Uitbreking van bek-en-klouseer in KZN

(Argieffoto)

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het Vrydag ’n uitbreking van bek-en-klouseer onder vee in Mtubatuba in KwaZulu-Natal aangekondig.

Die departement het nou sekere gebiede in dié provinsie aangewys waar geen vee of wild tot verdere kennisgewing geskuif of vervoer mag word nie.

Reggie Ngcobo, departementele woordvoerder, sê die departement het Woensdag monsters ingesamel nadat plaaslike veeartsenykundige amptenare verdagte letsels op ’n trop beeste opgemerk het.

Die diagnose van bek-en-klouseer is Donderdag deur die Onderstepoort Veeartsenykundige Instituut se laboratorium bevestig.

’n Span amptenare van die KwaZulu-Natalse departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling stel nou verdere ondersoek in om die omvang van die uitbreking te bepaal.

Ngcobo sê geen spleethoewige diere, waaronder vee en wild, in die distriksmunisipaliteite van King Cetshwayo en Umkhanyakude, asook die plaaslike munisipaliteite van Nongoma, Ulundi en Pongola mag intussen geskuif of vervoer word nie, hetsy tussen (inwaarts en uitwaarts) of binne die onderskeie gebiede.

Dié besluit is geneem in ’n poging om die verdere verspreiding van die siekte te voorkom terwyl die omvang van die uitbreking bepaal word. Die besluit sal binne die volgende twee weke hersien word.

Die departement het ook boere in die noordelike streek van KwaZulu-Natal wat buite die tydelike stilstandgebied boer, gewaarsku om geen nuwe diere in hul kuddes toe te laat nie en die vervoer van hul kuddes na ander plase te beperk.

Ngcobo sê voorts enige vermeende geval van bek-en-klouseer moet dadelik by die plaaslike staatsveearts aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Danie

Kom ons dalk nou tot die einde toe. Is dit dalk tyd om wakker te skrik. Dit is pes onder die mens, pes onder die vee, aardbewings oorloe. Mense ek is n leek maar iets se vir my, maak reg met jou Skepper. Baie gaan nou se ag dit gebeur nog altyd, maar het dit so gereeld gebeur. Covid, voelgriep, bek en klou, varkgriep, aardbewings, vulkaan uitbarstings, sikloon, Israel en Palestiena oorlog,mense slagting s waar etlike mense afgemaai word deur waansinnige. Dinge beweeg met spoed als gebeur nou net te algemeen