Tydelike onderwysers in Mpumalanga wel betaal

(Argieffoto: Juraj Varga/pixabay)

Die departement van onderwys in Mpumalanga sê onderwysers wat op ʼn tydelike grondslag in die provinsie aangestel is, sal wel vir Januarie betaal word.

Maroela Media het vroeër berig talle onderwysers wat in sommige gevalle al jare lank op ʼn tydelike grondslag werk, was diep bekommerd omdat die departement hulle nie vir Januarie wou betaal nie, glo omdat hulle nie by die skool was nie.

Die nasionale departement van onderwys het vroeër vandeesmaand aangekondig die skoolvakansie word verleng te midde van die tweede vlaag Covid-19-infeksies. Skole heropen nou eers in die middel van Februarie vir leerders.

Jasper Zwane, woordvoerder van die departement van onderwys in Mpumalanga, sê tydelike onderwysers se kontrakte wat op 31 Desember verstryk het, is intussen van 1 Januarie tot 31 Maart verleng.

“Dit beteken die betaling van hul salarisse sal dienooreenkomstig verwerk word vir Januarie-betaling, asook vir die volgende twee maande.”

Zwane sê die verlenging is in ooreenstemming met die voorlegging wat die departement in Desember verlede jaar daaroor gedoen het.

Die onderwysvakbond SAOU het die afgelope week gesê hy kan hom moontlik tot die hof wend om die departement te dwing om die salarisse te betaal.

Die SAOU het namens 428 van sy lede in Mpumalanga opgetree, maar volgens Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, raak die kwessie ʼn geraamde 4 000 tydelike onderwysers in die provinsie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.