Tyd raak min vir kommentaar oor die NGV

medies-pille-gesondheid-pyn-pixabay

Foto: Pixabay/Pexels.com

Die publiek het nog net tot die einde van vandag om kommentaar oor die wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in te dien.

Navorsers verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het daarom besluit om vandag om 13:00 regstreeks op die vakbond Solidariteit se Facebook-blad ʼn vraag-en-antwoord-sessie te hou vir mense wat nog vrae het oor die regering se omstrede planne om die NGV in te stel.

Solidariteit het reeds op 21 Augustus vanjaar ʼn beraad rakende die NGV gehou waar talle mediese, ekonomiese en regskenners hul kommer oor die NGV gelug het. Die vakbond het die beraad ook gebruik om insette te kry om sodoende sy eie kommentaar op die wetsontwerp in te dien.

Maroela Media het tydens die beraad berig dat prof. Alex van den Heever, ʼn kenner van beleidstellings vir gesondheidsorgstelsels verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand, glo daar is talle sleutelfoute in die voorgestelde NGV-beleid.

“Ek glo nie die NGV is enigsins ontwerp om te werk nie. Die NGV is ’n lugkasteel, ’n onbereikbare droom, niemand kan regtig enige uitkomste lewer nie, maar waaroor daar eindelose beloftes tot ver in die toekoms gemaak kan word,” het Van den Heever gesê.

Intussen het die burgerregte-organisasie AfriForum aangedui dat die organisasie reeds Dinsdag breedvoerig kommentaar oor die wetsontwerp ingedien en sterk kapsie daarteen gemaak het.

Volgens dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer by AfriForum, is die wetsontwerp in verskeie opsigte problematies en vaag.

“Een van die heel grootste probleme hiermee is die koste van die NGV. Nêrens in die wetsontwerp word daar melding gemaak van hoeveel dit gaan kos nie, maar die belastingbetaler word goedsmoeds gedwing om daarvoor te betaal.

“Om omvattende, gratis gesondheidsdienste aan 55 miljoen mense te wil bied terwyl maatskappye en net sowat 5 miljoen mense belasting betaal, is waansin. Dit gebeur op stuk van sake nie nou nie en die middelklas het nie geld daarvoor nie, terwyl daar ook geen aanduiding is wat presies met hierdie omvattende dienste bedoel word nie.”

Brink het gesê aangesien NGV verpligte en groeiende koste op die middelklas afdwing, gaan dit hul vermoë belemmer – en waarskynlik uiteindelik beëindig – om steeds aan mediese fondse te behoort en privaat gesondheidsdienste te bekostig. “Almal sal dan van die beroerde openbare gesondheidsektor afhanklik wees en dus die las van dié sektor vergroot. Dit sal uiteraard middelklas-emigrasie versnel en die finansieringsmodel vir NGV ondermyn.”

Volgens Brink wil die staat ingevolge die wetsontwerp sowel die reguleerder as kliënt van gesondheidsdienste in Suid-Afrika wees. “Hoewel die wetsontwerp aanvoer dat die te stigte NGV-fonds dienste by sowel die openbare as die privaat sektor namens die publiek gaan aankoop, beteken dit in praktyk dat die fonds slegs dienste by die privaat sektor aankoop. Soos in die geval van grond, sal die staat nie meer markverwante pryse wil betaal nie en die privaat sektor boelie om dienste teen vasgestelde pryse aan die breë publiek te lewer. Hierdie toedrag van sake sal weer medici vinniger laat emigreer.”

Voorts is AfriForum se kommentaar ook daarop gerig om die staat se pligsversuim ten opsigte van korrupsie, meriete en goeie bestuur uit te lig. “Korrupsie, onreëlmatige besteding, regstellende aksie en kaderontplooiing definieer vandag se gesondheidsektor. Hoekom sal dit enigsins met NGV anders wees? Indien hierdie probleme nie reggestel word nie, gaan meer geld nie help nie.”

Volgens Morné Malan, senior navorser by die SNI, behoort alle Suid-Afrikaners hulle op die hoogte te bring van die strekking van die NGV en die moontlike gevolge wat dit vir hulle mediese sorg inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Eish ·

Synde ek nie meer tot die middelklas behoort nie, en slegs Sangomas en kwaksalwers gaan oorbly na die ” middelklas emigrasie”, is ek terug op Lennon’s medisyne, synde ek doodsallergies is vir lang toue.
Weereens besluit n onbevoegde regering wat vir ons die “beste” is.

zoom zoom ·

Wat ookal wie van buite iets voorstel ivm die mediese aborsie wat die staat voorlê mors sy asem en tyd. Die regering van die dag het klaar besluit war gaan gebeur en ook het hulle beloftes gemaak aan hulle kiesers so om 2019 se stemme te wen en ook die verkiesing is daar nie nou tyd vir omdraai nie. Mediesedienste gaan verval soos wat dit nou gaan met die water probleme in die vaalrivier

Irma ·

Kan net vir myself dink hoe ons as onwelkome groep in die land in die staats hospitale behandel gaan word. Moontlik deel van hul ideë van die verspreiding van rykdom…. want dan gaan ons bydraes na hulle waardat dit wanbestuur kan word en hul greep op ons al hoe sterker raak. Soos dit tans is het ons al kos en komberse vir pasiente in ‘n staats hospitaal geneem en hulle self versorg al was dit nie eers familie of vriende nie. Neewat ek dink ons dae op aarde is getel. Hulle sal seker maak daarvan. Wat gaan van al die mediese fonds werknemers word? Hierdie mense het geen redenasie vermoë of insig nie. Pateties en tragies dat ons lot in die hande van sulke mense geval het.

Landsburger ·

Die regering is totaal onbekwaam om die Dept. te bestuur. Dit was vanaf 1994 duidelik. Nou sit hulle met die hande in die hare. Weet nie herwaards of derwaards nie. Nou moet die privaatsektor( met hul geld en kundigheid ) kom red. !

Andre ·

Hulle kan nie eens die huidige Gesondheids dienste behoorlik bestuur en onderhou nie wat wil hulle met die hele land s’n doen. Die ander koeie is leeg gedrink, soek nou n ander een.

ZAR ·

Waar kan ons gaan kommentaar lewer oor die NVG wetsontwerp Maroela?

vissie ·

Die privaat mediese sorg se biljoene is die trekpleister vir die NGV en die staat waarin hulle hul kloue kan slaan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.