Uit Thaise tronk het Ashley Oosthuizen ‘ontmoeting met die Here’

Ashley Oosthuizen is in 2020 in Thailand in hegtenis geneem en van internasionale dwelmhandel aangekla. (Foto: Facebook/Ashley Oosthuizen)

In die twee en ʼn half jaar wat Ashley Oosthuizen (24) in ʼn Thaise tronk aangehou word, het sy ʼn lewensveranderende ontmoeting met die Here gehad.

“Met sy genade wat elke oggend nuut is, is dit vir haar moontlik om kop bo water te hou,” sê Oosthuizen se ma, Lynn Blignaut, vanuit Thailand waar sy tans woon.

“Ek is baie dankbaar dat sy nog nooit werklik siek was nie en gegewe die omstandighede goed behandel word, drie goeie vriendinne het en veral dat haar verhouding met Jesus by die dag groei. Sy leer om haar vertroue in Hom te plaas en deur die Heilige Gees gelei te word.”

Oosthuizen het onlangs in ʼn brief verduidelik hoe ʼn dag in haar lewe in ʼn Thaise tronk lyk. Dié brief, wat op sosiale media gedeel is, het baie mense  geraak.

“Dit is waar dat God ons nie meer gee as wat ons kan hanteer nie, en as dit nie was vir die skok van my eerste aand in die tronk, gevolg deur die kort tydperk daarna voordat 20 gevangenes na ander tronke oorgeplaas is nie, sou ek dalk nie my hoekie in die tronk gekry het nie,” skryf sy.

“‘Gebruik wat jy het’ het my mantra geword. Aangesien my huidige situasie is wat dit is, is dit nutteloos om dit weg te wens of daarteen te veg. So, as 1,7 m by 0,6 m al is wat ek het, sal ek dit ten volle gebruik.”

Oosthuizen skryf sy het onlangs stappe begin doen sodat sy nie in sak en as gaan sit nie. Sy probeer om vroegoggend in haar klein hoekie te oefen en gebruik dan daardie “kosbare minute van stilte” om te bid en stil te raak met God “voor die chaos van die dag”.

Die meeste dae sit sy met haar neus in ʼn boek en lees die ure verby.

“Jy sien, ons kan altyd kies. Ek het dalk nou minder keuses as voorheen, maar ek het dit nietemin.”

ʼn Thaise hof het Oosthuizen se aanvanklike lewenslange vonnis verlede jaar tot 33 jaar verminder nadat sy teen haar skuldigbevinding en tronkstraf vir internasionale dwelmhandel geappelleer het.

Die jong vrou en haar familie, wat onomwonde in haar onskuld glo, was hoopvol dat haar appèl sou slaag en dat Oosthuizen na Suid-Afrika sou kon terugkeer. Sy het verlede jaar al teen dié uitspraak geappelleer, maar dit is glo ʼn lang proses wat tot ʼn jaar kan neem.

Blignaut sê hulle het nog geen verdere nuus oor die appèlsaak gekry sedert dit ingedien is nie.

“Ek hou my fokus op Jesus en plaas my vertroue in Hom en weet dat as ek my deel doen, sal Hy die res doen wat vir my onmoontlik is.”

Ma en dogter albei in Thailand

Ashley Oosthuizen en haar ma, Lynn Blignaut. (Foto: Verskaf)

Blignaut het onlangs besluit om haar lewe in Suid-Afrika prys te gee om permanent nader aan haar dogter in Thailand te wees.

Sy word toegelaat om haar dogter twee keer per week te besoek, maar slegs vir 15 minute waartydens hulle ʼn telefoniese gesprek moet hê terwyl hulle deur ʼn glasafskorting na mekaar kyk.

“Oor die afgelope paar maande moes ek ʼn paar groot besluite oor die pad vorentoe neem,” sê Blignaut.

“Stadig maar seker het die harde werklikheid my getref: My kind sit opgesluit in ʼn tronk, ʼn Thaise tronk.”

Dié ma en dogter bid sedert Desember oor of sy in Thailand moet gaan woon of steeds in Suid-Afrika. Die antwoord het onlangs duidelik gekom. Laat die sakeonderneming gaan. Verkoop alles. Gee weg wat weggegee moet word. Sluit daardie hoofstuk af.

Blignaut bevind haar nou, permanent, in ʼn nuwe omgewing, kultuur, lewenswyse en taal wat sy kwalik begryp.

“Vir nou maak ek Thailand my tuiste so lank as wat dit nodig sal wees – die mens wik, maar God beskik.”

Blignaut leer ook die plaaslike taal aan sodat sy beter met die plaaslike inwoners kan kommunikeer. Sy is wel dankbaar dat sy nou in ʼn land waar slegs 1% van die bevolking Christene is, deel kan wees van ʼn plaaslike Christelike kerk waar die dienste vir haar getolk word.

“Soos Ashley dit tereg uiteengesit het in haar brief vanuit die tronk: Jy moet aanvaar en aanpas. Aanvaar dat dit op die oomblik jou werklikheid is, pas aan by jou manier van dink en die nuwe omgewing waar jy jouself bevind,” sê Blignaut.

“Beter sou ek dit nie self kon stel nie, want dit is presies wat albei van ons gedoen het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

So hartseer my pa het altyd gese meng jou met die semels dan vreet die varke jou.Haar goeie vriend het haar waar sy vandag is.Duur les

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.