ʼn Polisieman het Sondag sy vrou, ook ʼn polisiebeampte, by hul huis in Uitenhage in die Oos-Kaap doodgeskiet, waarna hy glo selfmoord gepleeg het.
Volgens kol. Sibongile Soci, ʼn polisiewoordvoerder, was die 33-jarige vrou ʼn sersant by die Uitenhage-polisiestasie. Haar man was ʼn konstabel by ʼn ander stasie.
“Voorlopige ondersoek dui daarop dat die man sy vrou, en toe homself geskiet het. Albei is op die toneel dood,” het Soci gesê.
Die egpaar se bure het die polisie ontbied nadat hulle die geweerskote gehoor het.
ʼn Polisievuurwapen is op die toneel gevind. Die polisie ondersoek die saak.