Tydkapsuleprojek wil herinneringe van pandemietydperk bewaar

‘n Voorbeeld van hoe die tydkapsules lyk waarin artefakte bewaar gaan word (Foto: Verskaf)

Vault 2120 is ʼn nasionale tydkapsuleprojek wat beoog om stukkies herinneringe van die Covid-19-pandemie vir nageslagte te bewaar.

“Tydkapsules bied aan indiwidue, groepe of organisasies die geleentheid om objekte vir ʼn aantal jaar in ʼn betonkluis te berg,” verduidelik dr. Eugene Botha, sameroeper van die Vault 2120-projek. “Deur artefakte in die kluis te bêre kan ons ons verhaal bewaar vir mense wat dit in die toekoms gaan ‘lees’.”

Die versameling tydkapsules dra by tot ʼn hele volk se verhaal. Op dié manier kan mense as’t ware met nageslagte in die toekoms kommunikeer.

Botha bevestig dat die projek ʼn ongekende kulturele, sosiale en wetenskaplike eksperiment is wat nog nooit aangepak is nie.

“Dink net hoe wonderlik sal dit wees om ʼn tydkapsule van jou oupagrootjie oop te maak wat allerlei interessanthede uit sy tyd bevat,” vertel hy.

“Mense van die toekoms is nie vreemdelinge nie. Hulle is die vlees en bloed van mense wat vandag lewe. Ons kan iets van ons werklikheid en onsself met hulle deel,” sê Botha.

“Die generasie wat tans deur Covid-19 geraak word, het ʼn belangrike storie om te vertel. Met dié projek wil ons dit met behulp van artefakte bewaar, sodat die geslagte ná ons sal weet hoe die virus ervaar is en wat die invloed daarvan op die samelewing was,” vertel Botha.

Hy meen sy kennis van die klassieke wêreld laat hom besef hoe belangrik die bewaring van objekte is.

“Ek weet hoe geweldig baie ʼn enkele potskerf of objek vir ʼn persoon in ʼn ander tydperk kan vertel. Ons hoop om ʼn hele klomp tydkapsules die toekoms in te stuur,” vertel hy.

Sommige kapsules word ná 10 jaar oopgemaak, ander ná 15 jaar, sommige ná 20, 25, 30 of 50 jaar. Ongeveer 1 000 kapsules sal 100 jaar lank bewaar en eers in 2120 oopgemaak word.

Botha verduidelik dat die tydkapsules in vier kategorieë verdeel word – kunswerke, foto’s, handgeskrewe kortverhale en objekte wat die storie van die afsonderingstyd vertel.

Die kunswerk-kategorie sluit alle skilderye, beelde, sketse en handwerk in. ʼn Gedeelte van die kunswerke, foto’s en kortverhale sal in 2045 oopgemaak word, terwyl ander artefakte eers later ontsluit sal word.

Kortverhale moet ongeveer 350 woorde lank wees en spesifiek fokus op die pandemie as tema.

“Ons vra handgeskrewe stories, want ons vermoed dat mense oor 25 jaar glad nie meer met die hand gaan skryf nie,” voeg Botha by.

Ander objekte wat gedeponeer kan word, sluit onder meer in handskoene, maskers, toiletpapier, handgemaakte werk, kwitansies van kruideniersware wat aangekoop is, resepte en blikkieskos.

Die projekorganiseerders nooi lede van die publiek uit om hul kunswerke, foto’s, handgeskrewe kortverhale en ander items soos handskoene of maskers wat met die pandemie verband hou, in die spesiale betonkluis te bewaar.

‘n Voorstelling van die kluis waar die Vault 2120-tydkapsules geberg gaan word (Grafika: Verskaf)

“Die pandemie het ons planne ietwat in die wiele gery,” bieg Botha. “Ons wou nou al die terrein gefinaliseer het, maar sal tot ná die afsonderingstyd moet wag. Ek kan nie nou veel bekendmaak nie, maar ek kan wel sê dit sal by ʼn welbekende toeriste-aantreklikheid in die Wes-Kaap of Gauteng wees,” verklap hy.

Die projek word deur ʼn paneel kenners bygestaan wat onder meer argitekte, ekonome, ouditeurs, finansiële adviseurs en ʼn erfenisbewaringspesialis insluit. Amore Bekker, aanbieder van RSG se oggendprogram Al hoe Bekker, en Claire Mawisa, mede-aanbieder van Carte Blanche en omroeper by ClassicFM is die ambassadeurs.

Vir meer inligting stuur ʼn e-pos aan Blue Marble Entertainment om jou plek in die kluis te bespreek.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Marius ·

Fantasties , kan ons aub net eers weer begin leef en terug keer na so normaal as wat kan kom voor daar oor tydkapsules en wat ookal bekommerd geraak word ?

Kokerboom ·

Die idee is aanvaarbaar maar die oprigting van wilde strukture wat die land ekonomies nie kan bekostig maak geen sin. Daar is genoeg museums wat ruimte kan inrig of beter stoor dit by die Wieg van die Mensdom

Die Wolf ·

Kan ons ook sekere politici in die kapsule plaas. Wonder wat gaan die reaksie wees wanneer oopgemaak word, huil of lag?

Misky ·

Fantasties!!! Ek sal die waarheid daai insit as dit by die diskriminerende ANC kom en wat hulle ons deurgesit het. Die waarheid sal verdraai word in die jare wat voorle en se dit het nooit gebeur nie

Oujongvrou ·

Ja asb tog, ons gaan uitsterf hier en niemand gaan weet wat gebeur het nie.

Hoekom ·

Dit is ‘n briljante idee!! Dit laat my dink aan al die inligting wat verlore geraak het in die biblioteek van Alexandria 100de jare gelede in een dag se brand. Soveel kennis en interesanthede wat nooit weer gesien of gelees kan word nie. Wat sou ons nie alles kon geleer het daaruit nie. Aaaah my geskiedkundige gedagtes stroom oor van opwinding net om daaraan te dink. Puik plan, sal hierdie inisiatief definitief dophou…

Raadslid ·

Wat gaan in die kapsule geplaas word?
Rekords van die totale gemors wat die ANC regering in hul hantering van die saak gemaak het?

marius ·

Fotos van voor en na in 25 jaar , en ‘n ton snees doekies langsaan , kan ‘n duisend boeke vervang .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.