Uitblinker-matrikulant sterf tragies in ongeluk

Damian Gruen (Foto: Verskaf)

Medelye stroom in vir Damian (Duimpie) Gruen (18), ’n matriekleerder aan Hoërskool Die Anker in Brakpan, nadat hy Maandag vroegaand tragies in ’n motorongeluk omgekom het. Dit ’n dag na die skole weer vir matrikulante heropen het.

Cindy du Plessis, Damian se ma, vertel Damian was saam met sy ouer broer, Keenan Gruen (21), en suster, Amber Gruen (9), in die voertuig toe die ongeluk plaasgevind het. Keenan het die voertuig bestuur, terwyl Damian in die voorste passasiersitplek gesit het.

“Die kinders het by ’n rooi verkeerslig, so drie blokke van ons huis af, stilgehou. ’n Voertuig het skielik van agter teen hulle vasgejaag. My kinders se voertuig het gedraai en die voertuig is weer teen hulle vas. Dié keer het die voertuig die passasierskant van my kinders se voertuig getref, waar Damian gesit het,” vertel Du Plessis.

Volgens Du Plessis was die bestuurder van die ander voertuig glo besope en is op die toneel in hegtenis geneem.

Damian is op die ongelukstoneel oorlede.

Keenan het beserings aan sy nek en lae rug opgedoen en is hospitaal toe geneem vir verdere mediese behandeling. Amber is steeds in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal in Pretoria.

Damian het op die skool se leerlingraad gedien. Hy het uitgeblink in akademie en was ’n kranige rugbyspeler. Hy het vir die skool se eerste rugbyspan gespeel.

Volgens Du Plessis was hulle besig om vir hom ’n beurs te soek om volgende jaar iets in rugby te gaan studeer.

’n Bewoë Du Plessis vertel Damian het baie vriende gehad en was geliefd onder al die leerders in die skool. “Hy was die nar van die huis en het altyd tyd gehad vir ’n grappie,” vertel sy.

Damian was ‘n kranige rugbyspeler (Foto: Verskaf)

Skole van reg oor die Oos-Rand het hul medelye op Facebook aan Damian se vriende en familie betuig.

“Ons innige meegevoel en simpatie aan Hoërskool Die Anker en gesin van Damian Gruen. Dit is vreeslik swaar en seer om te hoor dat iemand vir wie julle so lief is, so skielik van julle weggeneem is. Mag God julle in die moeilike hartseer tyd vertroos en versterk,” het Felicitas Skool in Brakpan op hul Facebook-blad geskryf.

’n Facebook-blad genaamd “In Loving Memory of Damian Gruen” is gestig waar vriende, familie en lede van die gemeenskap sy lewe kan vier deur herinneringe en foto’s te deel.

“Damian, woorde sal nie die seer kan beskryf wat almal nou het nadat ons die nuus van jou afsterwe ontvang het nie. Jy was so ongelooflike seun gewees met die mooiste maniere en so vol liefde. Jy was altyd bereid om te gesels,” lui een van die boodskappe.

Fondsinsamelingsinisiatiewe is van stapel gestuur om genoeg fondse in te samel om die familie met begrafniskoste en mediese uitgawes te help. Die familie het glo nie ’n mediese fonds nie.

Leoni Raat, ’n besorgde ma, het ʼn Back-a-Buddy-fondsinsameling gestig om geld vir die familie in te samel. “Die familie rou en moet nie nou met finansiële stres belas word nie,” sê Raat.

Besoek die Back-a-Buddy-blad hier. Bankbesonderhede vir donasies kan ook op die “In Loving Memory of Damian Gruen”-Facebookblad gekry word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Mariska ·

Absoluut tragies. Nog ‘n bewys van watter verwoesting alkoholmisbruik saai onder onskuldige mense. Gebede en seën vir die jongmense se ouers en vriende, mens kan jou die hartseer nie indink nie.

Alida ·

Dit is sooo tragies. Hoop NDZ lees die berig en maak drank toe!!!!

Cindy ·

wat help dit om drank toe te maak – mense wat wil gaan wel nogsteeds teen enorme pryse drank koop, en mense wat wil drink en bestuur gaan nooit leer tot die dag wat hul doodgaan nie :( Dis hartseer, dat grootmense soos klein kindertjies onder toom gehou moet word omdat hulle dink hul is onaanraakbaar :(

Tienie ·

Drank maak nie mense dood nie, vuurwapens ook nie. Onverskillige mense is die oorsaak.

Punt

Pitbul ·

Ag Alida…dis nie drank nie maar n mens wat nie gehoor gee aan wette nie… as jy besope is moet nie bestuur… skiet… vlieg… of gaan jag nie… ens.. ens..

Jsgroen ·

My simpatie aan die familie. Nee, sy is meer gepla oor haar twakkies as drank.

Cindy ·

So vreeslik jammer vir julle verlies, dis absoluut hartverskeurend :( Hoop jou ander seun & dogter word gou beter.

Magda ·

So tragies, sterkte aan die Familie. Die MOORD word voor Kopdoek DZ gele, want drank was die oorsaak. Want dit is moord / strafbare manslag as jy drink en bestuur. Dagvaar DZ.

QueenB ·

Dus baie hartseer sterkte aan familie….hoop die skuldige boet vir sy dade…

Deanna ·

Very Sad my son Damian was in his class they have been friends since grade 8 its amazing how this story has gone viral, they need to keep the guy locked up he need to pay for his crime

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.