Tydkapsule met Afrikaanse boodskappe vir nageslag beplan

Foto: Ollyy (Shutterstock)

Foto: Ollyy (Shutterstock)

ʼn Unieke projek, gemik daarop om jongmense se Afrikaanse boodskappe vir die nageslag te bewaar, is Donderdag, op Afrikaanse Taaldag, bekendgestel.

Die projek, “Afrikaans – my TROTS!”, is daarop gemik om die jeug se positiewe boodskappe oor Afrikaans te versamel en in ʼn tydkapsule te bewaar.

Volgens Ilze Nieuwoudt, publikasiebestuurder van Kraal Uitgewers wat die projek organiseer, wil die uitgewery met dié projek jeug aanmoedig om hul positiewe boodskappe oor Afrikaans in ʼn videoformaat op te neem. Die 100 mees inspirerende boodskappe sal in ʼn tydkapsule-formaat bewaar word sodat dit oor 100 jaar oopgemaak kan word. Die tydkapsule sal op 24 September vanjaar, op Erfenisdag, vir bewaring oorhandig word. Die bekendstelling van die projek val saam met die viering van 100 jaar van Afrikaans as ʼn skooltaal.

“Die harde werk van prominente taalmense, soos C.J. Langenhoven, het die vestiging van Afrikaans in skole moontlik gemaak. Dit is egter noodsaaklik dat daar vandag steeds gewerk moet word aan die bewaring van Afrikaans in skole,” het Nieuwoudt gesê.

“Die insamel van positiewe boodskappe oor Afrikaans uit die mond van jongmense wat lief is vir die taal sal Afrikaans as ʼn taal van die toekoms help vestig,” het sy vervolg. “Afrikaans is nie net die droomtaal van Langenhoven, Totius en Preller nie; dit is ʼn lewendige taal van dinamiese jongmense van vandag. Deur ʼn liefde vir Afrikaans by ons jeug te kweek, neem ons reeds ʼn broodnodige stap in die rigting om Afrikaans vir die volgende geslag te bewaar.”

Klik hier vir meer inligting oor hoe om aan die projek deel te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elizabeth ·

‘n Unieke en fantastiese idee! Sjoe as mens nou maar oor 100 jaar hier kon wees en sien hoe en wat en waar alles dan in Suid Afrika is en of wat in die tydkapsule is ouderwets klink, of nog steeds relevant en soos dit dan gepraat word! Baie interessant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.