Uitblinker-matrikulant sterf in tref-en-trap

Nathan Greyling [Foto: Facebook]

‘n Matrikulant van St. Dominic’s College in Welkom, Vrystaat, se liggaam is Dinsdagoggend gevind nadat hy Maandag as vermis aangemeld is.

Volgens die Vrystaatse polisie is Nathan Greyling in ’n tref-en-trap-ongeluk dood. Hy was onderhoofseun van die skool en het ook uitgeblink in akademie én sport.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê Nathan se ma, wat in Riebeeckstad woon, het hom Maandag om 12:00 as vermis by die polisie aangemeld. Sy liggaam is Dinsdagoggend langs die pad tussen Hennenman en Riebeeckstad gekry.

“Die polisie het omstreeks 01:00 inligting ontvang oor ’n persoon wat op die R70-pad raakgery is. By die polisie se aankoms op die toneel het hulle op ’n liggaam afgekom wat ooreenstem met die beskrywing van Nathan,” bevestig Thakeng.

Volgens Thakeng was dit duidelik dat Nathan raakgery is.

“Stukke van die voertuig se hoofligte is op die toneel gevind. Die voertuig was egter skoonveld. Die polisie het ’n soektog na die motor van stapel gestuur, maar daar is nog geen inligting oor die presiese motor of die bestuurder nie.”

Thakeng sê volgens voorlopige inligting lyk dit asof Nathan langs die pad geloop het toe hy deur die motor getref is.

“’n Saak van strafbare manslag is aanhangig gemaak.”

Pierre Klopper, ’n onderwyser van Nathan en ook hoof van sport by St. Dominic’s College, sê Nathan het provinsiaal krieket, hokkie en tennis gespeel. Hy was ook ’n A-student en was altyd onder die topdrie-leerders in sy graad.

Hy was van gr. 7 af in St. Dominic’s College.

Nathan het pas met die matriekeksamen begin en volgens Klopper sou hy volgende jaar ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) gaan studeer het.

“Nathan was ’n fantastiese leier en baie gewild onder sy maats,” vertel Klopper aan Maroela Media.

Thakeng vra dat enigiemand met meer inligting oor die voorval vir sers. Jan Ndayi van die speurtak in Hennenman by 082 301 2959 bel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Elize ·

Mag hierdie lafaard se gewete hom so ry dat hy by ‘n polisiestasie instorm en homself oorgee!!

Mieke ·

My innigste meegevoel aan die familie.. mag ons Hemelse Vader vir julle vertroos en julle sterkte gee om hierdie hartseer verlies deur te werk.

Di ·

Sjoe wat ‘n skok moes dit nie vir hierdie seun se ouers gewees het nie. Dit raak ook nou ‘n algemene ding dat mense raak gery word en die bestuurder weg jaag. Hoop hulle vang hierdie skurk!

Susan ·

Baie hartseer en tragies dat so jong belowende lewe kortgeknip word deur ‘n roekelose lafhartige mens! Baie sterkte vir die ouers, familie en skool.

Skappie ·

Sterkte aan die ouers van Nathan.. Mag onse Liewe Jesus julle styf in Sy arms vashou in hierdie moeilike tyd wat vir julle voorle.

Linda ·

Dis baie hartseer met verwoestende nagevolge vir baie mense. Innige simpatie vir sy ouers en familie. Skole en ouers moet dit indril by kinders om nie in die pad /ryvlak te loop waar voertuie ry nie. Ek woon in die Wes Kaap en daagliks op my 2km werk toe is hordes voetgangers wat die strate volloop. Ook fietse wat teen die verkeer ry. Wanneer het die wet rakende dit verander? En in die winter is die mense glad nie sigbaar tot jy amper bo-op of teen aan hulle is nie.

Misky ·

Innige simpatie en sterkte aan die familie in die moeilike tyd. Ek verstaan nie die tendens deesdae van wegjaag van ‘n toneel nie. Mens doen dit nie met ‘n dier nie, nog minder ‘n mens. Mag hy vinnig aangekeer word en boet vir sy dade

TRP ·

Ek het nie woorde om hierdie hartseer berig te beskryf. So bitter jammer aan die familie. SA verloor duidelik ‘n aanwins. RIV seun.

Mariaan ·

Ag nee…nee nee….sulke goed maak mens verlore voel in hierdie wereld…wat se mens? Woorde KAN nie hierdie tragedie beskyf nie…geen kind.geen ouer verdien dit nie!

Johanna ·

Siestog wat n tragedie. Verskriklik hartseer.
Sterkte aan Nathan se ma, naasbestaandes en vriende.
Sy dood laat beslis n groot leemte in Suid Afrika.

Robert ·

Lees weer die berig, hy is reeds 12:00 uur die middag as vermis aangegee, sy liggam is die volgende oggend 01:00 gevind.

Gerrie ·

Dis ongelooflik seer, ek ken hom persoonlik en hy is my dogters se vriend en was saam in matriek. Van sondag af het almal wat hom ken se lewe in in nagmerrie verander. Liefste Nathan

Papsak ·

Dit raak algemeen dat wittes so dood gery word en seer gemaak word dan jaag hulle net maar weg ons doen dit nie met our people se kinders nie ons gaan nie uit ons pad om hulle dood te maak nie hoekom doen hulle dit met ons wittes stop dit hierdie land is ons almal sin nie net our people sin nie

Swerwer ·

Innige simpatie en meegevoel aan Nathan se familie en vriende. Hoop die skuldige word gou gekry.

Mariaan ·

Was die ongeluk tussen 2 dorpe? Hoekom sou hy daar alleen stap? Of verstaan ek verkeerd

Suzette ·

Klink vir my ook snaaks. Skool is in Welkom. Ly of hy besig was om huistoe te gaan in Riebeeckstad, Riebeeckstad is so 10 km vanaf Welkom gelee. Die pad loop verder tot in Hennenman daarom noem hulle dit die Riebeecstad /Hennenman pad. Om een of ander rede was die seun seker genoodsaak om te stap. Baie hartseer…. Sterkte vir sy naasbestaandes.

Frank John ·

Ons leef in ‘n siek wêreld. Mense het nie meer ‘n gewete wat werk nie. Oneerlikheid is aan die orde van die dag. Mag hy of su slapelose nagte hê totdat hy of sy wat die ongeluk gemaak het en krimineel weggery het so uitgeput is en nie anders kan as om na vore te kom en hul skuld kom erken en vereffen.

Frank John ·

Net nog ‘n vraag vra, kan iemand vir my sê waarom hu alleen op daai pad te voet was. Het hy gaan draf dalk? As hy so sportief was is dit al wat vir my sin maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.