Uber-bestuurders betoog voor dooiemansdeur

Foto: ANA.

Foto: ANA.

Ontstoke bestuurders van die Uber-taxidiens het Vrydag na dié maatskappy se hoofkantoor in Parktown-Noord in Johannesburg opgeruk om antwoorde te eis op die memorandum wat hul drie weke gelede oorhandig het.

Bestuurders met T-hemde wat lees “The movement- #uberdriverssa” het ʼn vergadering met die bestuur van Uber geëis om aandag te gee aan hulle bekommernisse, veral ten opsigte van hul veiligheid.

Gewapende wagte het die kantore bewaak en daar was geen teken van bestuur nie.

Een van die Uber-taxibestuurders het gesê dat hulle aangeval word deur metertaxi-bestuurders: “Elke dag is vir ons ʼn uitdaging, maar die bestuur wil net nie na ons luister nie.”

Teresa Munchik, woordvoerder van die ongelukkige bestuurders, het gesê dat die bestuurders verlede jaar, nadat een van hul kamerade aangeval en vermoor is, ʼn forum gestig het. “Ons het drie weke gelede al vir hulle (die bestuur) ons memorandum oorhandig, maar niemand het nog darop gereageer nie,” het sy gesê.

“Ons het beplan om die verkeer te vertraag en strate met ons motors te blokkeer, maar toe sê die polisie hulle sal ʼn vergadering reël met Uber,” het Munchik gesê. Volgens haar is Uber besig om al die lede van die forum se name te versamel en hulle van die Uber-app te verwyder. Munchik het gesê dat bestuurders beroof is vandat die opsie ingestel is vir kliente om kontant te betaal.

Een van die bestuurders wat glo sonder waarskuwing van die app verwyder is, het gesê dat die Uber-bestuur nie omgee oor die bestuurders nie, maar net oor die geld wat hulle vir die maatskappy inbring.

Maroela Media het vanoggend berig dat talle motoriste Vrydag weer eens vasgevang was in nóg ʼn staking wat die meeste paaie na die OR Tambo Internasionale Lughawe versper het. Metertaxi-bedieners het betoog teen Uber en het alle roetes na die lughawe met hulle taxi’s versper.

Intussen het Samantha Allenberg, woordvoerder van Uber in Suid-Afrika, in ʼn verklaring gesê dat dié maatskappy nie sal huiwer om die Uber-app aan ander taxi’s te voorsien om hulle kanse op wins te vergroot nie.

“Heelwat metertaxi’s gebruik al ons tegnologie om hul inkomste aan te vul en ons sal ander wat dit ook wil gebruik verwelkom. Ons voel nie dat dit ʼn geval van Uber óf taxi moet wees nie, maar eerder Uber én taxi,” het Allenberg gesê.

“Dreigemente en intimidasie teenoor Uber-bestuurders is onaanvaarbaar. Vandag se betogings benadruk weer eens hoekom mense al hoe meer veilige, betroubare alternatiewe soos Uber gebruik,” het Allenberg gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Bokram ·

Uber se dienste is n groot sukses reg oor die wereld,ek het geweet dis net n kwessie van tyd dat n probleem gaan word in suid afrika,ons mag mos niks nice hier he nie dan moet dit vernietig word.

Ruby ·

Kla die taxidrywers ook omdat hulle met kontant moet werk?

As jy nie vir Uber wil werk nie, gaan ry taxi.

Donovan ·

Uber behoort mos nie n probleem te wees nie… dit is kompetisie… jack net jou dienste op en jy sal jou deel van die koek kry…

Christa ·

Ek verstaan nie ons mense nie – wanneer dit HULLE pas is almal “equal” en moet so behandel word, maar ander kere het NET HULLE “the right”!!! They must make up their minds, they can’t have it both ways!!!

SARIE VAN HEERDEN ·

Ons is hoogs beindruk met Uber want dis ‘n goed-georganiseerde bedryf en ek sal my NOOIT verlaat op die ongereguleerde taxi’s nie. Verbruikers voel veilig met Uber want hul is deurgaans in kontak met hul verhuringskantore. Die taxi’s is ‘n verskrikking op paaaie, en die bestuurders bestuur soos besetenes en gee geen aandag aan enige padreels nie. UBER BO.

SARIE VAN HEERDEN ·

Ons dra kennis van baie goeie Uberdienste. Taxibestuurders respekteer geen padreels nie en is gevaarlik om mee te ry. En as reiskoste die probleem is is dit tog dat Uber ‘n groter verbruikersgetal trek en dus teen ‘n verminderde tarief dieselfde inkomste as die taxis kan genereer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.