Tyd loop uit vir serebraal gestremde 8-jarige

Liane Jacobs (Foto: Verskaf)

Die ouers van Liane Jacobs, die serebraal gestremde 8-jarige meisie wat aan nierversaking ly, probeer alles in hul vermoë om hul blondekopdogtertjie aan die begin van Februarie in ’n privaat hospitaal te laat opneem.

Klein Liane ontvang tans behandeling in ’n Johannesburge staatshospitaal waar haar tyd egter begin uitloop aangesien ’n serebraal gestremde pasiënt glo nié dialise in ’n staatshospitaal kan ontvang nie.

Dit is gelukkig nie die geval in ’n privaat hospitaal nie en Danie en Corrie Jacobs spook onverpoos om geld in te samel om klein Liane so vinnig as moontlik te help.

“Ons vat dit dag tot dag. Ons wil net die beste hulp vir haar hê. Sy is al deur so baie,” verduidelik Corrie aan Maroela Media.

Maroela Media het vroeër berig Liane is met geen anus, geen tragea, een nier, ’n vernoude slukderm en skoliose gebore – nuus wat as ’n groot skok vir die Jacobs-egpaar gekom het aangesien hulle eers by Liane se geboorte van haar erge mediese probleme uitgevind het.

Boonop behoort die gesin nie aan ʼn mediese fonds nie en het Liane se skokdiagnose saam met ʼn donker wolk van finansiële swaarkry gekom.

Ondanks Liane se talle abnormaliteite het die pad eers in November verlede jaar werklik ’n opdraande stryd geword. Liane het ewe skielik begin siek voel waarna hulle ontdek het dat haar enigste nier aan die versaak is.

Liane se gesin by haar siekbed. (Foto: Verskaf)

Sy moes noodgedwonge dialise ontvang en ’n onderwyseres het aangebied om Liane op haar mediese fonds te sit. Die behandeling kan egter steeds nie gedek word nie aangesien sy in haar eerste jaar by die mediese fonds is en dekking nié gedurende hierdie tydperk toegestaan word nie.

Liane is gevolglik aan die einde van verlede jaar in ’n staatshospitaal opgeneem om dialise te ontvang. Dit is hier waar Liane een aand nie kon asem kry nie en vir ’n ruk lank sonder suurstof was voordat dokters by haar uitgekom het. Liane is gevolglik ook serebraal gestrem gelaat.

“Die donasies kom darem die laaste paar dae bietjies-bietjies in,” vertel Corrie. Sowat R25 000 van R200 000 is reeds ingesamel. Dié bedrag is egter ’n druppel in die emmer aangesien die mylpaal net ’n geraamde bedrag is. “Dit is moeilik om te sê hoe lank sy dialise gaan nodig hê. Die geld moet ook gebruik word vir dinge soos fisioterapie en ’n rolstoel.”

Corrie vertel verder dat Danie ook met die mediese fonds probeer onderhandel aangesien haar een-jaar-merk by die fonds in April vanjaar verby is.

Intussen gaan Liane se toestand agteruit. Corrie verduidelik dat Liane maer en ondervoed is en om sake te vererger, het sy ook vandeesweek ’n kiem opgetel.

“Ons ondersoek maar nog baie moontlikhede. Ons sal hopelik teen volgende week weet of sy na die privaat hospitaal oorgeplaas sal kan word of nie.”

Indien genoeg geld betyds ingesamel kan word, sal Liane oor ’n tydperk van drie maande ’n soort dialise ontvang wat tuis gedoen kan word – ’n gedagte wat vir nou effens verligting bring.

Bydraes vir Liane se mediese onkoste kan op die ClicknDonate-webtuiste gedoen word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Charles ·

Een woord: Solidariteit Helpende Hand- dis waarom ek die organisasie ondersteun- omdat hulle uitkyk en sorg vir my mede Afrikaners, soos hierdie dogtertjie- my volk. Help asb.

HP ·

Jy`s reg Charles. Laat ons saamstaan en Solidariteit en Afriforum ondersteun. Saam is ons sterker. Ek hoop en glo Helpende Hand sal help.

Deloris ·

Glo my as ek op n mediese fonds was het ek met liefde hierdie blomkind op my medies gesit. Ek glo en hoop dat daar iemand sal wees was hiedie kindjie kan help aangesien ek werkloos is en nie werk kry nie….. ek probeer elke dag dat iets sal opkom vir my.

