Uber, Taxify skort dienste op

Die digitale taxidienste Uber en Taxify het hul dienste Maandag tot verdere kennisgewing opgeskort weens “haglike werkstoestande”. (Foto: African News Agency)

Die digitale taxidienste Uber en Taxify het hul dienste Maandag tot verdere kennisgewing opgeskort weens “haglike werkstoestande”.

Vhatuka Mbelengwa, woordvoerder van digitale taxidiens-operateurs, het Maandag in ʼn verklaring gesê ontevrede werknemers se klagtes val op dowe ore selfs nadat hulle hul werkstoestande voorheen met slawerny vergelyk het.

Mbelengwa raai gevolglik Uber- en Taxify-gebruikers aan om van Maandag van alternatiewe taxidienste gebruik te maak totdat die situasie verander en het om verskoning gevra vir enige ontwrigting wat dié besluit veroorsaak.

“Ons besef dat ons nie langer met Uber en Taxify kan onderhandel nie. Ons weier om stil te bly en toe te laat dat ons deur ons regering gemarginaliseer word terwyl Uber en Taxify ons uitbuit,” het Mbelengwa gesê.

Mbelengwa het gesê bestuurders het gevolglik besluit om hul dienste op te skort totdat die minister van vervoer, Blade Nzimande, asook ander belanghebbendes instem tot die nodige veranderings wat gemaak moet word.

Digitale taxidiens-operateurs het vroeër vanjaar betoog oor wat hulle meen haglike omstandighede is waaronder bestuurders glo werk. Bestuurders van dié digitale taxidienste het gekla dat die stygende brandstofpryse ʼn al groter hap uit hul inkomste neem, terwyl die kommissie wat hulle aan die taxidienste moet betaal terselfdertyd toeneem.

Bestuurders het ook hul kommer uitgespreek oor hul veiligheid, hoofsaaklik as gevolg van ʼn bottelnek op die app wat hulle gebruik om alarm te maak indien daar fout is. “Ons werksomstandighede vernietig ons lewens daagliks en ons regering kyk bloot anderpad. Hierdie intense pyn wat ons voel moet nou ook deur Nzimande gevoel word, aangesien hy steeds nie sy verantwoordelikhede as minister van vervoer nakom nie,” het Mbelengwa gesê.

Hy sê dat bestuurders daarvan oortuig is dat staatsamptenare nie die vermoë het om die digitaletaxidiens-sektor te verstaan ​​nie.

Uber alleen het meer as 12 000 bestuurders landswyd.

Volgens Mbelengwa besluit die parlement steeds oor voorgestelde wysigings aan die Wet op Nasionale Vervoer, insluitende ʼn klousule wat digitale taxidiens-operateurs opdrag gee om toegang tot hul stelsels te weier aan enige bestuurder wat nie ’n geldige rybewys het nie. Ingevolge dié klousule kan operateurs en bestuurders ’n boete van R100 000 asook twee jaar tronkstraf opgelê word as hulle nie aan dié bepalings gehoor gee nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Erwee ·

Nog n diens wat vernietig is deur die Anc se onvermoe om die land te regeer

Hansie Slim ·

Dis nou ‘n diens wat ek en my kinders reeds baie gebruik het omdat dit ‘n billike prys vir ‘n billike diens. So gaan alles ten gronde onder ons wonderlike regering!!!

Nettie ·

KRY VIR JULLE!!!!!!!!!!!

Die oorgrote meerderheid van julle Uber- en Taxify-bestuurders het vir die ANC-regering gestem; ek het dus geen simpatie met julle wat kla dat “Uncle” Blade glad nie oor julle, die stygings in petrolpryse en die % kommissie wat julle aan die “franchises” moet betaal, “worry” nie …….

You get what you vote for ………….

Lizelda ·

Nes ek dink ons het n gerieflike, betroubare, alternatiewe vervoeropsie…

daniel ·

uber werk lekker vir iemand wat sy eie motor by uber registreer en dan as eenmansaak uber trips doen. Dit was ook die oorspronklike bedoeling toe uber begin het. wat egter in SA gebeur is dat bestaande taxi- en shuttle-besighede ook hulle motors by uber inskakel en dan hulle span drywers daarvoor gebruik. die tariewe BLY egter die uber tariewe, wat baie laer is as wat taxi- en shuttle-besighede normaalweg vra. So wat is die gevolg? die drywers word MINDER betaal en moet tot 48 uur aaneen werk om darem genoeg geld te maak om aan die lewe te bly.
Ek weier om te glo dat Uber se hoofkantoor nie dit weet weet nie. Hulle behoort eerder taxi- en shuttlebesighede te verbied om ook by uber in te skakel.
Ek was in die shuttle bedryf. wat ek hier noem is op feite en eie ervaring gebaseer.

Johan ·

As dit dan so sleg is moet hul bedank. Niemand het hul gedwing om die aanbod vir werk op sekere terme te aanvaar nie.

daniel ·

werkloosheid is meer as 27%. dit raak dus nie net wit mense nie. baie swart mense kry ook swaar. mense van vir aanbiedings om vir uber te ry, omdat leuens aan hulle voorgehou word oor hoe baie geld hulle gaan maak. En dan is dit ook maar n geval van desperaatheid: jy weet dis n werk met lang ure, baie risikos en min geld, maar jy weet ook jy moet werk en jy kry niks anders nie. Ek het hierdie soort werk gedoen al het ek 2 universiteitsgrade. Ek was moeg van werkloos by die huis sit en onderhoude en CV’s wegstuur lei tot absoluut NIKS. Ek het my 2 universiteitsgrade VERWYDER vanaf my CV sodat ek darem drywerwerk kon kry. Ek het presies geweet waarvoor ek my inlaat (lang ure, min geld, korrupte management van shuttle besighede), maar ek het uitgehou en terwyl daar darem geld ingekom het, ander werk gesoek. Praise the Lord eks vandag uit daardie bedryf uit, maar eks bitter jammer vir diegene wat steeds daarin is en wat swaarkry. Niemand doen ook iets aan die korrupsie en wanbestuur in die bedryf nie. Kla by Dept of Labour en die CCMA help niks.

hb ·

Ai . Gan hulle mis. Hoe gaan ek nou bd huis kom as ek wee dronk is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.