‘Tyd vir die krag van die gemeenskap om in te skop’

Dr. Dirk Hermann by Sol-Tech se nuwe kampus wat as die stel van die musiekvideo dien vir ‘n lied wat spesiaal saam met Solidariteit se Werkherstelprogram uitgereik gaan word. (Foto: Facebook.)

Dit is in DNS van die Afrikaner om op te staan en self verantwoordelikheid te vat.

Só meen dr. Dirk Hermann, die bestuurshoof van Solidariteit. Hy het met Maroela Media gesels oor die Solidariteit Beweging se Werkherstelprogram wat Donderdag by die Atterbury-teater in Pretoria bekendgestel word.

Dié program is die grootste van sy soort wat die organisasie in sy 118 jarige bestaan aanpak. Dit wil miljarde rande mobiliseer om werkverliese te bekamp, opleiding te verskaf en maatskaplike welstand te bevorder, en sal oor die volgende vyf jaar uitgerol word.

“Ons het eintlik al lankal ʼn klomp krake by die staat geïdentifiseer: Dit sentraliseer toenemend en is terselfdertyd besig om te verswak. Daar is ongelooflike druk op die ekonomie, deels as gevolg van die poging om te sentraliseer en verder beleef ons dat minderhede al hoe meer vervreem word.”

Die Covid-19-pandemie het toekomstige gebeure versnel, meen Hermann.

“Waar ons geweet het die staat wil meer sentraliseer en is besig om te verswak, het dit met die pandemie net vinniger begin gebeur. Die staat is behep met mag en in die grootste tyd van nood is hulp op grond van ras geweier.”

Die idee van ʼn werkherstelprogram is nie iets nuuts of vreemd nie, aangesien die pandemie die toekoms versnel het, het dit Solidariteit ook genoop om sy eie planne nou te versnel.

Volgens Hermann is die program die plek waar die Solidariteit Beweging se beplanning van die afgelope twintig jaar nou bymekaar kom.

“As die staat ons uitskop moet die gemeenskap bloot inskop. Dit is aanvanklik ʼn vreesaanjaende gedagte vir mense om te dink die staat sal nie en kan nie meer vir jou sorg nie – maar daarmee saam kom ʼn ongelooflike stuk bevryding. Met die staat se miskenning word ons bevry om terug te keer na die werklike DNS van die Afrikaners.”

Die Afrikaner-gemeenskap het ná die Anglo-Boereoorlog in ʼn naoorlogse depressie verval wat, finansieel gesproke, selfs ʼn groter krisis was as die pandemie.

“Dit was die gemeenskap wat projekte begin het om mekaar te help. So het hulle opgestaan en eenvoudig voortgebeur.”

Met die 1914-Rebellie was dit weer die geval. Die Helpmekaar Beweging is amptelik begin en die gemeenskap was so veerkragtig dat daar uit die inisiatiewe instellings ontstaan het soos Sanlam, Santam en Volkskas. Die gemeenskapsprojekte het ʼn ongelooflike stuk ekonomie geskep waardeur hulle self opgestaan het, los van die staat.

In die 1930 met die Groot Depressie wat die wêreld op sy knieë gehad het, het die Afrikaners weer ingespring en planne beraam op die gemeenskap te laat opstaan.

“Mense sal verstom wees om te sien watter soort krag die gemeenskap het, veral met die ontwikkeling van nuwe tegnologie.”

Só lyk die planne vir herstel

Een van die werknemers van die staalaanleg wat weer wil teruggaan werk toe (Foto: Verskaf)

“Eerstens wil ons werke behou en herstel, want dit was nog altyd ʼn belangrike funksie van Solidariteit as ʼn vakbond, maar ons wil die verantwoordelikheid van werk na die beroepsgildes verskuif sodat die gemeenskappe self aanspreeklikheid neem vir die werk van jongmense,” verduidelik Hermann oor die drie bene waarop die program rus.

Helpende Hand sal die voortou neem rakende die tweede been van maatskaplike welstand om te sorg vir die persoonlike, finansiële en emosionele welstand van die gemeenskap.

Die derde groot fokus van die program is opleiding wat die ontwikkeling van die Sol-Tech-kampus met ʼn koshuis van R300 miljoen insluit. Die instelling wat ambagsopleiding in Afrikaans verskaf se nuwe kampus sal reeds vroeg volgende jaar sy deure vir studente open.

Daar word ook reeds beplan aan ’n nuwe kampus in die ooste van Pretoria vir die private Afrikaanse universiteit, Akademia, wat R1,5 miljard sal beloop. Die instelling bied reeds van volgende jaar af sy eerste op-kampus-kursusse in Centurion aan terwyl dit ook voortgaan om duisende studente na ure van opleiding te voorsien.

Hermann meen Covid-19 het die staat finaal ontbloot.

