Uitbreking van varkgriep in Noordwes aangemeld

Argieffoto

ʼn Uitbreking van Afrika-varkgriep is in die Zeerust-omgewing in Noordwes aangemeld, het die departement van landbou, bosbou en visserye gesê.

Zweli Silangwe, waarnemende woordvoerder van die departement, het Donderdag in ʼn verklaring gesê ʼn plaas in die omgewing waar dié siekte onder varke kop uitgesteek het, is deur die Noordwes- provinsiale veeartsenydienste onder kwarantyn geplaas. Opvolgondersoeke word tans gedoen en siektebeheermaatreëls word toegepas.

Luidens die verklaring is Afrika-varkgriep ʼn ernstige siekte onder varke wat kan veroorsaak dat dié diere baie vinnig siek word en tot die dood van talle varke in ʼn kort tydperk kan lei. Die siekte word oorgedra deur kontak met besmette varke of vlakvarke wat besmette bosluise uit die endemiese gebied, waar die siekte voorkom, vervoer. Voeding uit kombuisafval kan ook die siekte oordra. Afrika-varkgriep het geen effek op die mens nie.

Die uitbreking is Woensdag by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (OIE) aangemeld.

Die departement het gesê boere word aangeraai om eerder nie varke saam met vlakvarke in hokke of kampe aan te hou ne. Dit is ook belangrik om net varke te koop wat uit ʼn gesonde kudde kom.

“Onder geen omstandighede mag kombuisafval aan varke gevoer word tensy dit ʼn uur lank gekook is om die siekte uit te skakel,” lui die verklaring.

Die departement het boere gemaan om uiters versigtig te wees waar hulle varke aankoop, aanhou en ook wat hulle hul varke voer om dié siekte in hul kudde te voorkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dubbelsinnig ·

Die opskrif laat dit klink of die H1N1 virus (varkgriep) in Noordwes uitgebreek het

PaulV ·

Nee, dit is wat jy jouself wysgemaak het. Daar word nie in opskrif of die artikel enige melding gemaak van die H1N1-virus nie.

Hans Richardt ·

Alles gaan agteruit in SA , selfs boerderye…
Hoe moet mens positief bly? Vleis is vrek duur, brandstof is duur en politiek is gemors.

John ·

… en gaan die vleis nou op mense se tafels beland? Op watter aarde sal Afrika kombuisafval kook vir hul diere? Ons hoor nie van ‘n grootskaalse ingrype om die siek diere te vernietig nie, net kwarantyn…

Wonder ·

Is dit die betogers se betogings wat dit veroorsaak…. Vra net…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.