Uiteenlopende reaksie op regering se luiperdjag-kwota

Argieffoto: https://en.wikipedia.org

Die departement van omgewingsake se omstrede aankondiging vroeër vandeesmaand dat sewe luiperds vanjaar in Suid-Afrika gejag mag word, het uiteenlopende reaksie tot gevolg gehad.

Terwyl sommige meen die departement se aankondiging is ʼn verdere bedreiging vir dié roofdier se bestaan, sê ander weer dat daar genoeg navorsing is om aan te dui dat die luiperdbevolking volhoubaar genoeg is om die kwota te regverdig.

Albi Modise, woordvoerder van die departement, het gesê dié nuwe kwota vervang die vorige twee jaar se kwota wat luiperdjag verbied het.

Vyf mannetjieluiperds mag vanjaar in Limpopo gejag word en twee in KwaZulu-Natal. Die luiperds moét sewe jaar of ouer wees.

“Dit is belangrik om kennis te neem dat die jag van luiperds slegs onderneem word in spesifieke jaggebiede waar wetenskaplike inligting aandui dat daar stabiele luiperdsyfers is,” het Modise gesê.

Volgens die departement het die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (Sanbi) verslae van die Nasionale Luiperd Moniteringsprojek sowel as ander insette oor luiperdgetalle in ag geneem voordat hy die aanbeveling oor die kwota gemaak het.

Sanbi het voorgestel dat die kwota geïmplementeer word in samewerking met onder meer die volgende riglyne: Die voortslepende bedreiging van die ongereguleerde handel in luiperdvelle deur religieuse groepe moet dringende aandag geniet aangesien beskikbare bewyse aandui dat die impak hiervan baie erger is as dié van trofeejag; en dat geen trofeejag moet plaasvind in omgewings waar luiperdgetalle afneem of waar daar nie genoeg wetenskaplike data bestaan oor luiperdgetalle nie.

Michele Pickover van die EMS-stigting, het aan die Conservation Action Trust (CAT) gesê dat die bestaande wette en regulasies nie voldoende is om aandag te gee die talle bedreigings wat luiperds in die gesig staar nie.

Pickover meen die departement se besluit is baie beperk en hoogs debatteerbaar. “ʼn Twee jaar moratorium is nie genoegsame tyd vir die nadelige en onvolhoubare effekte van trofeejag om omgeswaai te word nie en vir die effekte om ordentlik gemeet te word nie. Trofeejag is ʼn bedreiging vir hulle [luiperds] se voortbestaan en het ʼn negatiewe impak op hulle bewaringstatus,” het Pickover gesê.

Musa Mntambo, woordvoerder van Ezemvelo KwaZulu-Natal Wildlife, het egter gesê hulle doen elke jaar ʼn luiperdmoniteringsprogram in samewerking met Panthera, ʼn bewaringsorganisasie met spesifieke fokus op groot katte.

“Die metode van die studie is geskoei op gegronde wetenskaplike navorsing en daarom is ons oortuig dat die luiperdbevolking in sekere dele van die provinsie stabiel is. Ons beskou dit dus as volhoubaar dat twee luiperds in KwaZulu-Natal gejag word – dit is gegrond op ons moniteringsprogram.” het Mntambo gesê.

Mntambo het verder gesê dat persone wat aansoek doen vir permitte ʼn aanlyneksamen moet aflê om hul bevoegdheid om ʼn mannetjieluiperd ouer as sewe jaar te identifiseer, te toets. “Dit is aangetoon dat die skiet van mannetjies ouer as sewe jaar geen negatiewe impak op die populasie sal hê nie,” het Mntambo gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Bernard Hellberg ·

Gaan die ANC-skurke nou luiperdbiltong uitvoer na hulle nuwe base??

Ellisras ·

Boere/landbouers moet nie net ‘n aanslag van die ANC hanteer nie. Nee, wat erger is dat ons eie mense in AFRIKAANS ons nie ‘n bestaan gun nie. Luiperds vreet vleis. Bees rooibok skaap. En net soos ek en jy word hy elke dag honger.
Volgende keer as jy voor die vleis rak staan teen R120 per kg vra jouself af hoe lank jy kan bekostig om ‘n luiperd aan die lewe te hou.

Willem ·

Ellisras, mens het baie simpatie met jou, maar die luiperdjag, waaroor hier berig word, is ‘n kwota wat die minister daargestel het, nie om die boere se vee te beveilig nie, maar vir die uitvoer na China, soos ook met geblikte leeus se skelette. Dít is waarom die ongelukkigheid gaan. Die Chinese tradisionele genesers maak medisinale wyn van die beendere.

Willem ·

Ellisras, lees wat ek hier onder geskryf het, hierdie kwotas gaan nie daaroor om jou vee teen luiperds te beskerm nie, dit gaan daaroor om die beendere aan die Chinese mark te voorsien, waarvan hul tradisionele helers medisinale wyn maak. Ons weet van die skade wat die luiperd jou as boer aan rig, maar dit is ‘n gesprek wat nie deur die minister in aggeneem is nie.

