Tyd loop uit vir studiehulpaansoeke

bcom graad studeer akademia

Argieffoto.

Behoeftige studente wat deur die nasionale finansiële hulpskema vir studente (NSFAS) wil aansoek doen om studiehulp vir 2019, het nog net 12 dae oor om dit te doen.

Die aansoeke vir studiehulp sluit op 30 November. Enige behoeftige matrikulant of student wat volgende jaar aan ’n openbare universiteit of ’n beroepsgerigte opleidingskollege wil gaan studeer, kan nou sy of haar aansoeke aanlyn indien of by enige van die landswye nasionale jeugontwikkelingsagentskap (Nyda) sentrums.

Aansoeke vir NSFAS-studiebystand het op 1 September geopen. Randall Carolissen, NSFAS-administrateur, het vroeër gesê die hulpskema het teen 1 November reeds 191 887 aansoeke ontvang – dit is meer as dubbel die hoeveelheid aansoeke wat in dieselfde tydperk in 2017 ontvang is.

“NSFAS ontvang gemiddeld 3 500 aansoeke per dag. Hierdie getalle kan toegeskryf word aan die maklike aanlynaansoekstelsel waardeur aansoekers hul aansoeke binne vyf minute kan voltooi. Ons vennootskappe reg oor die land het ook ons uitreik-aksie verbeter,” sê Carolissen.

Teen begin November het die oorgrote meerderheid aansoeke uit KwaZulu-Natal gekom (53 626), gevolg deur Gauteng (43 943) en Limpopo (27 716). Die provinsie waar die minste aansoeke ontvang is, is die Noord-Kaap met slegs 1 470.

Die meerderheid aansoekers het aangedui dat hulle graag aan Unisa wil studeer (46 788), gevolg deur Universiteit Johannesburg (17 036), Tshwane Universiteit van Tegnologie (15 421), Universiteit van KwaZulu-Natal (10 672) en die Universiteit van die Vrystaat (10 105).

Aansienlik meer mans as vroue het aansoek gedoen vir studiehulp – 122 322 mans teenoor 69 565 vroue. Van die meer as 191 000 aansoekers ontvang 22 038 tans Sassa-toelae.

Kriteria waarna gekyk word wanneer voornemende studente vir NSFAS-studiehulp aansoek doen, sluit in:

  • Is jy ʼn Suid-Afrikaanse burger?
  • Is jou huishouding se gekombineerde inkomste nie meer as R350 000 per jaar is nie?
  • Is jy ʼn Sassa-begunstigde?
  • Het jy by ʼn openbare universiteit of beroepsgerigte kollege aansoek gedoen vir ʼn kwalifikasie?
  • Is jy reeds ʼn geregistreerde universiteitstudent met ʼn jaarlikse huishoudinginkomste van minder as R122 000 per jaar?
  • Het jy graad 9 en graad 10 geslaag om aan ʼn beroepsgerigte kollege te kan studeer?
  • Het jy matriek geslaag om aan ʼn universiteit te kan studeer.

Klik hier vir meer inligting en om aansoek te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

zoom zoom ·

Hoeveel van die vorige skuld is reeds terugbetaal deur studente en wat was die bedrag wat afgeskryf is as vrugtelose uitgawes. Want almal wat die fondse ontvang slaag nie en baie verdwyn net. Die is net nog ‘n voedingsskema vir jong mense en Dan ook net sekere jonges.

Pensioenaris ·

Jammer Jaco, dis nie waar nie, ek ken meer as een wit student wat met n beurs deur hulle studeer.

Te ryk maar te arm ·

Ek kan nie bekostig om my kind te laat studeer nie. Maar ek is “te ryk” om vir NSFAS hulp te kwalifiseer.
Ek is ook reeds te diep in die skuld en kan nie addisionele lenings aangaan soos bv vir ‘n studielening nie . . . .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.