Tyd loop uit vir Wes-Kaap om getel te word

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: StatsSA/Facebook)

Die sperdatum vir Wes-Kapenaars om aan die 2022-sensusopname deel te neem, kruip al hoe nader, terwyl die aantal mense wat tot dusver aan die opname deelgeneem het, steeds ver onder die gemiddelde getal van die res van die land is.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA), wat die sensusopname bekragtig, het vandeesweek gesê dat minder as 70% van die inwoners in dié provinsie hulle tot dusver laat tel het, terwyl die gemiddeld vir die res van die land op byna 90% staan. Dít ondanks herhaaldelike oproepe deur die Wes-Kaapse regering vir inwoners om aan die sensus deel te neem.

Die sperdatum vir inwoners van die Wes-Kaap om aan die sensus deel te neem is vroeër verleng, maar sal Saterdag (14 Mei) eindig nadat al die sogenaamde opruimaktiwiteite afgehandel is.

“StatsSA is bemoedig deur goeie voltooiingsyfers ondanks die reën, vloede, Covid-19 en ander uitdagings wat vanjaar se sensus in die gesig gestaar het,” sê David Everatt, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Statistiekraad.

“Die raad is egter veral bekommerd oor die lae vlak van deelname in die Wes-Kaap. Ons kommer word vererger deur die feit dat hierdie probleem aan ʼn spesifieke gebied gebonde is, eerder as ʼn konsekwente verskynsel oor al die ander provinsies.

“Die risiko hiervan is dat die sensus in geheel benadeel sal word en dat die data wat deur die regering benodig word vir nuwe plaaslike inisiatiewe skeefgetrek word. As die mense nie vir ons sê wat hulle nodig het nie, kan StatsSA nie die regering daarvolgens van raad bedien nie.”

Die premier van die Wes-Kaap, Alan Winde, het inwoners al by verskeie geleenthede aangemoedig om getel te word, aangesien dit andersins sal voorkom asof die provinsie ʼn lae bevolkingsyfer het, ongeag ʼn beduidende groei in bevolking.

Dit sal op sy beurt ʼn uitwerking hê op begrotingstoewysing en ander hulpbronne wat nasionaal beskikbaar gestel word. Dit sluit in die toewysing van dokters, verpleegsters en onderwysers vir die provinsie.

“Die syfers, soos dit nou staan, sal die geldigheid van die sensusresultate in die provinsie beïnvloed,” sê Everatt.

“Terwyl die ware dekkingsfout – ʼn maatstaf wat hoofsaaklik gebruik word wanneer mense nie getel word nie (tekorttelling) – deur die demografiese ontleding van die sensusdata sal plaasvind, is dit onvermydelik dat die huidige tekort aan getelde individue in die Wes-Kaap die algehele telling sal beïnvloed. Dit sal ook die demografiese, sosiale en ekonomiese inligting, asook inligting oor die behuisingsomstandighede van die mense in die Wes-Kaap beïnvloed.”

StatsSA het mense opnuut aangemoedig om deel te neem aan die sensusopname of om die sensusvraelys aanlyn in te vul.

“Dit is in jou eie belang, die breër openbare belang en in nasionale belang om getel te word sodat die regering weet wat jou behoeftes is en die sensus ʼn akkurate telling van die bevolking kan deurvoer,” sê Everatt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Marius ·

Ek wonder of al die onwettige inwoners en insypelaars ook getel word.

Owlie ·

Waar veldwerkers wat na die publiek moet gaan in groepe op straat hoeke saamdrom en glad nie lyk of hulle daar is om n werk te doen nie sal n sensus telling of enige marknavorsing studie nooit suksesvol voltooi word nie. Die paar kere – en dit was bitter min wat ek hulle wel in Bellville gesien rond beweeg het was hulle altyd in groepe van 4 of meer bymekaar en glad nie baie netjiese voorkoms grhad wat enigsens die beeld van die maatskappy vir wie hulle die werk doen uitdra nie Daar word so baie vrae gevra dat bitter min lede van die publiek met tuis besoeke voltooing sal doen juis weens covid, veiligheid en tydsduur Sekuriteits komplekse word toegang vir alle marknavorsings studies geweier – dit weet alle mark navorsings maatskappye en daar is alternatiewe maniere om dit wetting gedoen te kry As n voormalige marknavorsings spanleier kan ek in eerlikheid sê moenie die weskaap blameer waar deadlines nie deur spanleiers en hul bestuur behaal kan word nie

VaalDonkie ·

Ek wag nou nog vir die sensus-mense om te kom klop aan my deur.

Buks ·

Hoe tel hulle mense wat werk waneer hulle net van 9 tot 3 tel en MOET by jou huis ingaan en almal sien wat daar bly? Hulle was anderdag by my op die plaas voor die hek ek het hulle aangeraai om liewers nie binne te kom nie en hulle gesê ons is 3 man vrou en dogtertjie. En hulle kan maar ry hulle het my nou getel. Toe wil hulle inkom… Hulle het niks binne my huis uit te waai nie.

PieterJ ·

Die hele sensus is n klug en mors van geld, dit gaan niemand se lewe verbeter nie.

Manie ·

Sedert wanneer moet ek myself laat tel, is dit nie SSA se plig om my te tel nie? Ons speel nie 1,2,3 ek blok myself nie.

Jannie van Niekerk ·

Hier by ons het die Sensus mense oral rondgeloop maar net in die staat waar ek woon, weet ek van DRIE huise waar hulle nie was nie. Ek het self my sms nr wat ek telefonies gekry het omdat ek my sensus aanlyn voltooi het aan hulle oor gaan oor dra in die straat omdathulle ook nie by my kom klop het nie. Nou wonder ek, is daar dalk ‘n sabotasieveldtog in die Weskaap aan die gang deur sommige veldwerkers wat sensus moet doen?

Witbaard ·

SARS weet presies hoeveel mense betaal belasting. Die dept. van onderwys weet presies hoeveel kinders daar is. Die regering weet presies hoeveel mense Sassa geld kry. Tel die 3 op, dan behoort jy te weet hoeveel mense in elke provinsie is.

marius ·

Gaan loop hulle in die aande en tel die mense in die strate ?

Delia ·

Is almal in die ander provinsies getel? Geen telling sal n verskil maak nie of sukses bepaal nie. Want beplanning is daarna nodig. En dis waar fie probleem inkom. Korrupsie ook n groot probleem

jou gewete ·

ek kan werklik nie begryp dat alle provinsies glo 90% getel is maar Wes Kaap nie. iewers ruik iets

Pietertjie ·

Ek het vir etlike jare by Stats SA gewerk, en was nog nooit getel in die vyf sensusse in daardie tyd nie. Ek woon in ‘n gewone huis sonder omheinings of honde wat die opnemers kan verhoed om my te besoek nie.

Jaco ·

Regte catch 22 situasie: neem nie deel aan die sensus nie en daars oor ‘n jaar 50% minder polisiëring en gesondheidsdienste teenoor nou. Neem deel en oor ‘n jaar of 2 word dié wat deelgeneem het, eerste die slagoffers van radikale ekonomiese transformasie en onteiening sonder vergoeding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.