Tyd om finaal van e-tol ontslae te raak, maan AA

(Argieffoto: ANA)

Ná jare se vertragings, sal die regering na verwagting uiteindelik ʼn aankondiging maak oor die pad vorentoe vir e-tol in Gauteng. Die aankondiging word laat in Oktober tydens finansiesminister Enoch Godongwana se mediumtermyn-begrotingsrede (MTBPS) verwag.

Die Outomobiel-Assosiasie (AA) sê tensy die regering e-tol opskort, sal die stelsel steeds onsuksesvol bly. Die AA meen die regering moet ook almal terugbetaal wat al jare lank e-tol betaal en enige uitstaande skuld kanselleer.

“Godongwana is nou in die beste posisie om beslissend op te tree met e-tol en die stelsel finaal te skrap. As e-tol voortduur, op watter mate ook al, sal dit dieselfde swak uitslae oplewer en mense se siening van dié gebrekkige stelsel verder verlaag.”

Sedert e-tol vir die Gautengse hoofwegverbeteringsprojek (GFIP) in Desember 2013 ingestel is, bly dit ʼn omstrede kwessie en talle motoriste in die provinsie weier om te betaal. “Motoriste voer aan, net soos wat hulle destyds gedoen het, dat die regering die GFIP op ʼn ander manier moet finansier, moontlik deur inkomste wat verhaal word uit die algemene petrolheffing.”

Die AA se 2019 Padfinansieringsverslag waar internasionale padfinansieringsmodelle ondersoek word, is hier beskikbaar: https://aa.co.za/road-funding-report/.

“Tydens ons vergadering met die minister van vervoer, Fikile Mbalula, in Augustus 2019, het ons ons bevindings voorgelê dat betalingsnakoming baie laag is en dat motoriste in die provinsie ʼn beginselbesluit geneem het om nie e-tol te betaal nie. Mbalula het aangedui dat ʼn vergadering oor die besluit oor die toekoms van e-tol die volgende jaar Maart sou plaasvind. Dit het egter nooit gerealiseer nie en verskeie datums wat hy intussen gegee het om duidelikheid oor e-tol te gee het ook gekom en gegaan. Mbalula het in Junie vanjaar gesê dat Godongwana in sy MTBPS duidelikheid sal gee oor e-tol. Ons vertrou dat dié datum sal bly staan,” voeg die AA by.

Volgens die AA veroorsaak die vertraging in ʼn aankondiging oor e-tol verwarring en dit dra verder daartoe by dat mense weier om te betaal. Die organisasie meen mense wat e-tol betaal het, het boonop ook intussen ophou betaal en dit lyk of nakoming nou minder as 18% is – minder as die helfte van die hoë nakomingskoers van 40% in 2014.

“Indien die regering die huidige stelsel in plek sal hou, sal dit onsuksesvol bly. Ons mening is duidelik: die regering moet fondse uit bestaande inkomstekanale vir die GFIP aanwend, eerder as om hulle na beleërde motoriste te wend om die stelsel te finansier.”

Die AA sê motoriste was reg om die regering se uitgawes in talle gebiede, soos groot salarisse en bonusse aan uitvoerende hoofde by swakbestuurde staatsbeheerde ondernemings, te bevraagteken. Dit terwyl hulle telkens gevra word om bydraes te maak bo die belasting wat hulle reeds betaal.

Die AA sê hy gaan voort om deur amptelike kanale te versoek dat e-tol geskrap word. ʼn aanlyn petisie is ook van stapel gestuur om motoriste in die provinsie te maan om hul stem by te voeg om e-tol te skrap. Die petisie is hier beskikbaar: https://inbound.aa.co.za/e-tolls-petition-page

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Elize ·

Ek het nog nooit en sal nooit e-tol betaal nie. Laat hulle salarisse maar pa staan vir hierdie siek spul

Herman L ·

As Mbalula iets sê, is die kans dat dit gebeur baie naby aan nul!

Klaar me Maroela ·

Gee nie ‘n snars om WAT hulle besluit of aankondig nie. Ek het nog nooit en sal nooit betaal om op ‘n pad te ry wat ek al oor en oor betaal het nie. Punt.

Souterig ·

Ek moes nou en dan van hierdie roetes gebruik maak vir werksdoeleindes, die klein bedraggies is wel betaal oorspronklik. Maar toe begin die ongerymdhede, bv motors wat ingeruil is (by groot handelaars nogal) wat nog maande op my naam was waarvoor ek die e-tol rekenings gekry het, toe ‘n nommerplaat wat gekloon is (nogal ‘n motorfiets s’n op ‘n kar wat mildelik op en af gery het) toe besluit ek om heeltemaal op te hou om te betaal. Ek het al die bewyse so hulle kan doen wat hulle wil, ek gaan nie my tyd met sulke nonsens mors nie. Die stelsel maak kriminele van wetsgehoorsame burgers, en dit gaan ek nie vat nie.

christo ·

Indien die staat nie so spandabelrig met al die belasting en heffings optree nie, sal daar geld gewees het om pad infrastruktuur instandhoudingswerk te doen. Op die oomblik maak die staat met die brandstofheffing soos hy wil.

Pietertjie ·

Die Etol-sage begin nou al net so afgesaag raak soos Zuma se hof-verskynings.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.