‘Uiteindelik ʼn stap in die regte rigting vir Prasa’

Prasa (Foto verskaf deur Untu)

Die hooggeregshof het Vrydag in ʼn hofbevel die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) opdrag gegee om die veiligheidsvereistes van die Spoorwegveiligheidsreguleerder (RSR) te gehoorsaam.

Die United National Transport Union (UNTU) het dié bevel van regter Cassim Sardiwalla verwelkom.

“Vir die eerste keer het die hof die belangrikheid van Prasa se verpligting erken om te verseker dat hulle ʼn veilige en betroubare diens vir werkers wat dit moet bedryf en die pendelaars wat daarop staatmaak, verskaf. Regter Sardiwalla het dié saak as ʼn saak van nasionale belang bestempel en ons is dit absoluut eens,” het Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, gesê.

Maroela Media het vroeër berig  Blade Nzimande, minister van vervoer, het Maandag ʼn beroep gedoen dat die RSR en Prasa buite die hof tot ʼn vergelyk kom ter wille van die miljoene pendelaars wat daagliks van Metrorail gebruik maak.

Dít het gekom ná berigte dat die RSR dalk Prasa se bedryfspermit kan opskort.

Die RSR het ʼn kennisgewing op Prasa beteken dat dit van voorneme is om die spooragentskap se veiligheidspermit op te skort.

Untu het regter Sardiwalla bedank dat hy Nzimande as derde respondent in die saak bygevoeg het. “Dit beteken dat die minister aan wie die RSR en Prasa moet verantwoording doen, nou deur die hof aanspreeklik gehou sal word om te verseker dié bevel word nagekom,” het Harris gesê.

Regspanne van Prasa en die RSR het die afgelope twee dae ʼn omvattende plan uitgewerk om aandag te gee aan die bekommernisse wat die RSR gehad het toe hulle Prasa se veiligheidspermit opgeskort het.

Untu meen dié plan, wat nou ʼn bevel geword het, behoort te verseker dat Prasa se swak implementering van die verbale magtigingsproses hanteer word. “Van nou af sal ʼn treinbeheerbeampte en ʼn afdelingshoof oor dié proses toesig hou .”

Volgens Harris beperk dít die risiko van menslike foute soos in die geval van al die Prasa-treinongelukke in Gauteng die afgelope twee jaar.

Buiten ander vereistes word Prasa steeds verhoed om sy nuwe stedelike pendeltrein te gebruik sonder vooraf goedkeuring deur die RSR.

Harris meen dié bevel gee die RSR ten minste “bietjie tande”. “Tot op hede het Prasa net alle nakomingskennisgewings wat die RSR uitgereik het, geïgnoreer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hannetjie ·

Uiteindelik kan persone wat buitensporige salarisse
verdien,nou tot verantwoording gedwing word.Landsburgers wat uitermatige hoe belasting betaal, is siek en sat vir die ‘vuurmakery’ as daar nie aan hulle klagtes aandag gegee word.Mens kan dit ook verstaan…geen dienste word na behore gelewer nie.

Eish ·

Hoe ver het ons nie geval nie!
Dat die hof die bestaande reëls, regulasies en wette moet afdwing aangesien die gesagsliggaam wat die toepassing doen, as n lastigheid beskou word.
Geen wonder Fluitjie Sibangnie skop verwoed daarteen dat hy uitgevang is as deel van die VBS stropery.

1+1 ·

“Uiteindelik ‘n stap in die regte rigting??? ,Dit beteken net mooi niks!!!” Waarom moet ‘n staatsentiteit eers byna vernietig word voordat daar daarwerklik opgetree word. ‘n Mens verwag dit nie van die howe om dieselfde mentaliteit te openbaar as die man op straat nie. Dit wil voorkom of selfs die howe ongeerg staan oor die miljoene rand van belastingbetalers se geld wat vermors word, omdat hulle NIE BETYDS INGRYP en doen wat hulle MOET doen nie. Waar is die versiendheid en proaktiewe optrede van individue wat belangrike posisies in ons land beklee?? As hulle hierdie eienskappe nie het nie, moet hulle verwyder word. Dis hoogtyd dat daar NOU drastiese aksies geneem word deur die BELASTINGBETALERS van die land wat toekyk hoe hulle belastinggeld vermors word.!!!

Adriaan ·

Wie betaal vir hierdie hof uitspraak? Daar is geen koste bevel gemaak nie. Blade moet die koste uit sy eie sak betaal!!! So ook die bestuur wat die reels verontagsaam.

1+1 ·

Adriaan kyk na die hele prentjie asb. nie net na hierdie uitspraak nie. Prasa het ‘n geskiedenis.

Adriaan ·

Wie betaal die regskostes? Daar is geen koste bevel nie. Blade en die bestuur moet persoonlik aanspreeklik gehou word vir die saak

Andre ·

Die howe is gekaap deur die ANC. Al die kriminele in die regering moet hulle hofsake nou afhandel, soos bv Schabir Shaik sin. Want volgende jaar kan die verkiesing die dinge omkrap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.