Uber-bestuurder sterf ná motor aan die brand gesteek is

Die voorval by Hatfield. Foto: Facebook via Johan Terblanche.

Die Uber-bestuurder wat sedert verlede maand in ’n kritieke toestand was nadat sy motor aan die brand gesteek is voor Loftus Versfeld in Pretoria, het aan sy beserings beswyk.

Lindelani Mashau se motor is glo deur metertaxibestuurders aan die brand gesteek terwyl hy in die motor was.

Uber Suid-Afrika het Maandag gesê hul het ʼn dringende vergadering met die ministers van polisie en vervoer versoek om die voortslepende oorlog tussen Uber- en metertaxibestuurders te bespreek.

Uber word daarvan beskuldig dat hy die metertaxi’s se “besigheid steel” en onwettig handeldryf.

Samantha Allenberg, Uber se woordvoerder, het gesê hulle is bewus van intimidasie jeens bestuurders, veral by die Gautreinstasies. Sy het bygevoeg dat Uber privaat sekuriteit gereël het om veilige en betroubare op- en aflaaigeleenthede te verseker.

Volgens Allenberg wag hulle nog op die ministers se terugvoer. “Geweld en intimidasie teen dié wat tegnologie-apps gebruik, is onaanvaarbaar. Enige situasie waar veiligheid in die gedrang geplaas word, is vir ons onaanvaarbaar.”

Allenberg het bygevoeg dat gedrag soos hierdie net weereens bevestig hoekom mense al meer staatmaak op betroubare, veilige alternatiewe soos Uber. Allenberg het gesê Uber-bestuurders het 24 uur per dag toegang tot ʼn plaaslike noodnommer wat hulle kan gebruik indien hulle onveilig voel.

“Ons het onlangs ook met verskeie veiligheidsagentskappe en nooddienste ooreenkomste bereik. Ons het ook bykomende reaksiespanne gehuur in die omgewings waar ons bestuurders gevalle van intimidasie aangemeld het,” het Allenberg gesê.

“Ons doen alles wat ons kan om te voorkom dat sulke voorvalle plaasvind en om ondersteuning aan die passasiers en bestuurders te bied; ons kan dit egter nie alleen doen nie. Die owerhede en beleidmakers moet saamstaan en help om hierdie aaklige misdade te voorkom en te veroordeel,” het Allenberg gesê.

Fikile Mbalula, minister van polisie, het verlede maand gesê metertaxi’s en Uber moet ʼn manier vind om saam te werk en die bloedvergieting en ekonomiese sabotasie stop te sit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

DG ·

Ek hoop niemand ry weer met metertaxi nie, hoe kan ‘n mens so ‘n moordadige klomp ondersteun!!

johnny_walker ·

ek het dit al gesê en ek sal dit seker nog n duisend keer sê , dra altyd n vuurwapen , jy is onosel as jy in n land soos die ongewapen rondloop

koos ·

hierdie optrede teenoor n Uber-drywer is laakbaar, maar dis weens klomp korrupsie.
Uber se oorspronklike konsep was dat ‘n individu sy eie motor gebruik en dan sy klandisie by Uber kry. Die drywer kry sy deel van die tarief en Uber kry hulle deel. Daars geen taxi-maatskappy as middelman nie, so tariewe is laer as die van metertaxis en taxi-besighede wat vaste tariewe vir sekere roetes het, maar die drywer maak steeds redelik geld.
Nonsens het begin toe sekere taxi-besighede, INSLUITEND sekere metertaxi-besighede, OOK by Uber begin inskakel het. Uber-tariewe het egter dieselfde gebly. so Uber kry steeds sy regmatige deel, maar nou moet die taxi-maatskappy ook sy aandeel kry. Dus verloor die drywer en kry nou MINDER. Maar met SA se werkskaarste en met alles wat duurder en duurder word, het al hierdie Uber-drywers wat vir middelmanne werk, uit desperaatheid begin 24 en selfs 48 uur skofte werk en oral begin mense optel. Dis net logies dat diegene in die res van die taxibedryf wat NIE by Uber ingeskakel is nie, sou begin jaloers raak op Uber en dat daar beskuldigings sou kom van “Uber vat ons customers af”.
Iewers moet van owerheidsweë af behoorlik ondersoek gedoen te word oor al hierdie korrupsie en ander probleme en moet dit beter geruleer te word.
Ek was amper 4 jaar die taxi- en shuttle bedryf. Ek weet waarvan ek praat. Praise the Lord dat ek daar uit is. Eks bitterlik jammer vir diegene watsteeds in hierdie nonsens vasgevang is.

Cacophony ·

Daai metertaxi’s kan gaa doppies blaas! Wie de hel dink hulle is hulle? Niemand gaan my dwing om hulle te gebruik nie. BOIKOT ALLE METERTAXI’S

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.