Sommige matriekleerders is amper stom gelaat nadat hulle Woensdag net-net die eerste vraestel van Afrikaans‑huistaal voltooi het. Afrikaans Eerste Addisionele Taal en Afrikaans Tweede Addisionele Taal is op dieselfde dag afgelê.
“Daar was net genoeg tyd om die vraestel te voltooi,” sê Emma Meyer, ʼn matriekleerder van Hoërskool Vredendal.
Ané Viljoen van Hoërskool Frikkie Meyer sê daar was amper nie genoeg tyd om klaar te skryf nie, aangesien “ek my laaste antwoord in die laaste 30 sekondes van die sessie geskryf het”.
Die Afrikaans‑huistaal-vraestel het uit 70 punte bestaan, wat in drie afdelings verdeel is – begripstoets, opsomming en taal.
Jana Terblanche, hoof van GeRAT, die Afrikaanse vakvereniging van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), gee toe dat hierdie vraestel ietwat uitdagend was.
“Die vraestel was van hoë gehalte en uitdagend, maar tog billik.”
Sy sê die eerste leesstuk was verstaanbaar vir leerders wat Afrikaans‑huistaal neem.
“Daar was geen opvallende moeilike begrippe of woordkeuses nie. Die teks voldoen ook aan die voorgestelde lengte, maar vir leerders wat nie vlot lees nie, sou tyd ʼn probleem gewees het.”
Oor die algemeen, sê Terblanche, was dit nodig dat leerders “vinnig lees” om vrae korrek te beantwoord.
Benewens die tydbeperkings, was sommige vrae in die begripstoets boonop ook ingewikkeld, sê Ané.
Emma het weer met sommige taalvrae in die laaste afdeling geworstel.
Volgens Terblanche was daar veral klem op kritiese taalbewustheid by vraag 4 van die laaste afdeling gelê, wat beteken dat leerders soms twee keer moes dink om reg te antwoord.
“Leerders sou weer goed by vraag 5 gevaar het as hulle hul grammatika geleer het – algemene kennis sou hulle nie hier gehelp het nie,” sê sy.
“Leerders wat die tradisionele taalafdelings goed voorberei het, sal die vrugte pluk.”