HP ·

Ek sal styf duime vashou dat jou situasie verander Deloris. Ek voel soos jy en almal hier baie jammer vir hierdie dogtertjie. Miskien is ek verkeerd maar ek hoor of lees nooit van privaat hospitale wat na vore tree in gevalle soos die en meer bekostigbare behandeling aanbied nie. Ek verstaan behandeling is duur maar hier is `n 8 jarige siek dogtertjie se lewe op die spel. Die naam van die mediese fonds, wat skynbaar nie bereid is om hul reels effens te buig om `n lewe te red nie, behoort bekend gemaak te word sodat mense kan besluit of hulle nog aan so `n fonds wil behoort. Mediese fondse en privaat hospitale is gewoonlik uiters winsgewend en ek voel hulle kan gerus bietjie van hulle winste inboet om hierdie dogtertjie te help.

Ruik n rot ·

Sy was nie gestremd toe sy by die staatshospitaal opgeneem is nie. In n vorige artikel is genoem sy was in n normale skool, super slim en het selfs haar eie doeke geruil. Nadat sy nie kon asem kry en die drs eers “later” by haar kon uitkom, is sy nou gestremd. Waar was die kastige verpleegsters?
Ek ruik n rot.
Dagvaar daai hospitaal. Dis nalatigheid en waarskynlik plain laksheid en arrogansie wat n verstandelike normale kind nou testremd gelaat het.
Kom ons kyk of my kommentaar die keer geplaas word.

JohanL ·

Kom nou MM lesers – kom ons help die onskuldige kind asb en gee haar ten minste net ‘n kans. Elke bietjie help.

Baie dankie.

GM ·

Die staatshospitaal behoort verantwoordelik gehou te word vir die kostes aangesien haar gestremdheid deur hul nalatigheid veroorsaak is. Hoe kan haar gestremdheid nou maak dat hul haar nie verder kan behandel nie?
Ai pappa en mamma, ons gebede is met julle. In dié geval, kan die privaathospitale en mediese fonds gerus uithelp, April is om die draai, en sy word hulp geweier by die staatshospitaal. Maar hul sal mos eerder kinders laat sterf, as afwyk van protokol.

Mamma ·

Hoekom kan daar nie n mediese bestaan uitsluitlik vir kinders onder 12 nie , wat al die aspekte dek van kind wees , geen volwasse moet aan daardie medies behoort nie net as voog oor die lid wat op die medies is geen, teen n minimale bedrag n maand kan elke liewe baba gedek wees van geboorte en al die geld wat so vermors word op volwassens wat net alles afbrand kan uitsluitlik net vir n kinder hospitale gebruik word met die beste drs ,so betaal volwassenes dan net vir hulle self op n medies waar die wag tydperk maar kan geld

Ouma ·

Dit is baie baie hartseer ek lees die berig oor en oor .Ons klein seun is 6 jaar oud en ook serebraal gestrem deur dat iets in die staatshospitaal verkeerd gegaan het .Sy ouers het n saak by n prokureur oop gemaak hulle vat die saak aan sou hulle dit wen vat hulle n seker bedrag maar dit vat lank en daar is nog geen hof datum nie .Dit is seker al 3 jaar aan die gang.Ek kry die mooi kindjie so jammer dat sy soveel moet deur gaan hoop sy kry gou die regte hulp .As n mens nie n goeie medies het nie help die dr s nie graag nie en as jy n goedkoop medies uitneem net vir die kind dek die medies nie als nie en daar is lang wagtydperke so wat help dit jy betaal daardie medies maar jy het 1 of dalk 2 jaar wag tydperk. Vra my want dit is wat ons nou agterkom met die medies wat ons klein seun het en daar is altyd by betalings .Sterkte aan die ouers en die mooi dogtertjie wat se lewe nou so agteruit gaan .Ek dink elke kind verdien die beste en moet die beste hulp kan kry .
My klein kind kan ook nie loop en praat nie en dra nog doek en drink bottel.Die ander dag toe ek hom na sy nuwe paneel dr toe neem het die dr nie eers moeite gedoen om hom ordentelik te onder soek nie.

Vat so... ·

Het berig aangestuur na Good morning Angels – Jacaranda fm ook…..miskien werk dit?!

Susan ·

Wonderlik Vat so, briljante gebaar. Die donasie bedrag styg baie stadig, maar ek glo en vertrou dat die pragtige dogtertjie vinnig gehelp sal word.

Sorita ·

Dis sulke hartseer gevalle wat my laat wonder hoekom dokters nog die Eed van Hippokrates afle.

marius ·

Bankbesonderhede:
Ms L Jacobs
1508278391
Bankkode 470010
Capitec Bank

Hierdie bankbesonderhede is van ‘n vorige berig gekry.

HP ·

Julle het my nou voorgespring Virgil en Marius! Goeie werk. Kom ons help hierdie maatjie.

elsa ·

Dis dan in ‘n staatshospitaal waar sy as gevolg van gebrek aan suurstof en dalk nog nalatigheid ook, serebraal gestremd geraak het. Hoe kan hulle wat die oorsaak was, dan nou weier om dialise aan ‘n serebraal gestremde te gee?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.