Ubank onder kuratorskap geplaas

(Foto: Ubank/Facebook)

Die Reserwebank het Ubank onder kuratorskap geplaas weens die ernstige kwessies wat die bank in die gesig staar.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het gesê Ubank het ʼn lang geskiedenis met die verskaffing van basiese finansiële dienste aan mynwerkers en hul gesinne.

“Gedurende die laaste paar jaar het die Omsigtigheidsowerheid sy toesig oor Ubank verskerp weens kommer oor korporatiewe bestuur, swakhede rakende interne beheer en die lang tydperk wat dit gevat het om die inspuiting van voldoende kapitaal te verseker om eerstens te voldoen aan die minimum kapitaalvereistes, die bank se sakemodel te diversifiseer en om die toekomstige volhoubaarheid van die bank te verseker.”

Nadat die erns van die kwessies behoorlik oorweeg is, en aangesien Ubank waarskynlik nie onmiddellik sy verpligtinge sal kan nakom soos deur wetgewing vereis word nie, het die minister van finansies, in oorleg met die Omsigtigheidsowerheid, besluit om Ubank met onmiddellike effek onder kuratorskap te plaas.

“Dit word gedoen om die nadelige gevolge op Ubank se depositohouers te versag, en om die stabiliteit van die Suid-Afrikaanse bank- en finansiëledienstesektor as geheel te bewaar.”

Die minister van finansies het KPMG Suid-Afrika as kurator aangestel, met Zola Beseti as die verteenwoordiger. “KPMG Suid-Afrika sal met onmiddellike effek vir Ubank verantwoordelik wees, en met die volle gesag wat die wet aan die kurator verleen.

“Ek wil beklemtoon dat Ubank sal voortgaan om te funksioneer gedurende die tydperk van kuratorskap en die kurator sal besluite neem oor die voortgesette toestaan van lenings en gesonde bankaktiwiteite in die algemeen.”

Kganyago het gesê dit is belangrik om te beklemtoon dat Ubank sal voortgaan met sake doen.

“Ubank het genoeg likiditeit met ʼn likiditeitsdekkingsverhouding wat die regulatoriese vereiste oorskry. Die Omsigtigheidsowerheid is bewus van belanghebbende partye wat moontlike beleggings in Ubank wil maak en wat die kwessies by Ubank sal oplos. Die kurator sal hierdie proses vorentoe neem.”

Depositohouers sal voortgesette toegang tot hul geld en ander bankdienste hê en die kurator sal hulle op die hoogte hou van enige verwikkelinge by die bank.

Volgens Kganyago is daar geen aanduidings dat ander Suid-Afrikaanse banke negatief deur Ubank se huidige situasie geraak word nie.

“Ondanks die uitdagings wat Ubank in die gesig staar, speel die bank ʼn belangrike rol in die ondersteuning van finansiële insluiting deur mynwerkers en hul gesinne in afgeleë landelike gebiede te bedien.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.