Tyd loop uit vir Gauteng- aanlyn aansoeke

Argieffoto

Die Gautengse departement van onderwys het gewaarsku dat dié provinsie se aanlyn registrasiestelsel vir leerders in gr. 1 en gr. 8 op 28 Mei om middernag sal sluit.

Die departement het in ʼn verklaring gesê ouers wat reeds geregistreer het, word versoek om dringend die vereiste dokumente aan die betrokke skole deur te stuur.

“Gautengse skole sal as ʼn spesiale vergunning dié dokumente nog tot 5 Junie om 14:00 aanvaar. Indien die dokumente nié ingedien word nie, sal ouers hul plek in die ry verloor,” lui die verklaring.

Steve Mabona, woordvoerder vir die departement, het Donderdag gesê altesaam 596 skole het hul beskikbare plekkwota oorskry.

Mabona het gesê skole soos Hoërskool Mondeor, Pretoria Hoër Meisieskool en Hoërskool Northcliff het tussen 1 538 en 1 960 aansoeke ontvang.

Daar is 385 skole in die provinsie met minder as 50 aansoeke, 79 skole met minder as 20 aansoeke en 69 skole met minder as tien aansoeke. Dié skole is almal in informele nedersettings geleë.

Volgens Mabona is dit kommerwekkend dat ouers in informele nedersettings té laat wag om te registreer. “Die departement skakel laat aansoeke uit en ouers wat nie op 28 Mei 2018 om middernag aanlyn aansoek gedoen het nie, loop die risiko dat hul kinders nie in Januarie 2019 skool toe sal kan gaan nie,” het hy gewaarsku.

Plasings sal tussen 18 Julie en 31 Oktober gedoen word. Mabona het gesê vergunnings sal nié gemaak word indien skole nie meer kapasiteit het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Alida ·

Duisende sal in elk geval nie kan skool toe gaan nie want niemand het voorsiening in 24 jaar gemaak vir die geboorte ontploffing en daaraan gedink om skole te bou nie.

Hanna Hoekom ·

Ouers in informele nedersettings weet hulle het verantwoordelikheid mbt plasing van hul kinders in skole vir 2019 nie. Hulle sal nie betyds (of enigsins) registreer nie, maar doodeenvoudig in Januarie by skole van “hul keuse” opdaag en amok maak sou die skole reeds vol wees. Dan word daar rassisme geskree en buitebande gebrand. Dit is ouers in hierdie informele nedersettings wat maak dat hul kinders altyd agtergeblewe sal bly!

Afdraande ·

Departement van Onderwys kan maar ophou met hul dreigtaktiek.
Gaan nie werk nie.
Almal weet dis mos ‘n kind se ” grondwetlike reg ” om onderwys te ontvang, ongeag of die leerders als afbrand of nie. Of hul bywoon of nie. Of hul aanrand of nie.

Alida ·

Ja wel kom ons slaan maar ons hande saam ons kan in elk geval nie die “slim” mense iets van beplanning leer nie. Laat die vure brand.

Snowball ·

Implikasie van aanlyn registrasie is dat almal toegang het tot internet en tegnologie, is dit nie diskriminerend en juis uitsluitend van ouers en kinders wat nie hieroor beskik nie? Maar skole mag nie leerders wegwys op grond van die voorkeur van moedertaal onderrig nie? Lesufi en sy trawante pluk latte vir hulle eie agterente!! Wonder of hy hierdie afsnydatum en registrasieproses ook in ‘n hof beskik gaan kry, want dit lyk vir my meer na ‘n komedie, as enige iets anders.

Linda van Mosselbaai ·

Ag NEE, gaan on grootmense nou alweer ons kinders – die toekoms van more benadeel? Kinders het die reg tot opvoeding – is kinders nie veronderstel om skoolpligtig te wees van die jaar waarin hy 7 word tot op 15 jarige leeftyd. lyk my daar kan nie getel word nie – as x hoeveelheid kinders gebore word moet daar mos na soveel jare x aantal plekke wees vir boet en sus om skool toe te gaan ( minus die wat dit nie oorleef nie asook die wat land uit is) Geboortes word geregistreer asook afsterftes asook wie immigreer so daar is GEEN verskoning nie. Leer die klomp wat so in die tronk sit om te bou – SKOLE en HUISE. Ek bid dat daar vir elke kind in Suid Afrika ‘n wonderlike skool loopbaan sal wees – wat die behoeftes van daardie kind kan aanspreek – vir gewone skole – vir spesiale skole en dan bid ek vir al die onderwysers en ouers wat hierdie kinders moet koester en opvoed.

Lynne ·

Alles goed en wel! Maar onthou net om gereed te maak vir ‘n 60 000 + immigrant leerlinge wat nog van nou tot Januarie 2019 die land gaan binnestroom en derhalwe geakkomodeer moet word. Dit gebeur elke jaar en gaan nie sommer verander nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.