Ook van daar ·

Ek het nerens die woord “China” gelees nie. Ek het self groot geword op n jagplaas. Ek weet watter verwoesting luiperds saai…ek weet wat dit is as n plaas van 10 000ha veronderstel is om net een luiperd te he (volgens “territoriale reels”), maar met 21 luiperds sit. Ek waarborg julle, daar word baie goed gekyk of luiperds werklik (eintelik) te veel is vir n sekere gebied, voor die permit uitgereik word. Dit is daarom dat die permit vir n sekere PLAAS uitgereik word en nie net “Limpopo” nie. Luiperds is my gunsteling dier, maar ek verstaan ook dat die ekologiese stelsel gebalanseerd moet wees om te verseker ALLE diere word in ag geneem – om n toekoms vir hul almal te verseker!

Willem ·

Ook van daar – Dit is so, hierdie berig dra ongelukkig nie daardie gedeelte nie, maar dit word elders volledig berig betreffende China en die tradisionele helers, soos wat ek hier bo gemeld het.

Vra net ·

Waarom wil mens ‘n luiperd jag – buiten vir jou eie selfsugtige redes. Kan nie biltong maak, dis net vir jag trofees (moord).

Varkie ·

Ek verdedig al jare as natuurwetenskaplike my standpunt teen enige vorm van jag, maar ongelukkig is daar mense met meer geld as breins en meen dat solank die diere en jagplase volhoubaar is, het hulle die reg om duisende rande te spandeer om n dier te jag, en ongelukkig in vandag se samelewing is geld koning. Dan is daar ook die konsep dat sommiges vir een of ander rede n innerlike behoefte het om n wapen in hul hande te he en n lewe te neem, en dat enige kritiek hieroor sterk verdedig sal word, maar ry nou hul hond of kat in die pad dood, dan is daar perde..

Francois le Cochon ·

Presies, waarom ‘n luiperd jag? Al rede waaraan ek kan dink, is die drang om met jou geweer en kamo-klere langs een van die mooiste diere in die natuur, wat jy doodgeskiet het, te sit met ‘n glimlag, sodat iemand ‘n foto van jou kan neem, en te dink, wat ‘n hero is ek nie!!

Paul ·

Francois, ek lees elders hierdie luiperdjag is weer net om China ter wille te wees.

Ellisras ·

Die luiperd is besig om my kalwers te vermoor. Ons het te veel Greenpeace aktivistiese wat nie ‘n idee het wat in die regte wêreld gebeur nie. Ek wil nie die luiperd jag nie, almal is welkom om die luiperd te kom oortuig om ‘n vegetariër te word.

Willem ·

Ellisras, mens het baie simpatie met jou, maar die luiperdjag, waaroor hier berig word, is ‘n kwota wat die minister daargestel het, nie om die boere se vee te beveilig nie, maar vir die uitvoer na China, soos ook met geblikte leeus se skelette. Dít is waarom die ongelukkigheid gaan. Die Chinese tradisionele genesers maak medisinale wyn van die beendere.

Paul ·

Wat die ongelooflikste betreffende die land is, die ANC regering het nou al so aangejaag, daar is nou nie meer ‘n departement of regeringsinstelling wat nie op sy kop maak staan is nie, onbevoegdheid, korrupsie, verkeerde besluite, sienswyses, slaan daagliks deur, maar dan druk hulle deur en beskou die tekortkominge as uitdagings om te oorkom. Nou die luiperdjag, wat volgende? Wanneer stop dit dan nou dat iets ‘n uitdaging moet wees?

Iemand het nou die dag gesê die Wildtuin het ‘n pretpark geraak. En dan is daar geblikte leeus in Limpopo waarvan die skelette uitgevoer word, ook agv minister Edna Molewa se toedoen.

Ellisras ·

Omdat een luiperd besig is my kalwers en lammers te onteien sonder vergoeding. Ek hoop as ek dit so stel sal iemand verstaan. Daar is baie wat graag die luiperd lewend wil hê. Ek wil graag my kalwers lewend hê. Niemand staan tou om my met my verliese te help nie.

Pietersburg ·

Net so Ellisras . n Klomp mense wil net eenkand van die muntstuk sien , en het geen idee wat se skade so n dier kan aanrig nie.

Willem ·

Ons weet presies wat se skade hulle kan aanrig, jy hou hulle nie in kampe nie, daardie gevalle word aangespreek, ek was al betrokke met so ‘n luiperd se jag, die anderkant van die munstuk is bewaring, en dan moet mens realisties wees en jouself afvra of jy die luiperd dan nou al gaande moet uitwis?

