Uiteenlopende reaksie op Khoza se bedanking

Dr. Makhosi Khoza. Foto: ANA

Die ANC-veterane het Vrydag ʼn beroep op die voormalige ANC-LP Makhosi Khoza gedoen om haar besluit om uit die ANC te bedank te heroorweeg.

Die ANC-veterane het gesê Khoza moet nie die ANC “oorlaat aan diegene wat betrokke is by staatskaping en korrupsie nie”.

“Ons het kennis geneem van die besluit van comrade Makhosi Khoza om uit die ANC te bedank. Sy het in die manier waarop sy haar verantwoordelikhede in die parlement nagekom het ʼn beginselvaste standpunt ingeneem wat bó selfbelang is. Ons glo egter haar besluit, hoewel verstaanbaar, was nie die korrekte een nie en sy moet dit versigtig heroorweeg,” het die veterane in ʼn verklaring gesê.

“Sy moet nie die ANC oorlaat aan diegene wat betrokke is by staatskaping en korrupsie nie.” Die verklaring het verder aangevoer indien eerlike lede van die ANC uit die party bedank of nie hul stemme laat hoor nie, sal die ANC nie onthou word vir sy rol in die stryd om vryheid en vestiging van ʼn grondwetlike demokrasie nie, maar eerder vir die stank van korrupsie.

“Ons glo alle eerlike lede moet bly en saamstaan met ander wat ʼn einde wil sien aan hierdie nagmerrie wat ons land verswelg. Ons glo ook dat mense wat hul lidmaatskap laat verval het, weer lede van die organisasie moet word,” het die veterane gesê. “Ons kan nie toelaat dat ʼn leemte geskep word wat al groter word en net gevul word deur diegene wat hul lidmaatskap wil gebruik en misbruik om die toekoms van hierdie land van ons kinders en jeug te steel nie.”

Khoza het Donderdag aangekondig dat sy uit die ANC bedank omdat sy “wil afskeid neem van die nuwe uitheemse en korrupte ANC”. “Vandag verlaat ek die ANC, maar ek sal nooit die ANC se waardes verlaat nie. Ek verlaat die ANC van Jacob Zuma. Die ANC is in sy kern uiters korrup. Hulle beskik nie oor die organisasievermoë om dit wat verkeerd is, reg te stel nie. “Die ANC van Zuma het ʼn vinnig-rykwordskema geword terwyl ons arm mense by die dag armer word. Ek sal nooit my mense verraai nie.”

Die DA het in reaksie op Khoza se bedanking gesê dit is ʼn bewys daarvan dat die ANC nie in staat is om homself te korrigeer nie. “Dit is duidelik dat korrupsie die ANC se vermoë om in die beste belang van die mense van Suid-Afrika te regeer gekelder het,” het Refiloe Nt’sekhe, nasionale woordvoerder van die DA, gesê.

“Ons jong mense sukkel om werk te vind en jong moeders sukkel om hul kinders kos te gee en tog gaan die ANC voort om korrupsie te laat gedy en probeer om van morele en regverdige leiers in die organisasie ontslae te raak.”

Dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus, het gesê Khoza het met haar kritiek teenoor Zuma en die ANC haarself bewys as ʼn beginselvaste en dapper vrou. “Nadat dr. Khoza onlangs in die openbaar gevra het dat pres. Zuma moet bedank, is daar selfs doodsdreigemente teen haar gemaak. Sy het haar nie daardeur laat afskrik nie. Onlangs het sy ook geweier om haar aan die tugprosesse van ʼn party te onderwerp wat sy as ‘korrup en beginselloos’ beskryf het,” het hy gesê.

Hy het daarop gewys dat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, wat gister as ʼn ANC-LP ingehuldig is, daarteenoor gewys het “sy is bloot ʼn ANC-naprater wat vasbeslote is om die verdelende retoriek van die president na te volg met haar uitsprake oor onder meer wit monopolie-kapitaal”.

“Dit skets ʼn duidelike prentjie van die morele laagtepunt wat die regerende ANC bereik het. Die ANC moet wéét dat elke moreel onregverdigbare optrede ʼn druppel is wat die glas van die kieserspubliek se argwaan vul, en die vrugte hiervan sal in 2019 by die stembus gepluk word,” het Mulder gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Genieve ·

Kan jy glo wat die ANC hier verwag van die vrou nadat sy sleg behandel is oor die waarheid.Diegene binne die ANC het haar nie eers geondersteun toe sy zuma gevra het om te bedank nie.As ek sy is oorweeg ek dit nie eers nie.

MM ·

Nee wat Dr Khoza – Jy kan baie beter doen SONDER DIE ANC – GEE hulle genoeg tou en hulle hang hulle self. Dankie vir jou rug styf maak teen Zuma en sy korrupte metgeselle. Sterkte vir die toekoms.

Alida ·

Die ANC is bang vir haar. Ek hoop sy bring al hulle skandes en skelmstreke uit voor hulle haar uithaal want dit is mos hulle manier van doen. Raak ontslae van die eerlike en mense met integriteit.

FM ·

Lig loop Khozi! Daar is van die staatskapers en zumaliste wat nie van jou eerlike reguit standpunt hou nie. Slaap lig want hulle wil jou stil maak. Dis mos hulle modes operandi. Sterkte!

John ·

Maak eerder Dr KHoza public protector sy is eerlik en het murg in haar pype.

Adam ·

Kan iemand asb vir my verduidelik wat Me Khoza gedoen het wat so spesiaal is. Vir my lyk sy na ‘n gewone, eerlike, opregte ANC-politikus, iets wat in my boek ononderhandelbaar behoort te wees. Waaroor die bohaai?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.