bestuur moet gelokaliseer word. Om te dink jy gaan ʼn bestuursprobleem oplos deur die bestuur net op ʼn ander plek te plaas, is ʼn fout.”

Die sluitingsdatum vir voorleggings oor die afbakening is 9 April nadat dit vroeër met sowat twee weke verleng is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Moet elke dorp maar nie deur sy eie verkose (nie politieke leiers) uit plaaslike gemeenskap bestuur en beheer word nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.