Uiterste hitte vir Weskus voorspel

hittegolfInwoners aan die Weskus, in die Wes-Kaap en dele van die Noord-Kaap moet gereed maak vir uiters warm weersomstandighede, het die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) gesê.

“Uiters hoë brandgevaartoestande word Dinsdag langs die kus en die aangrensende binneland van die Noord-Kaap, die Weskus-distrik en die suid-westelike dele van die Kaapse Wynlande-distrik verwag,” het Lulama Pheme, ʼn weervoorspeller by die SAWD, gesê.

Pheme het gesê uiters ongemaklike toestande word langs die kus en oor die Noord-Kaapse binneland verwag en dat die hitte sal uitbrei na die oostelike binneland van die Wes-Kaap. “Uiters warm toestande word oor die Weskus-distrik en in plekke oor die westelike binneland van die Noord-Kaap verwag.”

Pheme het gesê daar is ʼn aanduiding dat Gauteng en Noordwes in die volgende paar dae ook weer warm weersomstandighede kan verwag, maar dat dit nog te vroeg is om te bevestig.

Elsa de Jager, ʼn klimatoloog by die SAWD, het gesê hoewel daar die afgelope week baie warm dae in Gauteng was, daar al warmer dae in die verlede was.

Volgens De Jager is Pretoria se warmste dag op 24 November 1941 aangeteken toe die kwik tot 39,2°C gestyg het by Onderstepoort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.