Uber-bestuurder in Mpumalanga doodgeskiet

(Foto: Uber_RSA/Twitter)

Die polisie in Mpumalanga is op soek na die persone wat Vrydag ʼn 27-jarige Uber-bestuurder by Vlaklaagte, Kwaggafontein doodgeskiet het.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het gesê twee veiligheidswagte was aan diens by Vlaklaagte-kliniek toe hulle reageer het op die toeter van ʼn wit sedan by die hek. Twee persone in die motor gesit het aangedui hulle het hulp nodig. “Hulle het die veiligheidswagte in kennis gestel dat hulle ʼn pasiënt in die motor het wat bystand benodig ná hulle hom in die straat met skietwonde gevind het.”

Die veiligheidswagte het die hek oopgemaak en een het by die kliniek ingehardloop om hulp van die verpleegsters te bekom. “Terwyl hy binne was, het die verdagtes die pasiënt op die grond laat val en van die toneel weggery.”

Die man, wat uitgeken is as Vincent Nomokonde, is op die toneel dood verklaar.

“ʼn Voorlopige ondersoek het gewys dat die motor eintlik aan Nomokonde behoort. Hy was ’n deeltydse Uber-bestuurder. Die motor is later verlate in bosse gevind. Dit wil voorkom of hulle die motor aan die brand probeer steek het, maar hulle was nie suksesvol nie.”

Die motief vir die moord is nog nie bekend nie. Enigiemand met inligting word versoek om kapt. Thamsanqa Shabalala te kontak by 082 923 0081.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.