Uitdagings ten spyt ‘verloop stemmery glad’

Kiesers in Centurion wag om hul kruisies te trek. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Talle uitdagings by verskeie stempunte ten spyt is opposisieleiers tevrede dat stemmery tot dusver grootliks glad verloop.

John Steenhuisen, leier van die DA, sê verskeie probleme is onder meer in die Tshwane-metro aangemeld. Dit sluit in stemlokale wat laat geopen het, en skandeerders wat nie gewerk het nie wat die stemproses geweldig vertraag het. Dit het ook tot groot frustrasie onder kiesers gelei en in sommige gevalle so erg dat mense omgedraai het sonder om hul stem uit te bring.

Steenhuisen het egter ʼn beroep op kiesers gedoen om geduld te gebruik en wel te stem.

DA-leier John Steenhuisen vroeër vandag in KwaZulu-Natal. (Foto: DA)

“Mense moet besef dat hulle vir die volgende vyf jaar nie weer ʼn kans gaan kry om in ʼn plaaslike verkiesing te stem nie. Hulle moet elke stem laat tel.”

Steenhuisen het vroeër vandag in Durban gestem. Hy vertrek later na Nelson Mandelabaai en dan na Gauteng waar hy kiesers sal aanmoedig om hul kruisies te gaan trek.

Steenhuisen sê veel kan nog verander voordat stempunte vanaand om 21:00 sluit.

“Baie dinge kan in die volgende paar uur gebeur; ek sal nie nou ʼn voorspelling waag nie.”

Die DA-leier sê die “blou masjien” is landwyd ontplooi en hoewel miljoene mense reeds gestem het, is dit nodig dat selfs meer mense hul stem uitbring.

OVK ‘onkant betrap’

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, trek sy kruisie in Stilfontein, Noordwes. (Foto: VF Plus)

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het vroeër vanoggend in Stilfontein in Noordwes gestem. By hierdie stempunt het sake vlot verloop.

“Ek is verras met die opkoms van die mense, hulle het in groot getalle kom stem.”

Volgens Groenewald het die party wel van etlike probleme verneem. By een stempunt in die gebied het die lokaal teen omstreeks 11:00 steeds nie geopen nie, terwyl talle kiesers gekla het dat hulle name nie op die kieserslys verskyn nie, al het hulle aanlyn geregistreer en ʼn SMS as bewys van registrasie ontvang.

Die party is ook bekommerd dat mense wat spesiale stemme uitbring en die naweek by hul huise besoek is, se stembriewe nie gestempel is nie. ʼn Stembrief is nie geldig as dit nie op die agterkant gestempel is nie.

“Dit wek groot kommer,” sê Groenewald.

Hy sê die party gaan na afloop van die stemmery vra hoeveel ongestempelde briewe daar eindelik was.

“Ek is bekommerd oor die vermoëns van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK). Ek kry die idee hulle het gedink die verkiesing gaan eers in Februarie plaasvind.

“Ek dink hulle is onkant betrap. Baie kiesers word van hul stem ontneem weens logistieke probleme,” sê hy.

Groenewald sê hy dink ook al hoe meer kiesers steur hulle nie aan veldtogte dat ʼn stem vir ʼn kleiner party kwansuis ʼn gemorste stem is nie. “Ek dink kiesers begin hierdeur sien en mense besef hulle stemme tel steeds.”

Die VF Plus neem deel in 184 wyke en Groenewald sê dit lyk of sake vir die party goed verloop.

Mashaba vol vertroue

Die leier van Action SA, Herman Mashaba, by ‘n stempunt in Orlando-Wes. (Foto: Action SA/Twitter)

Herman Mashaba, leier van Action SA, sê ten spyte van kleiner probleme wat aangemeld is, is hy grootliks tevrede met die verloop van sake op stemdag.

Mashaba is ook Action SA se burgemeesterskandidaat in Johannesburg en sê hy glo die party kan ʼn meerderheid in die stad behaal.

“Ons gaan geskiedenis maak,” het hy Maandag aan Maroela Media gesê.

Indien die party nie ʼn meerderheid stemme behaal nie – en die kanse “lyk goed” dat die party sal, sal Action SA kyk na koalisies – maar nie met die “misdadige organisasie genaamd die ANC” nie, benadruk Mashaba.

