Maroela Media het vroeër berig Greg Wilson (34) is vanoggend geopereer nadat hy tydens die aanval met ʼn klip oor die kop geslaan is.
Marius Jacobs van Watchdog Tzaneen het aan Maroela Media gesê polisiebeamptes, veiligheidsbeamptes, plaaslike inwoners en lede van die polisie se honde-eenheid is tans in die gebied op soek na die aanvallers. ʼn Polisiehelikopter staan ook glo gereed om met die soektog te help sodra die mis in die gebied opgeklaar het.
Volgens Jacobs is een van die veiligheidswagte op die plaas deur die vlugtende aanvallers met ʼn mes in sy gesig gesteek. Twee mans wat glo in ʼn voertuig buite die plaas gesit het, vermoedelik ʼn wegkommotor, is in hegtenis geneem, het Jacobs gesê.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, kon nie onmiddellik bevestig dat twee mans in hegtenis geneem is nie en het gesê hy wag steeds vir inligting vanaf die toneel.
Intussen het Greg se vrou, Sandy, aan Maroela Media gesê haar man sterk goed aan ná sy operasie. “Greg het vreeslik baie bloed verloor, maar hy was [ná die aanval] heeltemal by en kon vertel wat gebeur het. Hy is vanoggend geopereer en hulle het die wond geheg en ʼn dreineringspyp ingesit. Dit gaan in die omstandighede goed met hom en hy sal oukei wees,” het Sandy gesê.
Volgens Sandy het die egpaar voor 05:00 wakker geskrik omdat iemand aan die kombuisdeur geruk het. Greg het gaan ondersoek instel en hom in die kombuis teen die gewapende rower vasgeloop.
“Hy het hom platgeduik en met hom gestoei en die man het losgeruk en weer by die deur uitgehardloop. Sy baadjie, vuurwapen en sak het in die kombuis agtergebly,” het sy gesê.
Sy, Greg en een van hul werkers, Godfrey, het in die kombuis gestaan en probeer om die polisie te bel toe nog ʼn gewapende rower by die kombuisdeur ingestap gekom het. “Ek het dadelik kamer toe gehardloop na my kinders toe en die veiligheidshek tussen die kamers en die kombuis gesluit,” het Sandy gesê. “Uit die hoek van my oog het ek gesien hoe nog mense die huis binnekom en vanuit die kamer kon ek hoor hoe almal net begin skree.”
Sandy het met hul kinders, onderskeidelik drie en ses jaar oud, in die kamer geskuil tot dit stil geraak het. Ná ʼn ruk het sy uitgegaan en Greg in die kombuis gekry met ʼn groot snywond op sy kop. Een van die rowers het hom glo met ʼn klip geslaan toe hy nie die veiligheidshek na die kamers wou oopsluit nie. Godfrey was ongedeerd.
Sandy het gesê die heining om die huis is al ʼn paar keer vantevore geknip, maar dit was die eerste keer dat iemand by die huis ingekom het.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
64 Kommentare
Ons is hulpeloos in ons eie land
Mens kry koue rillings as jy hierdie storie lees. Net baie bly niemand het iets oorgekom nie en hoop die man sal gou weer op die been wees.
Dit raak nou erger… hierdie is Gru-verhale wat elke paar uur afspeel…
Mens kan elke oggend bid en dankie se, dat so iets nie met jou gebeur…
Om deur ‘n gewapende roof/aanval te gaan is VERSKRIKLIK!! Ek en my gesin het in 2010 deur so iets gegaan en ek het ook net eerste aan my kinders gedink. Die vreeslikste dinge gaan deur jou gedagte van wat hulle daar buite met jou man aanvang. In jou geestes-oog sien jy hom al klaar in ‘n plas bloed lê en sekondes voel soos ure. Die onsekerheid vreet jou op en dan is daar nog die selfverwyt as hy iets sou oorkom. Jy word so onkant betrap, dat jy nie jou selfverdedigingstegnieke kan uitvoer nie. Mens kan die trauma nie vir… Lees meer »