Uasa maan oor inentings

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die vakbond Uasa sê hy is besorg oor die afname in die getal Covid-19-inentings.

Abigail Moyo, woordvoerder van die vakbond, sê volgens ʼn verslag deur die departement van gesondheid, het die getal inentings op 275 000 per dag gestaan in Julie, maar het nou afgeneem tot sowat 175 000 inentings per dag.

“Alhoewel baie Suid-Afrikaners hulle bes doen in die stryd teen Covid-19, is dit kommerwekkend vir Uasa dat ander minder besorg is om die verspreiding van die virus te probeer bekamp. Die gevaar is dat nuwe variante kan ontstaan en ʼn vierde golf kan veroorsaak.”

Die doel is om minstens 70% van die volwasse Suid-Afrikaanse bevolking in te ent teen die einde van die jaar. “Uasa moedig die jeug van die land aan om vir die inenting te registreer sodra persone ouer as 18 vanaf 1 September kan registreer. Ons moedig ander ook aan om in die belang van die land en hul medeburgers te registreer en ingeënt te word.”

Moyo sê die feesgety is om die draai – ʼn tyd wanneer die land ʼn toename in gevalle kan verwag wanneer mense as familie en vriende saamkom. “Die land kan nie nog ʼn afsonderingsperiode bekostig waar ondernemings hul deure moet sluit nie. Dit sal tot verdere werksverliese lei.”

Uasa glo daar is nie ʼn enkele Suid-Afrikaner wat nie ʼn normale lewe wil lei soos wat ons gehad het voor die pandemie nie. “Ons wil hê die ekonomie moet weer ten volle aktief wees en mense moet terugkeer werk toe soos normaal. Sonder inentings sal die virus na verwagting muteer en in verskillende vorms versprei. Dit is slegs deur inentings wat ons die virus in ʼn redelike kort tydjie kan keer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.