Tydskrif skuld Cele verskoning oor opmerking – persombud

Bheki Cele, minister van polisie, tydens een van sy besoeke aan Normandien. (Foto: Twitter)

Die tydskrif Landbouweekblad moet die minister van polisie, Bheki Cele, om verskoning vra ná die plasing van ʼn artikel onder die opskrif: “Cele: Boere moenie kla as hulle seerkry nie”.

Die berig het gehandel oor ʼn vergadering tussen die boerderygemeenskap van die Normandien-omgewing in KwaZulu-Natal en die minister en het gevolg op die opspraakwekkende moorde op Glen Rafferty en sy vrou, Vida.

Die egpaar is verlede jaar op hul plaas in die omgewing vermoor.

Cele het in die klagte aangevoer hy het nie die gewraakte stelling gemaak nie en die verslaggewing as “roekeloos” bestempel. Volgens hom het dit berus op die woord van ʼn boer wat die vergadering bygewoon het en dat die stelling nie vir sy kommentaar of bevestiging voorgelê is nie.

Landbouweekblad het nie self ʼn verslaggewer by die vergadering gehad nie.

Lirandzu Themba, Cele se woordvoerder, het namens hom aangevoer die stelling dat boere nie verras moet wees “as hulle seerkry” nie, is “onverantwoordelik en roekeloos” en het spanning in die gemeenskap selfs verder verhoog. Sy het ook gesê die tydskrif het gesteun op die woord van ʼn boer wat die vergadering bygewoon het en dat die polisie ʼn volledige opname van die vergadering en al die minister se opmerkings laat transkribeer het.

“In geen stadium is hierdie opmerkings gemaak nie.”

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, sê die tydskrif staan by sy berig. Hy sê die stellings wat aan die minister toegeskryf is, is deur drie onafhanklike bronne bevestig. Almal is Zoeloe, die taal waarin die stellings gemaak is, magtig en almal was self by die vergadering.

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad. (Foto: Twitter)

Burgess het ook beëdigde verklarings van twee van die drie boere ingedien waarin hulle bevestig dat Cele die opmerkings gemaak het.

Pippa Green, die persombud, sê die stellings wat aan Cele toegeskryf word, is beslis “omstrede”.

“Om ʼn boerderygemeenskap kort ná ʼn dubbelmoord te besoek en dan te sê boere ‘moenie huil as hulle seerkry nie’, sou ʼn ongelooflike stelling wees vir ʼn polisieminister om te maak.

“Dit is hoekom dit so belangrik is om te verseker die aanhaling is korrek: Hoe meer omstrede die aanhaling, hoe groter die behoefte om dit na te gaan.”

Green sê die sleutelvraag is of dit billik was vir Landbouweekblad om ʼn berig met ʼn omstrede aanhaling deur die minister te plaas en dít ook as opskrif te gebruik.

Sy het in haar uitspraak bevind Landbouweekblad het verskeie bepalings van die perskode oortree deurdat hy nie vasgestel het of die aanhalings korrek is nie buiten om op een soort inligtingsbron te steun terwyl daar nie ʼn verslaggewer by die vergadering was nie. “Daar moes ʼn duidelike weerspieëling wees dat die bewerings gemaak is deur boere wat die vergadering bygewoon het.”

Green het ook bevind Landbouweekblad het nie die betwiste aanhalings aan Cele se kantoor vir kommentaar of bevestiging voorgelê nie, asook dat die artikel se opskrif misleidend was.

Sy het die tydskrif beveel om Cele om verskoning te vra en aan hom die reg op ʼn antwoord te bied.

Landbouweekblad moet ook ʼn verskoning plaas op al die platforms waar die oorspronklike storie verskyn het, met ʼn duidelike skakel na die oorspronklike aanlyn berig. Die ombud moet dié verskoning self goedkeur.

Burgess het Donderdag gesê hulle respekteer die ombudsman se beslissing, maar stem nie met die uitspraak saam nie.

“Ons is nog onseker of ons daarteen gaan appelleer. Die feit bly dat ons Cele se uitlatings deur drie onafhanklike bronne by die vergadering bevestig het.

“Die kern van die beslissing is dat ons nie vir min. Cele die geleentheid gegee het om na te gaan of hy dit wel gesê het nie. Binne die konteks van wie die minister is, het ons gemeen drie mense het dit wél bevestig.”

Burgess sê Landbouweekblad sal voortgaan om sy lesers oor die feite in te lig en dat hulle self oor die waarheid kan besluit.

Cele het op sy beurt gesê hy voel geregverdig deur die beslissing.

“Dit is belangrik dat die media sy verwoestende mag erken as hy nie sy werk behoorlik doen nie. Dié soort verslaggewing het gelei tot verdere geweld deur lede van die boerderygemeenskap, van wie baie die Landbouweekblad-koerant (sic) lees, toe hulle ʼn hofgebou in Senekal bestorm en ʼn polisievoertuig aan die brand gesteek het.

“Dit het gevolg op die grusame moord op nog ʼn plaasbestuurder, tesame met hul woede en verwyt oor ʼn stelling wat ek nooit gemaak het nie.”

Cele sê die beslissing moet as ʼn belangrike les beskou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

antieke antie ·

ek sal nie twyfel dat hy dit gese het nie…. ons ken sy bravade op die strand met aanvalsvuurwapens om hom te beskerm teen sagte tekens ….. snaaks hulle kla nou eers

Misky ·

Wel gedaan Mnr. Burgess en hou by jou saak. Die hoed-man dink mos hy kan maak en sê net wat hy wil

Bernard ·

Pippa Green is ‘n bekende
meeloper van haar base, die ANC-regime.