“Daar is geen manier dat ek saam met die duiwel in die bed klim nie.”

‘Stem’ kan probleme help oplos

Dennis Bloem, woordvoerder van Cope, sê waar hy vanoggend by die Laerskool Elarduspark gaan stem het, het die stempunt laat geopen omdat iemand glo die kiesersrol vergeet het. Dis eers om 08:45 afgelaai.

Die party het ook ʼn beroep op kiesers gedoen om hul kruisies te gaan trek.

“As mense ontevrede is, moet hulle uitgaan om te gaan stem. Dit is net hul stemme wat die probleem regtig kan oplos. As hulle wegbly, gaan hulle dinge laat versleg.

“As hulle ontevrede is met dienslewering, stem die ANC uit. Dit is die enigste manier om probleme op te los… Daar is net een manier om hierdie probleem op te los en dit is om te gaan stem,” sê Bloem.

Uitslag nou in ‘kiesers se hande’

EFF-leier Julius Malema waai vir ondersteuners buite ‘n stempunt in Seshego, Limpopo. (Foto: EFF/Twitter)

Julius Malema, leier van die EFF, sê die party het alles moontlik gedoen om kiesers oor die lengte en breedte van die land te bereik. “Ons dink Suid-Afrikaners het ons boodskap gehoor en dit baie goed ontvang.”

Malema, wat vroegmiddag in Seshego in Limpopo gestem het, sê die party hoop nou vir die beste.

“Dit is nou in die hande van Suid-Afrikaners. Die jeug van Suid-Afrika moet nou in groot getalle gaan stem. Dit gaan oor hulle. Dit is oor die toekoms. Dit gaan oor ʼn belegging in die infrastruktuur en dienslewering van ons plaaslike munisipaliteite. Die jeug moet aan die voorpunt van hierdie stryd wees,” sê die leier van die rooi barette.

Oor kommer oor lae kiesersgetalle op stemdag sê Malema hy glo jong mense het besef hulle kan nie die stemmery aan hul ouers oorlaat nie en dat hulle wil deelneem.

“Ek dink nie daar is apatie onder die jeug nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Frik ·

Uiteindelik plaas Maroela Media iets van dr Pieter Groenewald en die VF Plus!

Karen ·

Elke liewe dingetjie in hierdie land is korrup, alles! Hoe weet ek, dat my stem sy bestemming gaan bereik en ñ verandering maak? Ek dink dit was ñ mors van tyd vandag.

Die Boerepompie ·

Dit altyd die selvde hulle weet dat daar voette is met stemmery maar hulle sal nie iets aan dit doen nie .asjy kyk na rsa in geheel is die land gebreek

Samuel ·

Hier in die Kaapse buurt waar ek woon, is daar ook frustrasie ivm name wat nie op kieserslys verskyn nie en gevalle waar man en vrou wat saam geregistreer is, skielik in verskillende afdelings moet stem. Bid jou nou aan.

Dit gaan so waar die ANC en hulle bedmaats, die OVK betrokke is.

Jerry ·

Ons het gaan stem maar al ons kinders en hul vriende stel net nie meer belang om te stem nie….hul se dis mors van tyd

Dirk Mostert ·

Om nie te stem nie is om ons land in die steek te laat. “Lamsak burger, gee my jou hand…….”

Harley Davidson ·

Politiek in Suid-Afrika het nog steeds ‘n rasse konektasie, die meerderheid mense is gat vol vir die ANC maar stem vir hulle hoekom stem hulle nie bv vir die VF+ nie

Lourens CFG ·

My seun het gister in Brackenfell 21h40 eers klaar gestem ná 4 uur 15 min. Toe hy uitstap sien hy die tou mense staan nog tot vêr buite.
Ek hoop maar hulle kon almal stem.
Daar was ook groot deurmekaarspul met die registrasies waar mense skielik in ander areas moes gaan stem, name wat nie op hul lyste is nie ens. Klomp mense het pad gegee sonder om te stem a.g.v. die lang wag.

Charl ·

Dan wonder hulle hoekom mense nie stem nie want die belangrikste wat gedoen moes word word ongedaan gemaak deur onbevoegde amptenare, die feite spreek vanself. Absoluut pateties !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.