Die Gautengse verkeerspolisie doen ’n beroep op die lede van verskillende taxiverenigings in die provinsie om hulself nie as verkeersbeamptes voor te doen, motors onwettig voor te keer en geld van motoriste te eis nie.
Dít nadat vier verdagtes Vrydag in Pretoria in hegtenis geneem is nadat hulle hulself glo as verkeersbeamptes voorgedoen en ’n Uber-bestuurder van kontant beroof het.
Sello Maremane, woordvoerder van die Gautengse verkeerspolisie, sê die verdagtes, almal vermoedelik lede van ’n plaaslike taxivereniging, het die vrou in die Pretoriase middestad voorgekeer en op R1 500 aangedring.
Die verdagtes is kort daarna op die hoek van Scheiding- en Thabo Sehume-straat in hegtenis geneem en sal na verwagting Maandag in ’n hof verskyn.
“Die wetstoepassingsowerhede sal voortgaan om alle korrupte elemente in die provinsie uit te roei, en diegene wat hulself as beamptes voordoen, sal gepas gestraf word,” waarsku Maremane.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
5 Kommentare
Skermunkels!
Dis so bedagsaam van die Gautengse verkeerspolisie om n beroep op die taxiverenigings te doen om hulself nie as verkeersbeamptes voor te doen nie!
Ek is seker die taxiverenigings, welbekend vir hulle wetsgehoorsaamheid, gaan die beroep ter harte neem.
Weer taxi ouens regtig?