Johan ·

Wat ‘n idiotiese stelling van haar om aan te toon dat dit ‘n “ongelooflike stellings sal wees van ‘n polisieminister”, so dit kan nie waar wees nie. Ja, dit is so vir ‘n regte minister

Nie Verbaas ·

As n mens nie die integriteit het om pa te staan vir dinge wat jy gese het nie bewys dit die mate van lafhartigheid en arrogansie van so n persoon. Moenie om verskoning vra nie. Niemand gaan so storie net uit die duim uitsuig nie.

Madz ·

… maar dis mos eenvoudig! IEMAND moet tog ‘n video/voice opname van die “gesprek” iewers op sy of haar foon hê. PLAAS dit en dat mense self besluit! @Pippa….. mag jy op jou …uhm…kom ons los dit maar liewer daar…. maar ek hoop JY gaan die een wees wat omverskoning vra!

Pieter ·

Roland Collyer het vrae gevra in Newcastle in Sepetember 2020. Ek onthou goed dat hy wel geskree het op Collyer en dat daar mense daar was wat hom hardop ondersteun het. Die boer het aan hom ‘n vraag gestel oor betreding van eiendom en toe vaar hy uit wat volgens Cele was die boer arrogant…
Dit was ‘n duidelike houding gewees dat geen maar geen wit persoon so met hom sal praat nie…

Pieter ·

Daar is iewers ‘n video gewees daaroor wat wys wat hy gese het…

Anel ·

Die boere het ook nie die voertuig aan die brand gesteek nie. Dit het aan die brand geraak. Kyk die video. En hy is die oorsaak van die moorde.

Cecilia ·

Goed so Landbou Weekblad. Staan by jul punt. Cele het dit gese hkm sal 3 mense lieg onder eed! Ou Cele het gehoop sy ou kadertjies staan agter hom dis hkm hy dit in Zoeloe gese het.
Ou Ms Green ek hoop jy staan 1 dag langs j geliefdes se oopgraf wat wreedaardig deur d selfde kaders vermoor is en ou Cele se vir jou ook moenie huil as jy seerkry nie.

Jaco ·

As jy in 2020 wit is in dié anti-wit SA, BLY DAN WEG sover as wat dit moontlik is vanaf enigiets wat met die staat, regering, ANC, ministers ens te doen het. Al gaan dit sleg en al gebeur erge goed soos aanvalle, bly weg vanaf al dié owerhede en doen eerder jou eie ding. Uitsprake soos dié van minister Cele bewys mos nou dat hulle eintlik niks van ons wit mense hou nie. Voeg daarby ramaphosa se uitsprake dat daar nie plaasmoorde in SA is nie en dat inperking wys hoe ongelyk SA is en dat wit mense se rol in die ekonomie moet stop. Hulle wil ons wit mense eintlik nie hier hê nie. Net vreemd waarom hulle ons nie net mey niks “dump” in ‘n wit tuisland nie. Dan is ons met ons sogenaamde rassisme en skepping van ongelykheid mos weg. Of deporteer ons: Joe Biden, nogal ‘n groot pel van ramaphosa, is juis ten gunste vam vrye oop immigrasie na Amerika.

Hoekom ·

Hulle sal nie dan verloor hulle die vetste belasting koei tot hulle beskiking. Hulle sal ons eerder net aanhou vervreem. Totdat ons ‘n lyn trek en daarby hou…

Fritz ·

Maklik. Laat die 3 getuies en Cele elkeen n leuenverklikker toets ondergaan. Ja ja, ek weet dit word nie in n hof aanvaar nie, maar dis nie n hofsaak nie. En vir gewone mense om daai masjien te kul is bitter moeilik.

Casper ·

Maar was hierdie gewraakte uitlating van Cele nie op die nuus nie.

Boerkind ·

Met so ‘n hoed en masker… dit is ongelukkig in Cele se styl van opmerkings teenoor witmense… of hoe?

MT ·

Ek haal aan: “Pippa Green, die persombud, sê die stellings wat aan Cele toegeskryf word, is beslis omstrede. Om ʼn boerderygemeenskap kort ná ʼn dubbelmoord te besoek en dan te sê boere ‘moenie huil as hulle seerkry nie’, sou ʼn ongelooflike stelling wees vir ʼn polisieminister om te maak.”

Pippa Green is blykbaar totaal onbewus daarvan dat die land eens op ‘n tyd ‘n president gehad het wat in die publiek voor duisende HERHAALDELIK “Umshini wami” gesing het!

Waarom is dit ondenkbaar dat ‘n polisieminister – en goeie vriend van Zuma – boere kort na ‘n dubbele moord op een van hulle sal beledig en minag!

Parlementslede en partyleiers soos Malema sing ook gereeld “Kill the boer, kill the farmer”.

Waarom is die persombudsman so onbekend met die wrede werklikheid van Suid-Afrika? Waarom word alles bloot aanvaar?

Hein ·

Waarom luister hulle nie na wat gesê was nie is immers tog op band

Yvonne ·

Cele pikker oor woorde..die moorde is nie vir hom belangrik nie…ons kook stadig maar seker in die Pot

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.