Uiteenlopende menings kenmerk voorleggings oor onteiening

Argieffoto (Foto: Michal Jarmoluk/Pixabay)

Uiteenlopende menings het die eerste helfte van die openbare voorleggings in die parlement oor die beplande wysiging van artikel 25 van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding te vergemaklik, gekenmerk.

Die vakbondfederasie Cosatu se voorlegging is behartig deur hul parlementêre verteenwoordiger, Matthew Parks.

Cosatu ondersteun die grondwetwysiging omdat hulle meen dit sal ongelykheid verminder en die nalatenskap van die verlede takel soos in die Grondwet vooropgestel.

Parks het die roede nie gespaar nie betreffende die ANC-regering se onvermoë sedert 1994 om ‘n behoorlike grondhervormingsbeleid te bestuur, en het na die korrupsie en wanbestuur, asook die ongebalanseerde wyse waarop uitbetalings verreken is, verwys.

Luidens Cosatu se regsadvies (wat bots met baie ander belangegroepe s’n) is die inhoud van die voorgestelde wysiging rasioneel en is nul-vergoeding juridies verantwoordbaar indien dit so eng omskryf word as wat in die voorgestelde wysiging die geval is (ook dit strook nie met die siening van ander belangegroepe nie).

Cosatu het die onderskrywing van die howe as finale arbiter in geval van meningsverskil verwelkom.

Parks het uitgewys dat die oorgrote meerderheid mense in Suid-Afrika steeds bruin en swart is, en dat geen vergoeding uitbetaal is toe bruin, swart en Indiër in plekke soos Distrik Ses en Sophiatown onteien en daarvandaan verwyder is nie.

In sy voorlegging het adv. Maurice Pillemer namens die Suid-Afrikaanse Eiendomsbesittersvereniging (SAPOA) aangevoer ‘n grondwetlike wysiging is nie nodig nie, om twee tegniese redes en een substantiewe rede. Eerstens het hy gesê daar is botsings tussen die voorgestelde bewoording van die grondwetlike wysiging aan die een kant, en die Onteieningswetsontwerp wat tans voor die parlement dien aan die ander kant.

Tweedens het hy gesê praktiese ervaring toon die omstandighede van elke onteieningsgeval verskil, so daar moet opgepas word om een riglyn neer te lê vir alle gevalle.

Derdens het hy voorgestel dat die bewyslas by die voorgestelde nul-vergoeding altyd by die staat moet lê en dat gevalle van nul-vergoeding outomaties voor die hof moet dien vir uitsluitsel – dus nie vir die koste van die eiendomsbesitter nie.

Tydens vraetyd wou lede van die ANC en EFF weet of SAPOA wel ongelykheid erken, waarop Pillemer gesê het beslis, en dat hierdie grondwetwysiging nie daardie ongelykheid gaan verminder nie.

Floyd Shivambu, EFF-hoofsweep, het die outomatiese verwysing van nul-vergoedings na die hof verwerp omdat hy meen dit sal howe oorlaai, en gevra of Pillemer meen die huidige artikel 25 (7) van die Grondwet, wat bepaal dat diegene wat hul grond tussen 1913 en 1994 om rasgebaseerde redes verloor het op vergoeding en herstel van besit geregtig is, behoue moet bly.

Hierop het Pillemer bevestigend geantwoord.

Die landbou-organisasie AgriSA se voorlegging is deur hul hoofamptenaar, Christo van der Rheede, en hul parlementêre verteenwoordiger, Annelize Crosby, behartig.

Van der Rheede het die parlement daaraan herinner dat AgriSA 28 000 kommersiële boere van alle rasse in al nege provinsies verteenwoordig, asook 60 maatskappye en 26 kommoditeitsorganisasies soos Graan SA en ander.

Hy het benadruk dat AgriSA se navorsing omvattend en beskikbaar is.

Daarna het hy beklemtoon watter belangrike rol kommersiële landbou in voedselsekerheid speel, hoe die boerderybevolking rasgewys diversifiseer en hoe die landbou die Suid-Afrikaanse ekonomie gered het tydens die Covid-19-grendelstaat.

Van der Rheede het benadruk dat lande waar eiendomsreg sterk staan en uitgebou word, ekonomiese suksesverhale is, en lande waar die teenoorgestelde gebeur, ekonomiese mislukkings is.

Suid-Afrika is besig om terug te sak op die indeks wat hierdie kwessie meet en dit moet volgens Van der Rheede omgekeer word – eiendomsreg moet uitgebou word.

Crosby het bygevoeg dat AgriSA dus teen enige wysiging van artikel 25 is, en daarop aandring dat grondhervorming volhoubaar moet wees.

Sy het gesê artikel 25 is nie die probleem nie, en dit is onwaar dat die wysiging daarvan noodwendig sal beteken meer Suid-Afrikaners kan produktief bydra tot voedselsekerheid.

Sy het gesê die voorgestelde wysiging sal sleg wees vir plaaslike en internasionale beleggersvertroue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Yolande

Al wat hulle soek is ‘n oog vir ‘n oog.

Buks

Mense moet besef dit gaan nie oor grond nie of waardigheid of geregtigheid nie. Dit gaan oor alle, ALLE eiendom jou Bakkie is jou eiendom jou skape en beerste is jou eiendom , jou grassnyer en jou selfoon is jou eiendom. Jou VUURWAPENS ook. HULLE WIL TOTALE EIENAARSKAP EIS OP ALLES. Dis kriminele diefstal deur die regering dis al wat dit is.

Dirk Mostert

Uiteenlopende menings. Diegene sonder beskaafde standaarde soos respek vir ander se eiendom, wat gewoond is om alles verniet te kry en aan die ander kant die beskaafdes wat heel tereg nie hul swaarverdiende eiendom wil afstaan nie.