Lola ·

Ek is pro-jag, ek het ook simpatie met jou vee, onthou dit nou. My vraag aan jou is: Wil jy al die luiperds dood he? Want dit klink so. Jy klink bitter.

Se net ·

Ellisras – ek verstaan jou probleem – maar jy kyk net van een kant, net jou vee is vir jou belangrik. Hoekom nie kyk na ander alternatiewe nie, waarom die luiperd dood maak.

Ellisras ·

Die luiperd is besig om my kalwers te vermoor. Ons het te veel Greenpeace aktivistiese wat nie ‘n idee het wat in die regte wêreld gebeur nie. Ek wil nie die luiperd jag nie, almal is welkom om die luiperd te kom oortuig om ‘n vegetariër te word.

frans ·

“HY moet sewe jaar of ouer wees” So jy moet hom eers mooi vra hoe oud is hy voor die skoot klap ???

Ai ·

Ek hoop vir dié op hierdie forum wat vir dit is weet genoeg van luiperds af want julle sal eendag vir julle kleinkinders op ‘n prentjie moet sê wat se kattie dit is. So begin lees.

Tammy ·

Ellisras kla die mense oor n skamele R120 per kilogram rooivleis? Skande man, wat kos dit die boer om die vleis tot op die winklelrak te ry, klaar verpak en goedgekeur deur al die kanale vir higiene ens. Nee , man, Ek dink dis “robbery” teen R120-00. Dit moet dadelik R200 per kilogram rooivleis word. Definitief!!!!!
Gelukkig eet ek geen vleis of produkte wat vleis bevat nie.

SjN ·

Graag ontvang ek van die staat die riglyn hoe om die ouderdom te bepaal alvorens dit gejag mag word, die kleintjies vang ook kalwers.
Het hul geweet dat daar vir elke dag van die jaar op die luiperd se vel een kol is, en as jy sy stert optel is dit skrikkeljaar.

LouE ·

As jy wil weet hoe oud is ‘n luiperd dan lees jy ‘Under the Withaaks shade’. Oom Schalk vertel jou alles van groot en klein kolle. Nee, ons moet nie die diere skiet nie. Daardie sewe waarvan hulle praat is in elk geval nie Ellisras se luiperd nie. As jy al die vee wat ‘n luiperd vang optel dan is dit ‘n onbeduidende fraksie van die rooivleis bedryf. Miskien kan Ellisras eerder die luiperd vang en elders hervestig? Tensy hy probeer geldmaak uit die jag uit.

Casper Labuschagne ·

Slegs twee luiperds in KZN? Is die regering besig om hulself te bluf, die tradisionele seremonies van die Zoeloe volk vereis dat tientalle nuwe luiperdvelle jaarliks in gebruik kom. Ek het al meer as twintig individuele luiperdvelle in een seremonie in een kraal getel, gevolglik vermoed ek dat honderde luiperds jaarliks onwettig doodgemaak word om aan daardie aanvraag te voorsien. Maar dit is baie maklik om kwotas op te stel wat wetsgehoorsame groepe soos jagters beperk en per slot van sake stem daardie jagters nie vir die regerende party nie.

Willem ·

Die berig praat van ‘n kwota (7 in totaal) wat amptelik deur die departement goedgekeur is. Elders word berig dit is spesifiek vir die Chinese mark en hul tradisionele helers bestem. Dit maak sin, soos met die geblikte leeus waarvan die skelette ook na China uitgevoer sal word.

paul ·

te veel groen dink hulle is kenners wat niks weet van wild of katte nie.ellisras klop die kat as hy pla……..

Snort Offie ·

Daar is ‘n Engelse gesegde; “Nature hates an empty niche”. Dus, as daar ‘n lee nis is sal die natuur dit vul. Ek is nie onsimpatiek teen boere se verlies aan lewende hawe nie, maar tensy jy dit regkry om alle roofdiere van ‘n spesie uit te wis, gaan jou probleemdier deur die natuur vervang word as jy dit sou doodskiet.
Luiperds is ons mees suksesvolle groot roofdier wat die wydste verprei is, omdat hulle so aanpasbaar is. Daar as al meer as 40 prooispesies vir hulle op rekord; van insekte tot visse, honde en katte. Min heinings is teen hulle bestand en daarom gaan dit ‘n boer net tydelik help om ‘n “probleem” luiperd dood te skiet tensy luiperds plaaslik uitsterf (wat vir seker nie deur die jag van 7 diere veroorsaak gaan word nie). In die 90’s is daar 10 keer soveel permitte uitgereik per jaar.

Klip in die bos ·

Die minister het 7 luiperdvelle belowe ,groot mannetjie luiperds, “ingwe” vir die nuwe tradisionele leiers se “amambatha.” Die naels en tande is ook nodig. Die res is irrelevant, konserwasie,luiperdbevolking ens. maak nie saak nie. Verander die wetgewing , ek het die koning belowe!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.