“Die keiser is kaal, maar gelukkig is dit bevrydend, en dit is waarom ons nou self die verantwoordelikheid kan neem om ʼn kollege en ʼn universiteitskampus te bou. Dit wys net die krag van die gemeenskap is sterker as die mag van die staat.”

ʼn Visie anderkant die woestyn

Henk Schalekamp, die voorsitter van Solidariteit Beleggingsmaatskappy, kyk uit oor die grond waar Akademia se kampus vir 5 000 studente gebou sal word. (Foto: Facebook.)

Hermann sê hy werk met ʼn visie anderkant die woestyn. Dit is natuurlik ook die titel van ʼn artikel wat hy in 1997 neergepen nadat hy die stad Las Vegas in die VSA die eerste keer vir werk besoek het terwyl hy in Texas met ʼn internskap was. Dieselfde artikel was ook een van die redes waarom Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, hom gevra het om by die destydse Mynwerkersunie aan te sluit waar hulle saam ʼn visie begin ontwikkel het vir dit wat die organisasie vandag is, en doen.

“As jy met so ʼn visie werk weet jy presies waarheen jy op pad is. Buys is ʼn ongelooflike visionêr en hy het my geleer om kolletjies met mekaar te verbind soos in daardie inkleurboeke sodat jy die krokodil kan sien. Jy sal sien dit waarmee ons by Solidariteit besig is, en dit waaroor ek skryf, het ʼn lyn wat alles met mekaar verbind.”

Hy dink mens onderskat dikwels die krag van roeping.

“Daardie wete dat jy doen wat jy doen omdat dit ʼn opdrag is van die Here, is ʼn soort geheime wapen, want jy het eenvoudig net nie ʼn alternatief nie.”

Hermann glo ook Afrikaners het ʼn doelbewuste keuse gemaak vir Afrika, dit is waarom die gemeenskap en sy taal hul naam aan die vasteland ontleen het.

“Ja, talle Afrikaners emigreer, maar dit is net individue emigreer. ʼn Volk kan nie emigreer nie en die meeste Afrikaners kan in elke geval nie bekostig om te emigreer nie. Die mense wat wel besluit het om te emigreer is ons ambassadeurs in die res van die wêreld en daarom is dit net so belangrik om die naelstring met hulle te behou.

“Die res van die mense hier sê beslis nog steeds ‘basta, my voetspore lê in Afrika’. Dit is ʼn kragtige stukkie gereedskap om te sê ons het nie ʼn agterdeur nie en daarom moet ons self dinge hier maak werk.”

  • Die Werkherstelprogram is Solidariteit se unieke oplossing wat tot ʼn volhoubare toekoms sal lei. Kom wees deel van dié Solidariteit nooi almal hartlik uit om die bekendstelling van die Werkherstelprogram aanlyn by te woon. Kom kyk na die virtuele bekenstelling van die grootste werkherstelprogram in Afrikaans op Donderdag 8 Oktober. Die funksie gaan van 10:00 regstreeks uitgesaai word en word gratis aangebied. Bespreek jou virtuele plek hier: https://solidariteit.co.za/werkherstel/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Wakkerslaper ·

As lid van Solidariteit steun ek ons eie opbou projekte 100%. Ek wonder net soms of ons nie eers klaar moet baklei vir ons vryheid en staatkundige selfbeskikking voordat ons weer begin opbou nie? Om op te probeer bou onder die beheer van ‘n terroriste staat wat indirek oorlog teen ons Boere-Afrikanervolk verklaar het maak net nie sin nie…? Of mis ek iets?

Cornelius ·

Nuwe kampusse vir duisende nuwe studente wat vry gaan studeer. Ek wonder waar die geld vir al die droom idees vandaan gaan kom siende die politieke diktatuur en ekonomiese ineenstorting waarheen die land op pad is.

Fae Fubar ·

Ons mede-Afrikaners met die oop hande maak maar maandeliks ‘n bydrae. Teken sommer ‘n aftrekorder – jy sal nie eers weet jy dra by tot sukses vir ons nageslagte nie.

Anoniem ·

Ek kan net beaam wat Fubar se, en dat daar lede van Solidariteit Boufonds is wat elke maand ‘n bydrae maak tot hierdie fonds.

Onnie ·

Ek gaan net hande klap.???????????? Kan jy net dink waar Suid Afrika nou al kon gewees het??

Wielspore ·

As die staat nie na ons wil omsien, dan sorg ons vir ons self, dit is die regte pad, selfversorging. Vir die wat nog nie lid is van Solidariteit of Afri-forum, sluit aan, dit is jou bydrae tot jou toekoms met bykomende voordele.

Dries ·

Ek droom van n volkstaat met n man soos Dr Dirk Hermann as president. Daar is so baie integriteit leiers wat in sy kabinet kan dien.

