Uitgelekte brief wys ANC-ondermyning van Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

ʼn Brief gestuur deur ʼn ampsdraer van die ANC in Limpopo waarin bondgenote van pres. Cyril Ramaphosa in die provinsie beswadder word en ernstige bewerings van onminsaaiery teen hulle gemaak word, word nou op sosiale media versprei.

Die brief is ʼn aanduiding van die lae vlak waarop Ramaphosa voortdurend binne die ANC ondermyn word deur sekere populistiese denkgroepe wat nie bekend is om hul sterk standpunt teen korrupsie nie.

Die brief is opgestel deur Dan Lehong, ʼn laevlak ampsdraer van die ANC. Hy is die sekretaris van die ANC se Molemole-substreek. Molemole was vroeër bekend as Dendron, ʼn baie klein dorpie sowat 60 km nood van Polokwane op die stil pad na Vivo, Alldays en Pontdrif. Dit is op haas elke definiërende vlak ʼn uiters agtergeblewe gebied.

Lehong se brief bevat uiters vae, ongesubstandieerde maar potensieel giftige bewerings teen die hooggeplaaste Ramaphosa-bondgenote Jackson Mthembu, dr. Aaron Motsoaledi (wie se naam verkeerd gespel word deur Lehong), dr. Joe Phaahla, Dipuo Letsatsi-Duba, Dickson Masemola Soviet Lekganyane, Charlie Sekwati, Anderson Mudunungu, Philly Mapulane en Khumbuzo Ntshaveni.

Mthembu, Motsoaledi en Ntshaveni is tans in Ramaphosa se nasionale kabinet en Phaahla is ʼn adjunkminister. Letsatsi-Duba is ʼn voormalige minister en die ander is invloedryke politici in Limpopo.

Jackson Mthembu (Foto: Maroela Media)

Lehong se bewerings is dat dié Ramaphosa-bondgenote vergader het om verskeie kwessies te bespreek en besluite te neem.

Lehong beweer die vergaderings het deurgaans in die nag plaasgevind.

Die beweerde besluite is eerstens dat ANC-takke in Limpopo ANC-besluite moet verontagsaam en ondermyn, spesifiek die besluit deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee dat Danny Masiza as provinsiale tesourier en Florence Radzilani as burgemeester van die Vhembe-distriksmunisipaliteit heraangestel moet word ten spyte van die bevindings oor hul noue betrokkenheid by grootskaalse korrupsie en selfverryking tydens die VBS-fiasko.

Die tweede besluit was glo om ANC-strukture te ondermyn, te bevraagteken en te ontwrig sodat die provinsiale en streekbesture van die ANC in Limpopo ontbind kan word.

Die derde beweerde besluit was om Limpopo te destabiliseer sodat Stan Mathabatha as premier vervang en die kabinet hersaamgestel kan word.

Hoegenaamd geen bewyse word vir die bewerings aangevoer nie, maar in politieke kringe word gemeen dis ʼn baie deursigtige slenter om ʼn klag – enige klag – teen die betrokkenes ingedien te kry sodat daar bewerings (van wat ook al) teen hulle ook is, met die doel om te voorkom dat Masiza en Radzilani uit hul poste verwyder word weens die bevindings (deur ʼn kommissie van ondersoek; nie ʼn hof nie) teen hulle – selfs al is die korrupsie-feitestel heeltemal onvergelykbaar met hierdie onbewese bewerings.

Boonop beweer Lehong die gedrag van die betrokkenes was in stryd met die inperkingsregulasies en help die verspreiding van die koronavirus aan. Hy vra dus ʼn ondersoek en dringende optrede.

Lehong het sy brief gestuur aan die sekretaris-generaal van die ANC, Ace Magashule, en die hele NUK van die party. Boonop het die feit dat die bewerings nou ook op sosiale media versprei word, verseker dat die onbewese smeerveldtog soveel impak as moontlik maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

marius ·

“n Smeer veldtog het ten doel wees om iemand se goeie naam of integriteit te beswadder . Daar kan derhalwe geen sprake wees daarvan nie .

Sarel ·

Ongelukkig blyk dit dat hy nie die murg het om dit teen te staan nie. Magashule self is Zuma man en nie Rhanaphosa nie. Hy sal moet begin wys waartoechy in staat is of ons gaan grotet korrupsie as Zuma sien. Hy kan dan niemand aansorefk en vasvat nie en betoep hom verdagte wette en regulasies.

Kokkie ·

Hond vreet hond. Comrade vreet comrade. En kaders vreet kaders.

Nell ·

”Onze” president het vir jare lank as adjunk president onder Zuma gedien en nie ‘n woord gerep oor die bedrog en misdaad waarvan hy moes bewus gewees het nie… dus is dit te laat om nou te huil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.