UDM vandag in hof oor Bobani

Mongameli Bobani en sy regsverteenwoordiger, Lionel Trichardt, by die hooggeregshof in Port Elizabeth (31 Augustus 2017). Foto: ANA

Die hooggeregshof in Port Elizabeth sal na verwagting Dinsdag ʼn aansoek deur die United Democratic Movement (UDM) aanhoor om die ontheffing van die voormalige adjunkburgemeester van Nelson Mandelabaai uit sy amp te betwis.

Die UDM het ʼn aansoek voor die hooggeregshof gebring om ʼn interdik te bekom en sodoende die munisipaliteit te verhoed om ʼn besluit wat op 24 Augustus geneem is om Mongameli Bobani van sy amp te onthef, te implementeer. Die UDM wil hê dat Bobani weer in sy pos aangestel moet word en voer aan die stemproses waartydens hy uit sy posisie verwyder is, was ongrondwetlik en onwettig.

Bobani is op ʼn raadsvergadering uit sy posisie verwyder deur 60 stemme van die DA, die African Christian Democratic Party, die Congress of the People en die Patriotic Alliance. Hy is daarvan beskuldig dat hy die administrasie ondermyn het deur by verskeie geleenthede saam met die ANC te stem.

Opposisiepartye, insluitend die EFF en die ANC, het uit die raadsaal uitgestap terwyl die mosie van wantroue aan die gang was.

Athol Trollip, die uitvoerende burgemeester, het vroeër gesê ʼn forensiese konsepverslag het ernstige bewerings van wanadministrasie aan die lig gebring waarby departemente wat direk onder Bobani se politieke gesag was, naamlik die openbare gesondheidsdirektoraat, betrokke is. Bobani is sedertdien deur Trollip afgedank en is nie meer werksaam in die departement nie.

Bantu Holomisa, leier van die UDM, het in ʼn brief aan DA-leier Mmusi Maimane die DA daarvan beskuldig dat hy die konsepverslag deur PricewaterhouseCoopers (PwC) “op twyfelagtige wyse” gebruik om van Bobani ontslae te raak.

Holomisa het aangedring op ʼn openbare verskoning en dat die DA die “ongegronde beskuldigings” teen Bobani terugtrek. Holomisa het gesê dit is “verdag” dat die Nelson Mandelabaai-koalisievennote in die donker gehou is oor sommige dele van die inhoud van die konsepverslag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Da kry vir julle ongelukkig kan geen politieke partye saamwerk nie julle gaan nog lank trane huil

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.