Uber Eats-staking tot Woensdag uitgestel

(Foto: Unsplash)

Die Uber Eats-staking waaraan talle afleweringsbestuurders van dié maatskappy die afgelope naweek deelgeneem het, is tot later die week uitgestel.

“Die stakingsaksie word tot Woensdag uitgestel, terwyl ons wag op Uber Eats se reaksie op ons eise,” het Duane Bernard wat namens die afleweringsbestuurders praat, Saterdag op Twitter gesê.

Sommige afleweringsbestuurders in Gauteng het Vrydag hul dienste gestaak in protes teen die verlaagde fooie wat per aflewering aan bestuurders betaal word. Die fooie is glo deur Uber Eats verlaag, sonder om bestuurders te raadpleeg.

Volgens Bernard het Uber Eats klante en restaurante se koste per aflewering verlaag tydens die Covid-19-pandemie, maar terselfdertyd die bestuurders se loon per aflewering verminder.

“Uber Eats spog met groot winste, maar behandel hul bestuurders en vennote soos slawe. Genoeg is genoeg!”

Volgens Uber Eats het hulle onlangs ʼn meer bekostigbare struktuur vir afleweringskoste in Suid-Afrika bekendgestel wat ontwerp is om afleweringsbestuurders te help deur die vraag van gebruikers te verhoog, sodat meer mense gereeld met die Uber Eats-app bestel.

“Ons het tydelike aansporings vir afleweringsbestuurders ingestel om te verseker dat hul verdienste sterk en betroubaar bly,” het Samantha Fuller, woordvoerder vir Uber Eats SA, in ʼn verklaring gesê.

“Ons respekteer die bestuurders as waardevolle vennote met ʼn stem en ʼn keuse. Ons is tans in gesprek met afleweringsbestuurders oor hul bekommernisse en om alle bykomende vrae te beantwoord.”

In die bestuurders se lys van eise wil hulle onder meer ʼn minimum afleweringsfooi van R20 vir die eerste 2 km in werking stel, waarna R6 per km gehef sal word. Hulle vereis ook dat Uber connect se dienslewering ʼn minimum van R30 sal wees en dat bestuurders tydens spitstye meer betaal sal word.

“Uber Eats seëvier slegs as ons vennote seëvier, daarom ondersoek ons altyd nuwe maniere waarop vennote kan groei en suksesvol wees,” sê Fuller.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.