Tyd tot Vrydag om vir verkiesing te registreer

(Foto: Maroela Media)

Suid-Afrikaners wat aan vanjaar se algemene en provinsiale verkiesings wil deelneem, het net tot Vrydag (23 Februarie) om te registreer.

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër die week aangekondig dat die verkiesing op 29 Mei sal plaasvind.

Die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) het die aankondiging oor ʼn verkiesingsdatum verwelkom en verwag dat die datum Vrydag in die Staatskoerant geproklameer gaan word.

Stemgeregtigdes word intussen aangemoedig om so gou moontlik te registreer. Ramaphosa, wat burgers ook aanmoedig om aan die proses deel te neem, het vanjaar se verkiesing as ʼn “belangrike geskiedkundige mylpaal in ons demokratiese kalender” beskryf.

Volgens die OVK is 27,6 miljoen Suid-Afrikaners in hierdie stadium vir die komende verkiesing geregistreer.

Ongeregistreerde kiesers of dié wat hul besonderhede moet opdateer, kan hul naaste OVK-kantoor besoek of dit aanlyn doen by registertovote.elections.org.za. Die OVK kan ook op WhatsApp by 060 088 0000 gekontak word.

Benewens ʼn groot veldtog om stemgeregtigdes aan te moedig om te registreer, insluitend twee registrasienaweke in Januarie, het die OVK vanjaar sy heel eerste registrasieplatform vir Suid-Afrikaners in die buiteland bekendgestel.

Meer as 18 000 Suid-Afrikaners in die buiteland het sedertdien al aanlyn geregistreer. Die meerderheid van dié mense woon in die Verenigde Koninkryk, Nederland, die Verenigde Arabiese Emirate en die VSA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Richard ·

Stem sommer DA ook. Dis die enigste party wat die land beter kan regeer as die ANC.

Bolandse Nooi ·

Ek het nou geregistreer, maar ek weet vir seker ek gaan nie meer by daai adres wees wanneer dit nou stemdag is nie en ek weet ook nie waar ek gaan wees nie, wat nou gemaak???

Jack ·

Sjoe 27 Miljoen.Maak bietjie die som.As die verkiesing gaan uitdraai soos die vorige verkiesings sal dit ‘n tragedie wees.

Fubar ·

Mors van tyd. Niks gaan verander nie. Die land is totaal in sy peetjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.