Suzette ·

Welgedaan! Dit is wonderlik. Wat my wel bekommer is hoe gaan dié wat nou niks regkry en niks opgebou kry daar weggehou word. Hoe gaan gekeer word dat die universiteit en koshuis afgebrand, beskadig of onveilig word? Want verseker gaan hulle nie tevrede wees dat ons WEEREENS opgestaan het en vir onsself sorg en plan maak nie.

annie ·

Wil die Afrikaners afstig in die Kaap of laer trek oos van Pretoria neffens die nuwe multi-mega-uitbreiding van Cyril en gaan die nuwe universiteit Afrikaanses of Afrikaners akkommodeer? Of is kultuur taboe. Miskien kan ‘n kongres gehou word om sake uit te pluis. Dis ‘n feit dat daar reeds meer Kleurlinge as Afrikaners is wat die bestuur van ‘n Afrikanerstaat in hul hande sal plaas indien Afrikaans die kriterium is vir burgerskap in eersgenoemde gebied en vir toelating tot die universiteit. Wie is deesdae Afrikaners? Please help?

Jaco ·

mooi planne, maar wat van die volgende:
as daar nou so mooi werk geskep word en nuwe besighede gestig word, tree regstellende aksie en BEE in werking wanneer die besigheid se omset bo ‘n sekere bedrag styg en/of wanneer die aantal personeel bo ‘n sekere aantal styg. Dis goed wat vasgele is in wetgewing. Dis nou wel wette waarvan ons nie hou nie, maar ons moet dit steeds nakom.
Besighede soos Sanlam, Santam en Volkskas (tans ABSA) is almal gestig om die Afrikaner op te hef, maar vandag is daardie besighede 100% BEE en word regstellende aksie baie streng daar toegepas. So wats die kans dat die besighede wat Solidariteit nou wil stig, ook dieselfde pad gaan loop?
Dan wil ek ook graag weet, hoe kom Soltech en Akademia by regstellende aksie en BEE verby? As hulle omset en aantal personeel sekere perke oorskry, moet hulle die onaangename goed toepas, want dis wat landswette vereis. So oor 10 jaar is die 2 instansies ook mooi “getransformeer” en dan help dit ons eie mense niks meer nie.

Chris ·

Daar is ‘n storie van ‘n bankrot boer wat in die mielieland gestap het. ‘n Trop diere (mag nie sê nie) sit en koggel die boer. Hy sê toe julle sit en koggel my, ek suip nog die plaas onder jul sterte uit.
Met die huidige stand van sake in die land het ek altyd gesê ek gaan nog die land onder hulle uitsuip. Toe kom ek agter hulle is besig om dit harder as ek te doen. Hier is die enigste oplossing, boer die land onder hulle uit.

Vriendelike Frikkie ·

My Gesondheid, My keuse.
Die slagspreuk lê lekker op die tong en dit skryf ook maklik op ‘n bordjie.
Sal jy dit nog sê wanneer jy sterwend lê en bid vir nog net een asemteug? Sal jy dit sê vir die mense wat jy wetend en onwetend aangesteek het? Sal jy nog so halstarrig wees as jy besef dat die 1918 griep ‘n derde van die wêreld se bevolking siek gemaak het en dat omtrent 50 miljoen mense gesterf het? Ons is op pad na daardie syfers toe indien ons nie die bitter medisyne van gehoorsaamheid wil drink nie. Dit is ook nie net SA wat in ‘n grendelstaat was nie, feitlik die hele wêreld was daar.

Anoniem ·

Ek stem volkome saam met Wakkerslaper. Die anc sowel as die rooi ‘pet brigade’ het dit duidelik gestel toe hulle sê dat daar nooit weer ‘n dag sal kom wanneer die blanke sy eie universiteit, eie woongebied ens. In hierdie land sal hê nie. Our people sal wag totdat die universiteit klaar gebou is en dan doodeenvoudig die gebou betree. Alhoewel die blankes goed bedoel en vir mekaar omgee, dink ek ook dat ons eers onsself moet skei van our people.

Yvonne ·

Dankie vir die instellings soos Solidariteit en ander wat omgee vir ons land

Genis ·

Trots Afrikaans… nou tyd om ons eie banke te bou, en bellegings skemas… Ons eie winkels…

Josef du Toit ·

Solidariteit se OnsSalSelf-bemarking gebruik wel regverdigbare veralgemenings, wat op een na, sonder voorbehoud gestel word. Enige billike leser/hoorder voel dadelik aan dat dit oor volks-eienskappe in die breë gaan, en dat uitsonderings daarom nie uitdruklik gestel hoef te word nie. Tog onverklaarbaar is dit dat die een geval waar Solidariteit meen die teendeel uitgespel moet word met “oor die algemeen”, juis die grondbeginsel van ons volksbestaan is, ons Christelike geloof – hartseer, want so word die kiem van mislukking ingedra: “Hulle glo *oor die algemeen* in die Here”. Stadig oor die klippe Solidariteit, “wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Korinthiërs 10:12).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.