Uber soek handtekeninge vir petisie teen geweld

Twee van die voertuie. Foto: Verskaf

Die huurmotordiens Uber het Vrydag ʼn petisieprojek van stapel gestuur teen die voortdurende konflik en geweld tussen metertaxi- en Uber-bestuurders.

Die petisie doen onder meer ʼn beroep op Joe Maswanganyi, minister van vervoer, en Fikile Mbalula, minister van polisie, om dié geweld en konflik hok te slaan.

Dié petisie volg nadat drie voertuie Donderdagaand in Sandton in Johannesburg met petrolbomme aan die brand gesteek is te midde van die konflik tussen die twee partye. Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

“Toe die polisie by die toneel opdaag was drie voertuie reeds aan die brand. Voorlopige ondersoek het daarop gedui dat een van die voertuie aan ʼn Uber-bestuurder behoort en een was ʼn metertaxi. Die bestuurders kon uit die voertuie ontsnap en is ongedeerd,” het hy gesê. Die derde voertuig was nie ʼn meter- of ʼn Uber-taxi nie.

Alon Lits, Uber se algemene bestuurder van Afrika suid van die Sahara, sê ten spyte van voortgesette gesprekke met wetstoepassers en die polisie, soos onder meer dié op 2 Julie, was daar sedert Julie vanjaar meer as 200 voorvalle van geweld of konflik teen Uber-bestuurders.

Op dié vergadering is ooreengestem die Nasionale Landvervoerwet van 2009 is die primêre wetgewing wat voorsiening maak vir die regulering van openbare padvervoer. Die wet vorm die basis om die uitdagings wat die bedryf in die gesig staar, op te los. Tydens die vergadering het alle partye ingestem om die wet te handhaaf en daarvolgens op te tree.

Lits het verder ook gesê dis waansinnig dat die maatskappy daarvan beskuldig word dat hy metertaxi’s se “besigheid steel”.

Argieffoto

“Ons is uiters teleurgesteld dat die geweld teen die Uber-bestuurders voortduur en dat wetstoepassers en die polisie voorvalle soos dié ʼn kwessie maak van wie in watter areas mag werk,” het hy gesê.

Maswanganyi het Vrydag die voorval veroordeel, maar Lits het gesê die huurmotordiens stuur juis die petisie van stapel omdat die voorvalle nie met genoeg erns hanteer word nie en omdat die polisie steeds nie iets daadwerkliks aan die situasie doen nie.

“Nes ander Suid-Afrikaners moet Uber-bestuurders die vryheid hê om hul werk te doen en geld vir hul gesin te verdien sonder vrese vir intimidasie of geweld. Die owerhede wie se verantwoordelikheid dit is om dié mense te beskerm, neem nie genoeg aksie teen die misdadigers wat die geweld en konflik veroorsaak nie.

“Uber doen steeds alles in sy vermoë om gevalle soos dié te vermy en hulp te verleen wanneer dit wel gebeur. Ons is egter nie wetstoepassers nie en die regering en polisie moet ingryp en standpunt inneem teen dié geweld en intimidasie. Maswanganyi het die voorvalle al talle kere veroordeel, maar nog nie veel gedoen om die kriminele dade te beëindig nie,” het hy gesê.

Die polisie het teen Saterdagoggend nog nié gereageer nie. Meer as 18 000 mense het die petisie teen Saterdagoggend reeds onderteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Herman ·

Dis nogal vreemd in al die ander lande werk uber? Hoekom nie in SA nie?

humor ·

Vreemd???? Jy kan mos nooit die ander lande met die barbaarsheid in SA vergelyk nie.

Oosie ·

Die ander taxi-dienste is nie naastenby soos professioneel soos Uber nie. Jy weet presies wie jou oplaai, kan die roete van jou geliefde volg en kan aan die einde jou diens en bestuurder evalueer om net ‘n paar uitstaande aspekte te noem. Jou kanse om nie deur die ander barbare beroof/ontvoer te word kan nie gewaarborg word. UBER BO!!

damon ·

Uber is veronderstel om as volg te werk:
Die drywer verskaf sy eie motor en uber stuur vir hom die besprekings. Alles werk deur selfone en apps. Dis hoekom Uber se tariewe laer as ander vervoerbesighede is.
Maar wat al die afgelope 3 jaar toenemend gebeur, is dat ander vervoerbesighede óók by Uber inskakel. Die Uber tariewe bly egter dieselfde. Omdat die vervoerbesighede ook moet geld maak, word die drywers dan minder betaal. Die gevolg is uberdrywers wat 24 tot 48 ure aaneen werk, met metertaxi-besighede baklei vir passasiers en ‘n hele rits ander probleme en selfs misdade.
Ek was in die taxi-vervoerbedryf. vervoerbedryf. Ek weet wat daar aangaan en dis oor hierdie tans misdadige kompetisie wat ek daar weg is.

Chris ·

Almal skree vir ekonomiese vryheid maar die is ‘n bewys dat dit nie werk nie!

SARIE VAN HEERDEN ·

UBER, waar kry ons die petisiesvorms om te teken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.